GENESIS 28:1-16

GENESIS 28:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Isak het vir Jakob geroep en hy het hom geseën en gegroet. Hy het vir hom gesê: “Jy mag nie trou met 'n meisie van Kanaän nie. Jy moet na die land Paddan-Aram gaan, na jou oupa Betuel se familie toe, jy moet met een van die dogters van jou oom Laban trou. God die Almagtige sal jou seën. Hy sal jou vrugbaar maak en Hy sal vir jou 'n groot nageslag gee. Jy sal die voorvader van 'n baie groot volk word. God sal jou seën soos Hy vir Abraham geseën het. Hy sal jou en ook jou nageslag seën. Hy sal vir jou die land gee waar jy nou 'n vreemdeling is. Dit is die land wat Hy vir Abraham gegee het. Dit sal jou land wees.” So het Isak vir Jakob weggestuur. Jakob het na Paddan-Aram gegaan, na die Arameër Laban toe. Laban was die seun van Betuel en die broer van Rebekka. Rebekka was Jakob en Esau se ma. Esau het gesien dat Isak vir Jakob geseën het en hom weggestuur het na die land Paddan-Aram. Isak het vir Jakob gesê dat hy moet gaan trou met een van daardie meisies. Isak het hom geseën en gesê hy mag nie trou met een van die meisies van die land Kanaän nie. Esau het gesien dat Jakob na sy pa en ma geluister het en na Paddan-Aram gegaan het. Hy het besef dat sy pa Isak nie van die meisies van Kanaän hou nie. Toe gaan Esau na Ismael toe. Ismael was Abraham se seun. Esau het ander vroue gehad, maar hy trou toe ook met Magalat, Ismael se dogter. Sy was Nebajot se suster. Jakob het van die stad Berseba na die stad Haran gegaan. Toe die son ondergegaan het, het hy by 'n plek gekom waar hy die nag kon slaap. Hy het 'n klip onder sy kop gesit en hy het aan die slaap geraak. Hy het gedroom dat daar 'n leer op die aarde staan, en die boonste punt van die leer is in die hemel. Die engele van God het op en af geklim teen die leer. Toe kom staan die Here by hom en Hy sê vir Jakob: “Ek is die Here, die God van jou oupa Abraham en die God van jou pa Isak. Hierdie land waar jy nou is, sal Ek vir jou en jou nageslag gee. Jou nageslag sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal nog meer grond kry, na die weste, na die ooste, na die noorde en na die suide. Al die volke van die aarde sal My vra om hulle te seën soos Ek jou en jou nageslag sal seën. Ek sal by jou wees en Ek sal jou beskerm op elke plek waar jy gaan en Ek sal jou terugbring na hierdie land. Ek sal jou nooit los nie totdat Ek gedoen het wat Ek vir jou belowe het. Dit is seker.” Toe Jakob wakker word, sê hy: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie.”

GENESIS 28:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE het Isak Jakob geroep en hom geseën; en hy het hom bevel gegee met die woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie. Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar 'n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer. En mag God, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy 'n menigte van volke kan word. En mag Hy jou gee die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat God aan Abraham gegee het. So het Isak Jakob dan weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, die seun van Bétuel, die Arameër, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en Esau. Toe Esau sien dat Isak Jakob geseën en hom na Paddan-Aram weggestuur het om daar vir hom 'n vrou te gaan haal, terwyl hy hom geseën en hom bevel gegee het met die woorde: Jy mag geen vrou uit die dogters van Kanaän neem nie; en dat Jakob na sy vader en sy moeder geluister het om na Paddan-Aram te gaan; en toe Esau sien dat die dogters van Kanaän sleg was in die oë van sy vader Isak, het Esau na Ismael gegaan en Máhalat, die dogter van Ismael, die seun van Abraham, die suster van Nébajot, by sy vroue vir hom as vrou geneem. En Jakob het uit Berséba vertrek en na Haran gegaan. Daarop kom hy by 'n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op dié plek. En hy het gedroom — daar is 'n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie.

GENESIS 28:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe roep Isak vir Jakob en neem van hom afskeid en sê vir hom: “Jy mag nie met 'n Kanaänitiese meisie trou nie. Gaan na Paddan-Aram toe, na die huis van jou ma se pa Betuel toe, en trou daar met 'n dogter van jou oom Laban. God die Almagtige sal jou seën: Hy sal jou vrugbaar maak en jou 'n groot nageslag gee. Jy sal 'n baie groot volk word. Hy sal jou die seën laat toekom wat Hy aan Abraham gegee het: jy en jou nageslag sal die land waarin jy woon, as besitting ontvang, die land wat God aan Abraham gegee het.” So het Isak toe vir Jakob weggestuur, en hy is na Paddan-Aram toe, tot by die Arameër Betuel se seun Laban, broer van Rebekka die ma van Jakob en Esau. Esau het te wete gekom dat Isak afskeid geneem het van Jakob en dat Isak hom na Paddan-Aram toe gestuur het om daar te gaan trou, want toe Isak vir Jakob gegroet het, het hy vir hom gesê: “Jy mag nie met 'n Kanaänitiese meisie trou nie.” Toe Esau verneem dat Jakob na sy pa en ma geluister het en na Paddan-Aram toe is, het Esau geweet dat sy pa Isak nie van die Kanaänitiese meisies gehou het nie. Daarom het Esau na Ismael toe gegaan, en by die vrouens wat hy gehad het, nog 'n vrou gevat: Magalat dogter van Ismael, Abraham se seun. Sy was die suster van Nebajot. Jakob is van Berseba af weg na Haran toe. Teen sononder het hy by 'n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar 'n klip vir 'n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap. Hy het gedroom: 'n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer. Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.” Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

GENESIS 28:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Isak het Jakob geroep en hom geseën. Hy het hom opdrag gegee en vir hom gesê: “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie. Maak gereed, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Betuel, jou ma se pa, en bring vir jou daarvandaan 'n vrou uit die dogters van Laban, jou ma se broer. Mag God, die Almagtige, jou seën, jou vrugbaar en talryk maak, sodat jy 'n skare van volke word. Mag Hy vir jou die seën van Abraham gee, vir jou en jou nageslag saam met jou, sodat jy die land waar jy as •vreemdeling woon, in besit kan neem – die land wat God vir Abraham gegee het.” So het Isak vir Jakob weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, seun van Betuel, die Arameër, die broer van Rebekka, Jakob en Esau se moeder. Esau het besef dat Isak vir Jakob geseën en hom na Paddan-Aram gestuur het om vir hom daarvandaan 'n vrou te bring, en dat Isak, toe hy hom geseën het, hom beveel het, “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie,” en dat Jakob na sy vader en moeder geluister en na Paddan-Aram gegaan het. So het Esau besef dat die Kanaänitiese vroue sleg was in Isak, sy vader, se oë. Esau het toe na Ismael gegaan en by die vroue wat hy reeds gehad het, ook Magalat, die dogter van Ismael, seun van Abraham, en suster van Nebajot, vir hom as vrou geneem. Jakob het uit Berseba vertrek en na Haran gegaan. Hy kom toe by 'n plek en oornag daar, want die son was al onder. Hy het een van die klippe van die plek geneem, dit as sy kopstut neergesit en op daardie plek gaan lê. Hy droom toe: Kyk, daar is trappe wat op die aarde staan, waarvan die bopunt na die hemel reik. Daar was boodskappers van God wat daarlangs op- en afgaan! En kyk, die HERE staan bo-aan die trappe en sê: “Ek is die HERE, die God van jou voorvader Abraham, en die God van Isak. Die grond waarop jy lê – aan jou en jou nageslag gee Ek dit. Jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde. Jy sal uitbrei na die weste, die ooste, die noorde en die suide. Deur jou en jou nageslag sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees. Kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou beskerm oral waar jy gaan. Ek sal jou laat terugkeer na hierdie land, want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou beloof het.” Jakob het uit sy slaap wakker geword en gesê: “Waarlik, die HERE is op hierdie plek en ek, ek het dit nie besef nie!”

GENESIS 28:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Isak het Jakob geroep en hom geseën en hom bevel gegee en vir hom gesê: Jy mag geen vrou uit die dogters van Kanaän neem nie. Staan op, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Betuel, jou moeder se vader; en neem vir jou daarvandaan 'n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer. En God, die Almagtige, seën jou en maak jou vrugbaar en vermeerder jou, sodat jy 'n menigte van mense kan wees; Gee jou die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou; dat jy die land kan beërwe waarin jy 'n vreemdeling is wat God aan Abraham gegee het. En Isak het Jakob weggestuur, en hy het na Paddan-ram gegaan na Laban, die seun van Betuel, die Arameër, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en Esau. Toe Esau sien dat Isak Jakob geseën het en hom na Paddan-Aram laat gaan het om vir hom daarvandaan 'n vrou te neem; en terwyl hy hom seën, het hy hom bevel gegee en gesê: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie; En dat Jakob sy vader en sy moeder gehoorsaam het en na Paddan-Aram gegaan het; en toe Esau sien dat die dogters van Kanaän sy vader Isak nie behaag het nie; het Esau na Ismael gegaan en vir sy vrouens geneem vir Mahalat, die dogter van Ismael, Abraham se seun, die suster van Nebajot, om vir hom as vrou te wees. Jakob het uit Berseba uitgetrek en na Haran gegaan. En hy het op 'n sekere plek verlig en die hele nag daar gebly, omdat die son ondergegaan het; en hy het van die klippe van daardie plek geneem en dit vir sy kussings neergesit en op daardie plek gaan lê om te slaap. En hy het gedroom, en daar staan 'n leer op die aarde, en die top daarvan reik tot aan die hemel; en kyk, die engele van God klim daarop en daal daarop neer. Kyk, die HERE het daarbo gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak; die land waarop jy lê, sal Ek dit aan jou gee en aan jou nageslag; En jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en na die ooste en na die noorde en na die suide; en in jou en in jou nageslag sal al die geslagte van die aarde wees geseënd. Kyk, Ek is met jou en sal jou bewaar op al die plekke waarheen jy gaan, en sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat voordat Ek gedoen het wat Ek met jou gespreek het nie. En Jakob het uit sy slaap wakker geword en gesê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek; en ek het dit nie geweet nie.

GENESIS 28:1-16 Die Boodskap (DB)

Isak het Jakob toe geroep en vir hom gesê: “Moet tog nie met een van hierdie Kanaänitiese vroue trou nie. Gaan liewers na jou oupa Betuel toe. Hy woon in Paddan-Aram. Loop trou eerder met een van jou oom Laban, jou ma se broer, se dogters. En mag die almagtige God jou help. Mag Hy by jou wees en mag jy baie kinders hê. En mag jou nageslag so groot wees dat julle sommer ’n groot volk sal word. Mag die Here so naby aan jou en jou nageslag wees soos Hy vroeër naby aan Abraham was. En mag die Here vir jou die land gee waarop jy nou as vreemdeling loop; die land wat die Here destyds al aan Abraham beloof het.” Isak het sy seun gegroet en Jakob is daar weg. Hy het reguit koers gekies Paddan-Aram toe. Hy was op pad na sy oom Laban toe. Laban was die seun van Betuel, die Arameër en die broer van Rebekka, Jakob en Esau se ma. Esau was van alles bewus. Hy het gesien toe Isak vir Jakob gegroet het. Hy het gehoor hoe sy pa vir Jakob geseën het en vir hom gesê het om tog nie met ’n Kanaänitiese vrou te trou nie. Dit het hom opgeval hoe gehoorsaam Jakob aan sy ouers was, want hy het sy goed gevat en Paddan-Aram toe gegaan. Esau het hieroor nagedink en besef dat sy Kanaänitiese vroue vir sy pa ’n bitter ding is. Hy het besluit om na sy oom Ismael toe te gaan. Ismael was ’n ander seun van Abraham by ’n Egiptiese vrou, Hagar. Esau het reeds vroue gehad, maar het toe ook nog met Ismael se dogter Magalat getrou. Sy was die suster van Nebajot. Jakob het Berseba verlaat en Haran toe gegaan. Teen die aand se kant het hy by ’n plek gekom en besluit om sommer daar te oornag. Hy het een van die klippe wat daar rondgelê het, geneem en dit as kussing gebruik. Toe het hy net daar gaan lê en aan die slaap geraak. Wat ’n droom het hy nie gehad nie! Daar was ’n baie lang leer, van die grond tot bo by die hemel. Die engele van God het op en af met die leer geklim. Skielik het die Here daar by hom gestaan en met hom gepraat: “Jakob, Ek is die Here, die God van jou oupa Abraham en jou pa, Isak. Die grond waarop jy nou lê en slaap, sal Ek eendag vir jou en jou nageslag gee. Jou nageslag sal so ontelbaar wees soos die stof van die aarde. Hulle sal ook oral oor die aarde wees, in die weste en die ooste, in die noorde en die suide. Oor die hele wêreld sal dit met mense goed gaan omdat hulle deel van jou en jou nageslag is. Onthou een ding, Jakob: Ek is by jou. Ek gaan saam met jou waar jy ook al gaan. Eendag sal Ek jou weer na hierdie plek en hierdie land terugbring. Ek sal jou nie los voordat Ek al my beloftes aan jou waar gemaak het nie.” Jakob het wakker geskrik en verdwaas om hom rondgekyk. Hy sê toe: “Die Here is op hierdie plek. Hy bly hier en ek het dit nie eens geweet nie.”

GENESIS 28:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Isak roep toe vir Jakob. Hy seën hom en sê: “Jy moenie met enige van hierdie Kanaänitiese vroue trou nie. Gaan eerder na Paddan-Aram toe, na die huis van jou oupa Betuel, en trou met een van jou oom Laban se dogters. Mag God die Almagtige jou seën en vir jou baie kinders gee. Mag Hy jou ’n groot nasie maak. Jy en jou nageslag sal die beloftes aan Abraham ontvang. Hierdie land waar ons nou as vreemdelinge woon, sal die eiendom van jou nageslag word, want God het dit reeds aan Abraham gegee.” Isak het toe vir Jakob weggestuur. Hy het na Paddan-Aram toe vertrek, na sy ma se broer Laban, die seun van Betuel die Arameër. Esau het geweet dat sy pa vir Jakob geseën en Paddan-Aram toe gestuur het om daar ’n vrou te kry. Toe hy Jakob geseën het, het hy hom gewaarsku: “Jy moenie met ’n Kanaänitiese meisie trou nie.” Hy het ook gehoor dat Jakob gehoorsaam was aan sy ouers en na Paddan-Aram toe vertrek het. Dit was vir Esau duidelik dat sy pa nie van die plaaslike Kanaänitiese vroue gehou het nie. Daarom gaan hy na sy oom Ismael toe en trou met Magalat, dogter van Abraham se seun Ismael, en suster van Nebajot. Dit was benewens die vroue wat hy reeds gehad het. HERE Jakob is van Berseba af weg en het na Haran toe vertrek. Teen sononder kom hy by ’n geskikte plek aan waar hy kon oornag. Hy neem toe een van die klippe van die plek en sit dit by sy kop neer. Toe gaan lê hy om te slaap. Dié nag droom hy dat hy ’n leer sien wat op die aarde staan met die bopunt in die hemel. Engele van God het daarmee op en af geklim. Die HERE het aan die bokant van die leer gestaan en vir hom gesê: “Ek is die HERE, die God van jou voorvader Abraham en die God van Isak. Die grond waarop jy lê, gee Ek vir jou en jou nageslag. Jou nageslag sal so baie wees soos die stof van die aarde. Hulle sal versprei na die ooste en die weste, en na die noorde en die suide. Al die mense op aarde sal deur middel van jou nageslag geseën word. Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou weer terugbring na hierdie land toe. Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het.” Toe Jakob wakker word, sê hy: “Sowaar! Die HERE is op hierdie plek, en ek het dit nie eers geweet nie!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid