Genesis 27:1-45

Genesis 27:1-45 AFR20

Toe Isak al oud was en sy oë so verswak het dat hy nie meer kon sien nie, het hy Esau, sy oudste seun, geroep en vir hom gesê: “My seun!” Hy het hom geantwoord: “Ja, pa?” Isak sê toe: “Kyk, ek is oud. Ek ken nie my sterfdag nie. Neem nou jou jaggereedskap, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit veld toe en jag vir my 'n stuk wild. Berei dan vir my 'n smaaklike gereg voor soos ek daarvan hou, en bring dit vir my, sodat ek kan eet en jou kan seën voordat ek sterf.” Rebekka het geluister toe Isak met sy seun Esau praat. Toe Esau veld toe gaan om 'n stuk wild te jag om dit te bring, sê sy vir haar seun Jakob: “Kyk, ek het jou pa vir jou broer Esau hoor sê, ‘Bring vir my wildsvleis en berei vir my 'n smaaklike gereg voor, sodat ek kan eet en jou in die teenwoordigheid van die HERE kan seën voor my dood.’ My seun, luister dan nou na wat ek jou beveel! Gaan na die kleinvee en bring vir my daarvandaan twee mooi bokkies, sodat ek hulle as 'n smaaklike gereg vir jou pa kan voorberei – soos hy daarvan hou. Dan moet jy dit vir jou pa neem, dat hy kan eet, sodat hy jou kan seën voor sy dood.” Maar Jakob het vir Rebekka, sy moeder, gesê: “Kyk, my broer Esau is 'n harige man, en ek het 'n gladde vel. Miskien raak my pa aan my, dan sal ek in sy oë iemand wees wat die spot dryf. Ek sal dan 'n vloek oor my bring en nie 'n seën nie.” Sy moeder het egter vir hom gesê: “Op my kan jou vloek maar rus, my seun. Luister net na my en gaan haal dit vir my!” Hy het dit toe gaan haal en vir sy moeder gebring. Sy moeder het 'n smaaklike gereg voorberei, soos sy vader daarvan hou. Toe neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan. Die vel van die bokkies trek sy toe oor sy arms en oor die gladde deel van sy nek, en sy oorhandig die smaaklike gereg en die brood wat sy voorberei het, aan haar seun Jakob. Toe hy by sy vader kom, sê hy: “My vader!” Hy het geantwoord: “Ja? Wie is jy, my seun?” Jakob sê toe vir sy vader: “Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen wat u vir my gesê het. Kom regop, sit en eet van my wildsvleis, sodat u my kan seën.” Toe vra Isak vir sy seun: “Maar hoe het jy dit dan so gou gekry, my seun?” Hy het geantwoord: “Omdat die HERE u God dit vir my so laat gebeur het.” Isak sê toe vir Jakob: “Kom bietjie nader, sodat ek aan jou kan voel, my seun, of jy werklik my seun Esau is of nie.” Jakob gaan toe nader aan Isak, sy vader, en hy voel aan hom. Toe sê hy: “Die stem is die stem van Jakob, maar die arms is die arms van Esau.” Hy het hom egter nie herken nie, want sy arms was harig, soos sy broer Esau se arms. So het hy hom geseën. Hy het gevra: “Is jy werklik my seun Esau?” En hy het gesê: “Ek is.” Hy sê toe: “Bring die gereg vir my nader; ek wil van die wildsvleis van my seun eet, sodat ek jou kan seën.” Hy het dit vir hom nadergebring en hy het geëet. Hy het ook vir hom wyn gebring en hy het gedrink. Isak, sy vader, het vir hom gesê: “Kom tog nader en soen my, my seun!” Jakob het nader gegaan en hom gesoen. Toe Isak die reuk van sy klere kry, het hy hom geseën en gesê: “Kyk, die reuk van my seun is soos die reuk van die veld wat die HERE geseën het. Mag God jou van die dou van die hemel gee, en die vrugbaarste dele van die aarde, 'n oorvloed koring en •nuwe wyn. Volke sal jou dien en nasies sal diep voor jou buig. Wees 'n heerser oor jou broers, sodat die seuns van jou moeder diep voor jou sal buig. Hulle wat jou vervloek, is vervloek, en hulle wat jou seën, is geseënd.” Net toe Isak daarmee klaar was om Jakob te seën, en Jakob pas van sy vader Isak af na buite gegaan het, kom sy broer Esau terug van sy jagtog af. Ook hy het 'n smaaklike gereg voorberei, dit vir sy vader geneem en vir sy vader gesê: “My vader moet regop kom en van sy seun se wildsvleis eet sodat u my kan seën.” Maar sy vader Isak vra vir hom: “Wie is jy?” Waarop hy antwoord: “Ek is u seun, u eersgeborene, Esau.” Isak het verskriklik aan die bewe gegaan en gevra: “Wie is dit dan wat wildsvleis gejag en vir my gebring het? Ek het van alles geëet voordat jy ingekom het, en ek het hom geseën. Hy sal dan ook geseënd wees!” Toe Esau sy vader se woorde hoor, het hy baie hard en met groot bitterheid geskreeu. Hy het vir sy vader gesê: “Seën my ook, my vader!” Maar hy het geantwoord: “Jou broer het met bedrog gekom en jou seën gevat!” Esau het gesê: “Is dit omdat sy naam Jakob is dat hy my nou al twee keer bedrieg het? My eersgeboortereg het hy gevat, en kyk, nou het hy my seën gevat!” Toe vra Esau: “Het u nie vir my 'n seën uitgehou nie?” Isak het geantwoord en vir Esau gesê: “Kyk, ek het hom as heerser oor jou aangestel, en ek het al sy broers vir hom as dienaars gegee. Koring en nuwe wyn het ek vir hom voorsien. Wat kan ek dan nog vir jou doen, my seun?” Daarop vra Esau vir sy vader: “Het u dan net een seën, my vader? Seën my ook, my vader!” Toe begin Esau hardop huil. Isak, sy vader, het daarop gereageer en vir hom gesê: “Kyk, weg van die vrugbaarste dele van die aarde sal jou woonplek wees, en weg van die dou van die hemel daar bo. Van jou swaard sal jy leef, en jou broer sal jy dien. Maar wanneer jy wegbreek, sal jy sy juk van jou nek afruk.” Esau was vyandig teenoor Jakob oor die seën waarmee sy vader hom geseën het. Esau het in sy hart gesê: “Die dae van rou oor my pa kom nader; dan gaan ek my broer Jakob doodmaak.” Toe Rebekka ingelig is oor die woorde van haar oudste seun Esau, het sy haar jongste seun Jakob laat roep en vir hom gesê: “Kyk, jou broer Esau wil hom op jou wreek deur jou dood te maak. My seun, luister dan nou na my: Maak gereed en vlug na my broer Laban in Haran. Bly 'n tyd lank by hom totdat die woede van jou broer bedaar het, totdat die toorn van jou broer teen jou bedaar het en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Ek sal dan iemand stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Genesis 27:1-45

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid