GENESIS 27:1-45

GENESIS 27:1-45 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Isak al oud was en sy oë so verswak het dat hy nie meer kon sien nie, het hy Esau, sy oudste seun, geroep en vir hom gesê: “My seun!” Hy het hom geantwoord: “Ja, pa?” Isak sê toe: “Kyk, ek is oud. Ek ken nie my sterfdag nie. Neem nou jou jaggereedskap, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit veld toe en jag vir my 'n stuk wild. Berei dan vir my 'n smaaklike gereg voor soos ek daarvan hou, en bring dit vir my, sodat ek kan eet en jou kan seën voordat ek sterf.” Rebekka het geluister toe Isak met sy seun Esau praat. Toe Esau veld toe gaan om 'n stuk wild te jag om dit te bring, sê sy vir haar seun Jakob: “Kyk, ek het jou pa vir jou broer Esau hoor sê, ‘Bring vir my wildsvleis en berei vir my 'n smaaklike gereg voor, sodat ek kan eet en jou in die teenwoordigheid van die HERE kan seën voor my dood.’ My seun, luister dan nou na wat ek jou beveel! Gaan na die kleinvee en bring vir my daarvandaan twee mooi bokkies, sodat ek hulle as 'n smaaklike gereg vir jou pa kan voorberei – soos hy daarvan hou. Dan moet jy dit vir jou pa neem, dat hy kan eet, sodat hy jou kan seën voor sy dood.” Maar Jakob het vir Rebekka, sy moeder, gesê: “Kyk, my broer Esau is 'n harige man, en ek het 'n gladde vel. Miskien raak my pa aan my, dan sal ek in sy oë iemand wees wat die spot dryf. Ek sal dan 'n vloek oor my bring en nie 'n seën nie.” Sy moeder het egter vir hom gesê: “Op my kan jou vloek maar rus, my seun. Luister net na my en gaan haal dit vir my!” Hy het dit toe gaan haal en vir sy moeder gebring. Sy moeder het 'n smaaklike gereg voorberei, soos sy vader daarvan hou. Toe neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan. Die vel van die bokkies trek sy toe oor sy arms en oor die gladde deel van sy nek, en sy oorhandig die smaaklike gereg en die brood wat sy voorberei het, aan haar seun Jakob. Toe hy by sy vader kom, sê hy: “My vader!” Hy het geantwoord: “Ja? Wie is jy, my seun?” Jakob sê toe vir sy vader: “Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen wat u vir my gesê het. Kom regop, sit en eet van my wildsvleis, sodat u my kan seën.” Toe vra Isak vir sy seun: “Maar hoe het jy dit dan so gou gekry, my seun?” Hy het geantwoord: “Omdat die HERE u God dit vir my so laat gebeur het.” Isak sê toe vir Jakob: “Kom bietjie nader, sodat ek aan jou kan voel, my seun, of jy werklik my seun Esau is of nie.” Jakob gaan toe nader aan Isak, sy vader, en hy voel aan hom. Toe sê hy: “Die stem is die stem van Jakob, maar die arms is die arms van Esau.” Hy het hom egter nie herken nie, want sy arms was harig, soos sy broer Esau se arms. So het hy hom geseën. Hy het gevra: “Is jy werklik my seun Esau?” En hy het gesê: “Ek is.” Hy sê toe: “Bring die gereg vir my nader; ek wil van die wildsvleis van my seun eet, sodat ek jou kan seën.” Hy het dit vir hom nadergebring en hy het geëet. Hy het ook vir hom wyn gebring en hy het gedrink. Isak, sy vader, het vir hom gesê: “Kom tog nader en soen my, my seun!” Jakob het nader gegaan en hom gesoen. Toe Isak die reuk van sy klere kry, het hy hom geseën en gesê: “Kyk, die reuk van my seun is soos die reuk van die veld wat die HERE geseën het. Mag God jou van die dou van die hemel gee, en die vrugbaarste dele van die aarde, 'n oorvloed koring en •nuwe wyn. Volke sal jou dien en nasies sal diep voor jou buig. Wees 'n heerser oor jou broers, sodat die seuns van jou moeder diep voor jou sal buig. Hulle wat jou vervloek, is vervloek, en hulle wat jou seën, is geseënd.” Net toe Isak daarmee klaar was om Jakob te seën, en Jakob pas van sy vader Isak af na buite gegaan het, kom sy broer Esau terug van sy jagtog af. Ook hy het 'n smaaklike gereg voorberei, dit vir sy vader geneem en vir sy vader gesê: “My vader moet regop kom en van sy seun se wildsvleis eet sodat u my kan seën.” Maar sy vader Isak vra vir hom: “Wie is jy?” Waarop hy antwoord: “Ek is u seun, u eersgeborene, Esau.” Isak het verskriklik aan die bewe gegaan en gevra: “Wie is dit dan wat wildsvleis gejag en vir my gebring het? Ek het van alles geëet voordat jy ingekom het, en ek het hom geseën. Hy sal dan ook geseënd wees!” Toe Esau sy vader se woorde hoor, het hy baie hard en met groot bitterheid geskreeu. Hy het vir sy vader gesê: “Seën my ook, my vader!” Maar hy het geantwoord: “Jou broer het met bedrog gekom en jou seën gevat!” Esau het gesê: “Is dit omdat sy naam Jakob is dat hy my nou al twee keer bedrieg het? My eersgeboortereg het hy gevat, en kyk, nou het hy my seën gevat!” Toe vra Esau: “Het u nie vir my 'n seën uitgehou nie?” Isak het geantwoord en vir Esau gesê: “Kyk, ek het hom as heerser oor jou aangestel, en ek het al sy broers vir hom as dienaars gegee. Koring en nuwe wyn het ek vir hom voorsien. Wat kan ek dan nog vir jou doen, my seun?” Daarop vra Esau vir sy vader: “Het u dan net een seën, my vader? Seën my ook, my vader!” Toe begin Esau hardop huil. Isak, sy vader, het daarop gereageer en vir hom gesê: “Kyk, weg van die vrugbaarste dele van die aarde sal jou woonplek wees, en weg van die dou van die hemel daar bo. Van jou swaard sal jy leef, en jou broer sal jy dien. Maar wanneer jy wegbreek, sal jy sy juk van jou nek afruk.” Esau was vyandig teenoor Jakob oor die seën waarmee sy vader hom geseën het. Esau het in sy hart gesê: “Die dae van rou oor my pa kom nader; dan gaan ek my broer Jakob doodmaak.” Toe Rebekka ingelig is oor die woorde van haar oudste seun Esau, het sy haar jongste seun Jakob laat roep en vir hom gesê: “Kyk, jou broer Esau wil hom op jou wreek deur jou dood te maak. My seun, luister dan nou na my: Maak gereed en vlug na my broer Laban in Haran. Bly 'n tyd lank by hom totdat die woede van jou broer bedaar het, totdat die toorn van jou broer teen jou bedaar het en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Ek sal dan iemand stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”

GENESIS 27:1-45 Die Boodskap (DB)

Toe Isak al oud en amper blind was, het hy Esau geroep: “Seun, waar is jy?” Esau het geantwoord: “Hier’s ek, Pa.” Isak sê toe vir hom: “Kyk, ek is oud en kan enige tyd sterf. Vat nou jou skietgoed, jou pyl en boog, en gaan veld toe. Skiet daar vir my ’n stukkie wild. Maak dan vir my lekker wildskos soos ek daarvan hou. As die kos reg is, moet jy dit vir my bring sodat ek kan eet en jou nog kan seën voordat ek doodgaan.” Rebekka het elke woord gehoor wat Isak vir sy seun gesê het. Nadat Esau veld toe is om iets vir sy pa te skiet, het sy vinnig na Jakob toe gehardloop en uitasem gesê: “Luister, ek het gehoor wat jou pa vir Esau gesê het. Hy het gesê Esau moet vir hom ’n stukkie wild gaan skiet en lekker kos maak. Na die ete wil jou pa hom dan seën. Jou pa wil dit doen voordat hy sterf. Hy het ook gesê dit is die wil van die Here dat hy Esau seën. Jakob, moet nou nie teëpraat nie. Maak presies soos ek sê. Gaan baie vinnig kraal toe en kry vir my twee lekker vet bokkies. Ek sal dit dan gaarmaak en vir jou pa sy lieflingdis voorsit. Jy moet dit dan vir jou pa vat en sorg dat hy dit eet. Hy sal jou dan seën in die plek van Esau, voor hy doodgaan.” Jakob het Rebekka geantwoord: “Ma, dit gaan nie werk nie. Esau is harig terwyl my vel glad is. Sê nou Pa wil aan my vat. Hy sal dink ek spot met hom en sal my nie wil seën nie. Dan bring ek ’n vervloeking oor my eerder as ’n seën.” Sy ma het geantwoord: “Toe maar, jou ellende sal oor my kom. Doen net wat ek vir jou sê en gaan haal die bokkies wat ek jou gevra het.” Jakob is toe weg en het gedoen wat sy ma gesê het. Hy het alles vir haar gebring en sy het lekker kos vir sy pa gemaak, kos waarvan hy gehou het. Rebekka het haar oudste, Esau, se beste klere geneem en dit vir Jakob, haar jongste, aangetrek. Verder het sy die bok se velletjies om sy hande en om die gladde deel van sy nek gesit. Toe vat sy die lekker kos en die brood wat sy gebak het en sit dit in Jakob se hande. Jakob het na sy pa toe gegaan en hom gegroet. “Dag, Pa,” het hy gesê. Isak het geantwoord: “Ja, hier is ek, maar wie is jy, my seun?” Jakob sê toe vir sy pa: “Dit is ek, Esau, Pa se oudste kind. Ek het gedoen soos Pa gesê het. Sit nou gemaklik sodat Pa van my lekker wildskos kan eet. Daarna kan Pa my seën.” Isak wou egter weet hoe hy so vinnig die wild opgespoor het. Jakob het geantwoord: “Pa se God, die Here, het my gehelp.” Isak het toe vir Jakob gesê: “Kom ’n bietjie nader sodat ek kan voel of jy regtig my seun Esau is of nie.” Jakob het nader aan sy pa gekom. Isak het aan hom gevoel en gesê: “Die stem is die stem van Jakob, maar die hande is Esau s’n.” Isak het niks agtergekom nie, want die hande was net so harig soos dié van Esau. Hy vra toe vir Jakob: “Is jy rêrig my seun Esau?” Jakob het skaamteloos geantwoord: “Ja, ek is.” Isak het gesê: “Sit die lekker kos vir my voor sodat ek my seun se wildsgereg kan eet en jou dan seën.” Hy het toe vir hom die kos en wyn gegee. Daarna het sy pa, Isak, vir hom gesê: “Kom nader, my seun, en soen my.” Jakob het nader gekom en sy pa gesoen. Isak het die reuk van Esau se klere geruik en Jakob geseën. “Werklik, my seun se reuk is soos die reuk van die vrugbare veld, die veld wat die Here geseën het. Mag die Here elke dag vir jou dou uit die hemel gee. Mag Hy jou van die aarde se goeie laat geniet: oorvloed van graan en wyn. Laat die volke jou dien en nasies eer aan jou betoon. Jy moet oor jou broers heers, jou ma se ander seuns sal voor jou buig. Wie jou vloek, sal net ellende ervaar, en wie jou seën, sal gelukkig wees.” Isak het Jakob skaars klaar geseën en Jakob was net van sy pa af weg, toe Esau van sy jagtog terugkom. Hy het ook lekker kos gemaak en dit vir sy pa gevat. Hy het ook vir sy pa gesê: “Pa, sit regop en eet die lekker wildskos wat ek vir Pa gemaak het. Daarna kan Pa my seën.” Verskrik het Isak gevra: “Wie is jy dan?” Esau het geantwoord: “Ek is Esau, Pa se oudste kind.” Isak was so ontsteld dat hy baie gebewe het. “Wie,” het hy gevra, “was dan netnou hier? Die man het dan ook van die jagveld gekom en vir my wildskos gegee. Net voor jy gekom het, het ek alles klaar geëet en hom geseën. Met hom sal dit daarom altyd voorspoedig gaan.” Toe Esau sy pa se woorde hoor, het hy bitterlik begin huil. Hy was geweldig hartseer en verbitterd. Na ’n ruk sê hy toe vir Isak: “Pa, asseblief, Pa, seën my ook!” “Dit is alles jou slinkse broer se skuld,” het Isak bewoë gesê. “Hy het jou seën van jou af weggeruk.” “Hy is niks anders as ’n bedrieër nie,” het Esau geantwoord. “Hy het my nou al twee keer bedrieg. Eers het hy my geboortereg gevat en nou my seën. Sy naam is nie verniet Jakob nie, want hy is ’n regte bedrieër.” Esau het verleë gevra: “Pa, het Pa nie dalk vir my ook ’n stukkie seën gebêre nie?” Isak het Esau geantwoord: “Ek het nie iets vir jou nie, my kind. Ek het klaar gesê hy sal soos ’n ouer broer oor jou regeer en dat jou familie nog eendag vir hom sal werk. Ek het ook klaar gesê dat hy die lekker dinge van die lewe sal geniet. Wat kan ek vir jou doen, my seun?” Esau het weer gepleit: “Het Pa dan waaragtig niks vir my nie? Asseblief, Pa, gee my ook iets!” Isak het net stilgebly. Esau het toe bitterlik begin huil. Isak het vir Esau gesê: “My seun, jy sal altyd swaarkry. Jou grond sal dor en droog bly. Reën sal daar nie baie wees nie. Vir jou lewe sal jy altyd moet veg, en vir jou broer sal jy moet werk. Maar as jy jou lank genoeg verset, kan jy nog sy juk van jou afgooi.” Jakob het vir Esau gekul en Esau het hom begin haat. Esau het toe ’n besluit geneem: “Na my pa se dood gaan ek my broer doodmaak. Ek gaan net wag tot die routyd verby is.” Rebekka het gehoor dat Esau, haar oudste kind, dit gesê het en sy het haar jongste, Jakob, gewaarsku: “Jou broer gaan wraak neem en jou doodmaak. Luister nou baie mooi na my: gaan onmiddellik na my broer Laban in Haran toe. Bly daar totdat jou broer se woede oor is en hy van sy wrok vergeet het. Ek sal jou laat weet as alles veilig is, dan kan jy weer terugkom. Julle is albei my kinders en ek wil julle nie albei op een dag verloor nie. Daarom moet jy onmiddellik vertrek.”

GENESIS 27:1-45 Bybel vir almal (ABA)

Isak was al baie oud. Hy kon nie meer sien nie. Hy roep toe sy oudste seun Esau en hy sê vir hom: “My seun.” En Esau sê: “Hier is ek.” Toe sê Isak: “Ek is baie oud, en ek weet nie hoe lank ek nog sal lewe nie. Neem asseblief jou pyl en boog en gaan skiet vir my 'n wildsbok in die veld. Maak dit dan vir my lekker gaar soos ek daarvan hou en bring dit vir my. Ek wil dit eet en dan wil ek jou seën voordat ek sterf.” Rebekka het gehoor wat Isak vir sy seun Esau sê. Toe Esau na die veld gegaan het om 'n bok te gaan skiet, sê Rebekka vir haar seun Jakob: “Ek het gehoor jou pa praat met jou broer. Hy het vir Esau gesê dat hy 'n bok moet gaan skiet en dat hy dit vir hom moet gaarmaak. Jou pa wil dit eet en dan wil hy vir Esau seën voordat hy sterf. My seun, luister nou mooi na my en doen wat ek vir jou sê. Gaan vang gou twee mooi bok-lammers. Ek sal hulle gaarmaak soos jou pa daarvan hou. Dan bring jy dit vir jou pa sodat hy dit kan eet en sodat hy jou kan seën voordat hy sterf.” Jakob sê toe vir Rebekka: “Maar Esau se vel is vol hare en my vel is glad. Miskien voel Pa aan my, en dan dink hy dat ek met hom wil spot. Dan sal hy my vervloek en my nie seën nie.” Toe sê sy ma vir hom: “My seun, as jou pa jou vervloek, dan sal die straf op my kom. Jy moet luister na my. Gaan vang vir my die twee bokkies.” Jakob het gegaan en hy het die bokkies gevang en vir sy ma gebring. Sy het hulle gaargemaak soos sy pa daarvan hou. Toe neem Rebekka haar oudste seun Esau se klere wat by haar in die tent was, en sy trek dit vir haar jongste seun aan. Sy neem ook die bok-lammers se velle en sy trek dit om Jakob se arms en om sy gladde nek. Toe gee sy die lekker vleis en die brood wat sy gemaak het vir haar seun Jakob, en hy gaan na sy pa toe en sê vir hom: “Pa.” En Isak sê: “Hier is ek. Wie is jy, my seun?” Jakob het vir sy pa gesê: “Ek is Pa se oudste seun Esau. Ek het gemaak soos Pa vir my gesê het. Sit asseblief regop en eet van my wildsvleis sodat Pa my kan seën.” Toe vra Isak vir sy seun: “Hoe het jy so gou 'n bok gekry, my seun?” En Jakob antwoord: “Die Here, Pa se God, het my gehelp om gou 'n bok te kry.” Isak sê toe vir Jakob: “My seun, kom asseblief nader sodat ek aan jou kan voel. Is jy my seun Esau of nie?” Jakob het nader gekom na sy pa Isak toe, en Isak het aan hom gevoel. Hy sê toe: “Jou stem is soos Jakob se stem, maar jou arms voel soos Esau se arms.” Isak het nie geweet dat dit Jakob is nie, want Jakob se arms was vol hare soos sy broer Esau se arms. Isak het toe vir Jakob geseën. Maar hy het eers weer gevra: “Is jy regtig my seun Esau?” En Jakob het gesê: “Ja, ek is.” Toe sê Isak: “My seun, bring vir my die wildsvleis, sodat ek daarvan kan eet, want Ek wil jou seën.” Jakob gee dit toe vir hom, en hy het geëet. Jakob het ook wyn vir hom gebring, en hy het dit gedrink. Toe sê sy pa Isak vir hom: “My seun, kom asseblief nader en soen my.” En Jakob het nader gegaan en hom gesoen. Isak het die klere geruik wat Jakob aangehad het, en toe het hy vir Jakob geseën en gesê: “My seun ruik soos die veld wat die Here geseën het. Ek bid dat God vir jou van die hemel se dou sal gee en die beste van alles wat uit die aarde kom. Ek bid dat jy baie koring en wyn sal hê. Ek bid dat ander volke jou sal dien en dat die mense van ander lande voor jou sal buig. Jy sal die hoof wees oor jou broer, en hy sal voor jou buig. As iemand jou vervloek, dan sal die Here hom vervloek, en as iemand jou seën, dan sal die Here hom seën.” So het Isak vir Jakob geseën. Toe Jakob weggaan van sy pa, kom Esau terug uit die veld waar hy die wildsbok geskiet het. Esau maak toe ook 'n lekker ete gaar en bring dit vir sy pa en sê vir hom: “Pa, sit asseblief regop en eet van my wildsvleis, sodat Pa my kan seën.” Isak vra toe vir hom: “Wie is jy?” En hy antwoord: “Ek is jou oudste seun Esau.” Toe skrik Isak baie groot en hy begin bewe. Hy vra toe vir Esau: “Iemand het 'n wildsbok geskiet en hy het dit vir my gebring. Wie was dit? Ek het van alles geëet en ek het hom geseën voordat jy gekom het. En ek kan nie sy seën wegvat nie.” Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard geskree en begin huil. Hy sê toe vir sy pa: “Pa, seën asseblief ook vir my.” Isak het gesê: “Dit is jou broer wat my bedrieg het en wat jou seën gevat het.” En Esau sê: “Ja, sy naam is Jakob, hy is skelm. Hy het my twee maal bedrieg. Hy het my regte gevat en nou het hy ook my seën gevat. Kan Pa my ook seën?” Isak het vir Esau gesê: “Ek het klaar gesê Jakob sal jou hoof wees. Jakob se hele familie sal hom dien. Ek het hom geseën, en hy sal altyd baie koring en wyn hê. My seun, wat is daar nog wat ek vir jou kan gee?” Toe sê Esau vir sy pa: “Het Pa net een seën? Seën my ook asseblief.” En Esau het hard begin huil. Sy pa sê toe vir hom: “Jy sal ver weg woon van die dinge van die aarde wat mense ryk laat word, ver van die dou van die hemel daarbo. Jy sal moet oorlog maak om te lewe en jy sal jou broer moet dien. Maar as jy hard probeer, dan sal jy vry word.” Esau het vir Jakob gehaat omdat sy pa vir Jakob geseën het. Esau het gedink: My pa sal nie meer lank lewe nie, en wanneer hy dood is, dan sal ek vir Jakob doodmaak. Die slawe het vir Rebekka vertel wat haar oudste seun gesê het, en sy het iemand gestuur om vir Jakob te roep. Sy het vir hom gesê: “Pasop! Jou broer Esau is so kwaad dat hy jou wil doodmaak. My seun, luister nou mooi wat ek vir jou sê. Jy moet na my broer Laban toe vlug. Hy woon in die land Haran, jy moet 'n tyd lank by hom bly totdat jou broer nie meer kwaad is nie. Wanneer jou broer vergeet het wat jy aan hom gedoen het en nie meer vir jou kwaad is nie, dan sal ek iemand stuur om jou te roep. Hoekom moet ek altwee my seuns op een dag verloor?”

GENESIS 27:1-45 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE Isak oud geword het en sy oë swak was, sodat hy nie kon sien nie, het hy sy oudste seun Esau geroep en vir hom gesê: My seun! En hy het hom geantwoord: Hier is ek! Toe sê hy: Kyk tog, ek het oud geword, ek weet die dag van my dood nie. Neem dan nou tog jou wapens, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit in die veld en jag vir my 'n stuk wild en maak vir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil hê; en bring dit vir my om te eet; sodat my siel jou kan seën voordat ek sterwe. En Rebekka het geluister terwyl Isak met sy seun Esau spreek. En Esau het in die veld gegaan om 'n stuk wild te jag en dit te bring. Toe het Rebekka met haar seun Jakob gespreek: Kyk, ek het jou vader met jou broer Esau hoor spreek en sê: Bring vir my 'n stuk wild en maak vir my lekker ete, dat ek kan eet en jou kan seën voor die aangesig van die HERE voor my dood. My seun, luister dan nou na my, na wat ek jou beveel. Loop nou na die kleinvee en gaan haal vir my daar twee mooi bokkies, dat ek jou vader daarvan 'n lekker ete kan maak soos hy dit graag wil hê. Dan moet jy dit na jou vader bring, dat hy kan eet; sodat hy jou kan seën voor sy dood. Toe sê Jakob vir sy moeder Rebekka: Kyk, my broer Esau is 'n harige man en ek is 'n gladde man. Miskien sal my vader my betas, en ek sal in sy oë wees soos 'n spotter; so sou ek dan 'n vloek oor my bring en nie 'n seën nie. Maar sy moeder antwoord hom: Laat jou vloek op my wees, my seun! Luister net na my en gaan haal dit vir my. Toe het hy dit gaan haal en na sy moeder gebring. En sy moeder het daarvan 'n lekker ete gemaak soos sy vader dit graag wou hê. Ook neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en sy trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan; en die velle van die bokkies trek sy oor sy hande en oor die gladdigheid van sy nek, en sy gee die lekker ete en die brood wat sy gemaak het, in die hand van Jakob, haar seun. Toe kom hy by sy vader en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek! Wie is jy, my seun? En Jakob sê aan sy vader: Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my beveel het. Rig u tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat u siel my kan seën. Daarop het Isak aan sy seun gesê: Hoe het jy dit so gou gekry, my seun? En hy antwoord: Omdat die HERE u God dit my laat teëkom het. En Isak sê vir Jakob: Kom tog nader, dat ek jou kan betas, my seun, of jy waarlik my seun Esau is of nie. En Jakob het nader gekom na sy vader Isak, en hy het hom betas en gesê: Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande. Maar hy het hom nie geëien nie, omdat sy hande harig was soos sy broer Esau se hande; en hy het hom geseën. Hy het naamlik gevra: Is jy waarlik my seun Esau? En hy het geantwoord: Ja. Toe sê hy: Bring dit vir my nader, dat ek van die wildsvleis van my seun kan eet, sodat my siel jou kan seën. En hy het dit vir hom nader gebring, en hy het geëet. Hy het vir hom ook wyn gebring, en hy het gedrink. Daarop sê sy vader Isak vir hom: Kom tog nader en soen my, my seun! En hy het nader gekom en hom gesoen. Toe ruik hy die geur van sy klere, en hy seën hom en sê: Kyk, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat die HERE geseën het. En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos. Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees 'n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën. Maar toe Isak Jakob klaar geseën het en Jakob nog skaars van sy vader Isak af weggegaan het, kom sy broer Esau van die jag af, en hý maak ook 'n lekker ete en bring dit na sy vader en sê aan sy vader: Laat my vader hom oprig en eet van die wildsvleis van sy seun, sodat u siel my kan seën. En sy vader Isak vra hom: Wie is jy? En hy antwoord: Ek is u seun Esau, u eersgeborene. Toe skrik Isak geweldig en sê: Wie is dit dan wat wild gejag en vir my gebring het? En ek het van alles geëet voordat jy gekom het, en hom geseën — ook sal hy geseënd bly! Toe Esau die woorde van sy vader hoor, skreeu hy met 'n baie groot en bitter geroep, en hy sê vir sy vader: Seën mý ook, my vader! En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou seën weggeneem. Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie? Toe antwoord Isak en sê vir Esau: Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel en aan hom al sy broers as dienaars gegee; en ek het hom met koring en mos versorg. Wat kan ek dan nou vir jóú doen, my seun? Daarop het Esau aan sy vader gevra: Het u net een seën, my vader? Seën mý ook, my vader! En Esau het sy stem verhef en geween. Toe antwoord sy vader Isak en sê vir hom: Kyk, ver van die vet grond van die aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daarbo. En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk. En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak. Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak. My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban, en bly 'n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar, tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?

GENESIS 27:1-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Isak baie oud en al blind was, het hy sy oudste seun, Esau, geroep en vir hom gesê: “My seun!” en Esau het geantwoord: “Hier is ek!” Isak het vir hom gesê: “Kyk, ek is al oud en ek weet nie wanneer ek gaan sterf nie. Vat nou jou skietgoed, jou pyl en boog, en gaan veld toe en skiet vir my 'n stukkie wild. Kom maak dit dan vir my lekker gaar soos ek daarvan hou en bring dit vir my dat ek dit kan eet en jou kan seën voor ek sterf.” Rebekka het gehoor wat Isak met sy seun Esau praat en toe Esau veld toe is om te gaan jag, het sy met haar seun Jakob gepraat en vir hom gesê: “Luister, ek het gehoor jou pa praat met jou broer Esau. Hy het vir hom gesê: ‘Gaan haal vir my 'n stukkie wild en maak dit vir my lekker gaar dat ek dit kan eet en ek jou dan in die teenwoordigheid van die Here kan seën voor ek sterf.’ Nou moet jy na my luister, my seun, en doen wat ek jou sê. Gaan na die kleinvee toe en bring vir my twee vet bokkies. Dan sal ek hulle lekker gaarmaak soos jou pa daarvan hou. Jy moet dit dan vir hom vat dat hy dit kan eet en jou kan seën voor hy sterf.” Toe sê Jakob vir sy ma Rebekka: “Maar my broer Esau is harig en ek is glad. Miskien sal Pa aan my voel en dan dink ek skeer die gek met hom, en so sal ek 'n vervloeking oor my bring en nie 'n seën nie.” Sy ma het vir hom gesê: “As daar 'n vervloeking is, sal dit oor my kom, my seun. Luister jy net na my en loop vang die bokkies vir my.” Hy het die bokkies gaan vang en vir sy ma gebring, en sy het hulle lekker voorberei soos sy pa daarvan hou. Toe vat Rebekka haar oudste seun Esau se beste klere wat sy by haar in die huis gehad het en trek dit vir haar jongste seun Jakob aan. Sy het die bokvelletjies om sy hande en om sy kaal nek vasgemaak en die lekkerny en die kos wat sy voorberei het, vir Jakob gegee. Hy het toe na sy pa toe ingegaan en gesê: “Pa!” Toe sê hy: “Ja, watter seun is jy?” Jakob het sy pa geantwoord: “Ek is Esau, Pa se oudste seun. Ek het gedoen wat Pa gesê het. Kom sit nou regop en eet van my wildsvleis sodat Pa my dan kan seën.” Maar Isak het vir hom gevra: “Hoe het jy dan die wild so gou gekry, my seun?” en Jakob het geantwoord: “Die Here u God het my dit laat raakloop.” Toe sê Isak vir Jakob: “Kom nader dat ek aan jou kan voel, my seun, of jy my seun Esau is of nie.” Jakob het nader gegaan na sy pa Isak toe, en toe hy aan hom voel, sê hy: “Die stem, dis Jakob se stem, maar die hande, dis Esau se hande.” Isak het nie vir Jakob herken nie, want sy hande was harig soos sy broer Esau s'n. Isak het toe vir Jakob geseën. Isak het vir hom gesê: “Jy is tog my seun Esau!” en Jakob het gesê: “Ek is.” Toe sê Isak: “Gee die wild aan dat ek daarvan kan eet, my seun, en jou dan kan seën.” Hy het dit vir hom aangegee en Isak het geëet, en Jakob het vir hom wyn gebring, en hy het dit gedrink. Isak het vir hom gesê: “Kom nader en soen my, my seun!” Hy het nader gekom en hom gesoen, en toe hy die reuk kry van die klere wat Jakob aanhet, het Isak hom geseën en gesê: “Kyk, die reuk van my seun is soos die veld se reuk, die veld wat deur die Here geseën is. God gee aan jou dou uit die hemel, die rykdom van die aarde: koring en wyn in oorvloed. Volke sal jou dien, nasies sal voor jou buig; oor jou familie sal jy heers, jou broers sal voor jou buig. Wie 'n vervloeking oor jou uitspreek, sal self vervloek wees, wie jou seën, sal geseën wees.” Toe Isak vir Jakob klaar geseën het, en hy nog skaars by sy pa Isak uit was, kom sy broer Esau terug van die jag af. Ook hý het 'n lekker ete voorberei en dit vir sy pa gevat. Esau het vir sy pa gesê: “Sit regop, Pa, en eet van Pa se seun se wildsvleis sodat Pa my dan kan seën.” Toe vra sy pa Isak: “Wie is jy?” en hy antwoord: “Pa se seun Esau, Pa se oudste.” Isak was toe baie ontsteld en hy vra: “Maar wie het dan die wild geskiet en vir my gebring? Ek het daarvan geëet net voor jy gekom het. Ek het hóm geseën, en hy sal geseën bly.” Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: “Pa, seën my tog ook!” Maar Isak sê vir hom: “Jou broer het my kom bedrieg en toe het hy jou seën gevat.” Esau het geantwoord: “Hy word tereg Jakob genoem. Hy het my nou al twee keer bedrieg : hy het my reg as eersgeborene gevat en nou het hy my seën gevat.” Toe vra Esau: “Het Pa nie nog 'n seën vir my ook nie?” Isak het vir hom gesê: “Ek het hom alreeds aangestel om oor jou te heers en ek het sy hele familie vir hom as onderdane gegee. Ek het hom van koring en wyn voorsien. Daar is niks wat ek vir jou kan doen nie, my seun.” Esau het toe vir sy pa gesê: “Pa, het Pa dan net een seën? Seën my tog ook, Pa!” Toe Esau daarna begin huil, sê sy pa Isak vir hom: “Jou woonplek sal ver van die aarde se rykdom af wees, en ook ver van die dou uit die hemel af. Jy sal van oorlog leef en jy sal jou broer dien, maar as jy jou kans afwag, sal jy sy juk van jou nek afgooi.” Esau het vir Jakob gehaat oor die seën wat sy pa aan hom gegee het, en Esau het by homself gesê: “My pa se dood is nie meer ver nie, dan maak ek my broer Jakob dood.” Daar is aan Rebekka vertel wat haar oudste seun gesê het. Sy het toe haar jongste seun Jakob laat roep en vir hom gesê: “Pas op! Jou broer Esau is op wraak uit. Hy wil jou vermoor. Luister, my seun! Vlug Haran toe, na my broer Laban toe, en bly 'n ruk by hom tot jou broer se woede oor is. As sy bui oor jou gesak het en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het, sal ek stuur en jou daarvandaan laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”

GENESIS 27:1-45 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur dat toe Isak oud was en sy oë dof was, sodat hy nie kon sien nie, het hy sy oudste seun Esau geroep en vir hom gesê: My seun, en hy het vir hom gesê: Kyk, hier is ek. En hy sê: Kyk, ek is oud, ek ken nie die dag van my dood nie. Neem dan nou tog jou wapens, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit na die veld en neem vir my wildsvleis; En maak vir my lekker geregte soos ek daarvan hou, en bring dit vir my, dat ek kan eet; dat my siel jou kan seën voordat ek sterf. Rebekka het gehoor toe Isak met sy seun Esau praat en Esau het na die veld gegaan om wildsvleis te jag en dit te bring. Rebekka het met haar seun Jakob gespreek en gesê: Kyk, ek het jou vader met jou broer Esau hoor praat en sê: Bring vir my wildsvleis en maak vir my iets lekkers, dat ek kan eet en jou seën voor die aangesig van die HERE voor my dood. Nou dan, my seun, luister na my stem volgens wat ek jou beveel. Gaan nou na die kleinvee en haal vir my daarvandaan twee goeie bokramme; en Ek sal vir jou vader vir jou lekker kos maak soos hy liefhet. En jy moet dit na jou vader bring, dat hy kan eet, en dat hy jou kan seën voor sy dood. Toe sê Jakob vir sy moeder Rebekka: Kyk, my broer Esau is 'n harige man, en ek is 'n gladde man. My vader sal my dalk voel, en ek sal vir hom soos 'n bedrieër lyk; en ek sal 'n vloek oor my bring en nie 'n seën nie. Toe sê sy moeder vir hom: Kom jou vloek op my, my seun; luister net na my stem en gaan haal hulle vir my. En hy het dit gaan haal en dit na sy moeder gebring; en sy moeder het lekker vleis gemaak soos sy vader daarvan gehou het. Rebekka het mooi klere geneem van haar oudste seun Esau wat by haar in die huis was, en dit vir Jakob, haar jongste seun, aangetrek. Sy het die velle van die bokramme op sy hande en op sy gladde nek gesit. Sy het die smaaklike vleis en die brood wat sy voorberei het, in die hand van haar seun Jakob gegee. En hy het by sy vader gekom en gesê: My vader! En hy het gesê: Hier is ek! wie is jy, my seun? Toe sê Jakob vir sy vader: Ek is Esau, jou eersgeborene; Ek het gedoen soos U my beveel het: Staan tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat U siel my kan seën. Toe sê Isak vir sy seun: Hoe het jy dit so gou gekry, my seun? En hy sê: Omdat die HERE jou God dit vir my gebring het. Toe sê Isak vir Jakob: Kom tog nader, dat ek jou kan voel, my seun, of jy my seun Esau is of nie. En Jakob het nader gegaan na sy vader Isak; en hy voel hom en sê: Die stem is die stem van Jakob, maar die hande is die hande van Esau. En hy het hom nie onderskei nie, omdat sy hande harig was soos die hande van sy broer Esau; daarom het hy hom geseën. En hy sê: Is jy my seun Esau? En hy sê: Ek is. En hy sê: Bring dit na my toe, en ek sal van my seun se wildsvleis eet, dat my siel jou kan seën. En hy het dit na hom gebring, en hy het geëet; en hy het vir hom wyn gebring, en hy het gedrink. Toe sê sy vader Isak vir hom: Kom nou nader en soen my, my seun. En hy het nader gekom en hom gesoen, en hy het die reuk van sy klere geruik en hom geseën en gesê: Kyk, die reuk van my seun is soos die reuk van 'n veld wat die HERE geseën het. Daarom gee God jou van die dou van die hemel en die vettigheid van die aarde en oorvloed koring en wyn. Laat mense U dien en nasies hulle voor U neerbuig; wees heerser oor jou broers, en laat die seuns van jou moeder hulle voor jou neerbuig; vervloek is elkeen wat jou vervloek, en geseënd is hy wat jou seën. En toe Isak klaar was met die seën van Jakob, en Jakob nog skaars weggegaan het van die aangesig van sy vader Isak, het sy broer Esau ingekom van sy jag af. En hy het ook geurige vleis gemaak en dit na sy vader gebring en aan sy vader gesê: Laat my vader opstaan en van sy seun se wildsvleis eet, dat jou siel my kan seën. Toe sê sy vader Isak vir hom: Wie is jy? En hy sê: Ek is jou seun, jou eersgeborene Esau. En Isak het baie gebewe en gesê: Wie? waar is hy wat wildsvleis geneem en dit vir my gebring het, en ek het van alles geëet voordat jy gekom het, en hom geseën het? ja, en hy sal geseën word. En toe Esau die woorde van sy vader hoor, het hy met 'n groot en bitter geskreeu uitgeroep en aan sy vader gesê: Seën my, ook my, o my vader! En hy sê: Jou broer het met listigheid gekom en jou seën weggeneem. En hy sê: Word Hy nie reg Jakob genoem nie? want hy het my al twee keer verdring: my eersgeboortereg het hy weggeneem; en kyk, nou het hy my seën weggeneem. En hy sê: Het jy nie vir my 'n seën behou nie? Toe het Isak geantwoord en vir Esau gesê: Kyk, ek het hom jou heer gemaak, en al sy broers het ek aan hom as dienaars gegee; en met koring en wyn het Ek hom onderhou; en wat moet ek nou met jou doen, my seun? En Esau sê vir sy vader: Het jy maar een seën, my vader? seën my, ook m y, o my vader! En Esau het sy stem verhef en geween. Toe antwoord sy vader Isak en sê vir hom: Kyk, jou woning sal wees die vettigheid van die aarde en van die dou van die hemel van bo; Van jou swaard sal jy lewe en jou broer dien; en as jy heers, sal jy sy juk van jou nek af breek. En Esau het Jakob gehaat vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gesê: Die dae van rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak. En hierdie woorde van Esau, haar oudste seun, is aan Rebekka vertel, en sy het gestuur en Jakob, haar jongste seun, geroep en vir hom gesê: Kyk, jou broer Esau, wat jou aanraak, troos homself met die bedoeling om jou dood te maak. Nou dan, my seun, luister na my stem; en staan op, vlug na my broer Laban na Haran; En bly 'n paar dae by hom totdat die grimmigheid van jou broer verdwyn; Totdat die toorn van jou broer van jou afwyk en hy vergeet wat jy hom aangedoen het

GENESIS 27:1-45 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Isak baie oud was en blind begin word het, roep hy Esau, die oudste seun, en sê: “My seun.” “Hier is ek,” antwoord Esau. “Ek is reeds ’n ou man,” sê Isak. “Ek kan enige dag sterf. Vat jou boog en pylkoker, gaan veld toe en skiet vir my ’n wildsbok. Maak die vleis gaar soos ek daarvan hou en bring dit vir my om te eet. Dan sal ek jou seën voordat ek sterf.” Maar Rebekka het die gesprek gehoor. Toe Esau uitgaan om te gaan jag, sê sy vir haar seun Jakob: “Ek het gehoor jou pa vra vir Esau om wildsvleis te kry en gaar te maak soos hy daarvan hou. Hy wil Esau seën in die teenwoordigheid van die HERE voordat hy sterf. Nou, my seun, luister na my en doen presies soos ek sê. Gaan na die vee toe en bring vir my twee vet bokkies. Dan maak ek hulle gaar soos jou pa daarvan hou. Dan neem jy dit vir hom sodat hy dit kan eet en jóú kan seën voor hy sterf.” “Maar, Ma!” antwoord Jakob. “My broer Esau is harig en my vel is glad! Wat sal gebeur as Pa aan my vat? Hy sal weet dat ek besig is om hom te bedrieg. Dan sal hy my vervloek pleks van seën.” “Laat die vloek dan op my neerkom, my seun,” sê Rebekka. “Maak nou soos ek sê en gaan haal die bokkies.” Jakob het sy ma se opdragte uitgevoer en die twee bokkies gebring. Sy het hulle gevat en ’n heerlike vleisgereg klaargemaak, net soos Isak daarvan hou. Toe vat sy Esau se beste klere in die huis, en laat Jakob dit aantrek. Van die harige vel van die bokkies draai sy om sy arms en om sy nek. Toe gee sy hom die geurige vleisgereg en ook vars gebakte brood. Jakob het dit na Isak toe geneem en gesê: “Pa?” “Ja, my seun,” antwoord hy. “Wie is dit, Esau of Jakob?” Jakob antwoord hom: “Ek is Esau, Pa se oudste seun. Ek het gemaak soos Pa gesê het. Kom sit regop en eet van die wildsvleis. Dan kan Pa my seën.” Maar Isak vra: “Hoe is dit dat jy dit so gou kon doen, my seun?” “Omdat die HERE, u God, dit oor my pad laat kom het!” antwoord Jakob. Isak sê toe vir Jakob: “Kom ’n bietjie hier dat ek aan jou kan vat om seker te maak jy is regtig Esau.” Jakob het nader aan sy pa gaan staan. Isak voel toe aan hom en sê: “Die stem klink soos Jakob s’n, maar die hande is dié van Esau.” Hy kon Jakob nie herken nie omdat Jakob se hande net so harig soos dié van Esau gevoel het. Isak seën toe vir Jakob. “Is jy regtig my seun Esau?” vra hy. “Natuurlik, Pa!” antwoord Jakob. Toe sê Isak: “Bring vir my die wildsvleis sodat ek dit kan eet. Dan sal ek jou my seën gee.” Jakob het dit vir hom gebring en Isak het geëet. Hy het ook die wyn gedrink wat Jakob bedien het. Toe sê Isak: “Kom nader en soen my, my seun.” Jakob gaan toe nader en soen hom. Toe Isak sy klere ruik, was hy tevrede en het hy sy seun geseën. Hy het gesê: “Die reuk van my seun is die geur van die veld wat die HERE geseën het. Mag God vir jou die dou van die hemel en die vrugbaarheid van die aarde gee sodat jy goeie oeste van graan en wyn sal hê. Mag baie nasies jou dien. Jy sal heers oor jou familie en jou broers sal voor jou buig. Almal wat jou vervloek, sal self vervloek wees, en almal wat jou seën, sal ook geseën word.” Nadat sy pa hom geseën het, was Jakob skaars weg van Isak af, of sy broer Esau kom terug van die jag. Hy het ’n lekker gereg gaargemaak en dit vir Isak gebring. Hy sê toe: “Sit regop, Pa, en eet van my wildsvleis sodat Pa my kan seën.” “Wie is jy dan?” vra Isak. “Maar dis ek, Esau, Pa se oudste seun!” antwoord hy. Isak was baie ontsteld en vra: “Nou wie was dit dan wat so pas vir my wildsvleis gegee het? Ek het dit reeds geëet en hom geseën voor jy gekom het en hy sal onherroeplik geseën bly.” Toe Esau dit hoor, het hy hard en bitter geskree. “Ag, Pa, seën my tog ook!” het hy gepleit. Maar Isak sê: “Jou broer was hier en hy het my bedrieg. Hy het reeds jou seën ontvang.” Esau sê: “Dis geen wonder sy naam is Jakob nie, want dis nou al die tweede keer dat hy my bedrieg het. Eers het hy my eersgeboortereg gevat en nou het hy my seën gesteel. Ai, het Pa dan nie eers één seën vir my oor nie?” Isak antwoord Esau: “Ek het Jakob jou meerdere gemaak en al sy broers sal aan hom onderdanig wees. Ek het hom volop graan en wyn beloof. Wat bly nou nog oor?” Esau het aanhou pleit: “Het Pa dan net één seën? Pa, seën my tog ook!” Hy het bitterlik gehuil. Sy pa sê toe vir hom: “Jy sal lewe weg van die rykdom van die aarde en die dou van die hemel. Jy sal ’n bestaan maak uit oorlog. Jy sal ’n tyd lank jou broer dien, maar as jy jou daarteen verset, sal jy loskom van die oorheersing.” Esau het Jakob gehaat omdat hy hom van sy seën beroof het. Hy sê toe vir homself: “My pa sal nie meer lank lewe nie. Wanneer hy sterf, maak ek vir Jakob dood.” Esau se uitlatings is vir Rebekka oorvertel. Sy het vir Jakob laat roep en gesê: “Esau dreig om jou dood te maak. Luister nou, my seun. Vlug na jou oom Laban in Haran. Bly daar totdat jou broer se woede bedaar het. Wanneer hy vergeet het van wat jy gedoen het, sal ek jou laat weet om jou te kom haal. Hoekom moet ek albei van julle op een dag verloor?”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid