Isak het daarvandaan weggegaan en kamp opgeslaan in die Gerardal. Hy het hom daar gevestig. Isak het die putte wat in die tyd van Abraham, sy vader, gegrawe is, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, weer oopgegrawe. Hy het hulle dieselfde name gegee wat sy vader hulle gegee het. Terwyl die slawe van Isak in die dal grawe, kom hulle toe daar in 'n put af op 'n wateraar. Maar die herders van Gerar het met Isak se herders gestry en gesê: “Die water behoort aan ons!” Hy het toe die put Esek genoem, omdat hulle daaroor rusie gemaak het. Isak se slawe het toe 'n ander put gegrawe, maar hulle het ook daaroor gestry. Daarom het Isak dit Sitna genoem. Hy het daarvandaan verder getrek en 'n ander put gegrawe, maar daaroor is daar nie gestry nie. Hy het dit Regobot genoem, “want,” het hy gesê, “nou het die HERE vir ons ruimte gemaak, en ons sal vrugbaar wees in die land.”
Hy het toe daarvandaan opgetrek na Berseba. Daardie nag het die HERE aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou. Ek sal jou seën en jou nageslag talryk maak ter wille van Abraham, my dienskneg.” Hy het toe daar 'n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het daar 'n put uitgekap.
Abimeleg het uit Gerar na hom gekom, en ook Agussat, sy vriend, en Pigol, die bevelvoerder van sy leër. Isak sê toe vir hulle: “Waarom kom julle nou na my toe, terwyl dit julle is wat vyandig was teenoor my, en my van julle af weggestuur het?” Hulle het geantwoord: “Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is. Toe dink ons: Daar moet tog 'n ooreenkoms tussen ons wees – tussen ons en jou. Ons wil 'n verdrag met jou sluit: Jy moet ons nie kwaad aandoen nie, net soos ons nie aan jou geraak het nie, en soos wat ons net goed aan jou gedoen en jou ongedeerd weggestuur het. Jy is nou die geseënde van die HERE.”
Isak het toe vir hulle 'n maaltyd voorberei, en hulle het geëet en gedrink. Hulle het vroeg die oggend opgestaan en vir mekaar 'n eed afgelê. Isak het hulle daarna weggesien, en hulle het in vrede van hom af weggegaan.
Op dieselfde dag het Isak se slawe gekom en hom ingelig oor die put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry!” Hy het dit toe Seba genoem. Daarom is die naam van die dorp Berseba; dit is vandag nog so.
Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Jehudit, die dogter van Beëri, die Hetiet, as vrou geneem, en ook Basemat, die dogter van Elon, die Hetiet. Vir Isak en Rebekka was hulle 'n bron van bitter verdriet.