GENESIS 26:17-35

GENESIS 26:17-35 Bybel vir almal (ABA)

Isak het toe weggegaan en hy het gaan woon by die Gerar-riviertjie. Isak het al die putte oopgemaak wat Abraham gegrawe het en wat die Filistyne toegegooi het. Abraham het name gegee vir die putte, en Isak het weer dieselfde name vir die putte gegee. Abraham was toe al dood. Isak se slawe het 'n put gegrawe in 'n vallei en hulle het baie water gekry. Die skaapwagters van Gerar het gestry met Isak se skaapwagters. Hulle het gesê: “Dit is ons water!” Isak noem toe die put “Stryery,” omdat hulle daar met sy skaapwagters gestry het. Isak se skaapwagters het nog 'n put gegrawe, maar die skaapwagters van Gerar het nog altyd gekla. Toe noem Isak die put “Klagte.” Isak het verder getrek en hy het nog 'n put gegrawe. Die skaapwagters het nie gestry oor hierdie put nie. Hy noem die put toe “Oop Plek,” en hy sê: “Nou het die Here vir ons genoeg plek gegee. Dit sal nou met ons goed gaan in hierdie land.” Daarna het Isak na die stad Berseba gegaan. Daardie nag het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek sal jou seën en Ek sal jou nageslag baie maak. Ek sal dit doen omdat Ek lief was vir my dienaar Abraham.” Isak het daar 'n altaar gebou. Hy het die Here aanbid. Isak het sy tent daar opgeslaan, en sy slawe het 'n put gegrawe. Toe kom Abimelek uit Gerar na Isak toe. Abimelek se raadgewer Agussat, en Pikol, die hoof van sy leër, was saam met hom. Isak sê toe vir hulle: “Hoekom kom julle na my toe? Ek weet julle haat my. Julle het my weggestuur van julle.” Hulle sê toe vir Isak: “Ons het duidelik gesien dat die Here by jou is en dat Hy jou seën. Toe het ons gedink daar moet 'n ooreenkoms wees tussen ons. Jy moet belowe dat jy nie slegte dinge sal doen aan ons nie. Ons het ook nie slegte dinge aan jou gedoen nie. Ek was net goed vir jou en ek laat jou in vrede gaan. Almal kan sien dat die Here jou seën.” Isak het toe vir hulle 'n groot ete gegee, en hulle het geëet en gedrink. Die volgende oggend vroeg het hulle 'n ooreenkoms gemaak. Isak het hulle laat gaan, en hulle het in vrede weggegaan. Daardie dag het Isak se slawe na hom toe gekom en hulle het vir hom vertel van nog 'n put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry.” Hy het die put toe Berseba genoem. Dit is vandag nog ook die stad se naam. Toe Esau 40 jaar oud was, het hy getrou met twee vroue. Die een vrou was Jehudit, die dogter van Beëri, en die ander vrou was Basemat, die dogter van Elon. Altwee vroue was Hetiete. Isak en Rebekka was baie ongelukkig oor hierdie twee vroue van Esau.

GENESIS 26:17-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarop het Isak vandaar weggetrek en laer opgeslaan in die dal by Gerar en daar bly woon. En Isak het die putte weer oopgegrawe wat hulle in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, en dit genoem na die name wat sy vader daaraan gegee het. En terwyl die dienaars van Isak in die dal grawe, vind hulle daar 'n put met lewendige water. En die herders van Gerar het getwis met die herders van Isak en gesê: Dit is óns water. Daarom het hy die put Esek genoem, omdat hulle met hom onenigheid gehad het. Daarop grawe hulle 'n ander put, en daaroor het hulle ook getwis. Daarom het hy dit Sitna genoem. Toe het hy vandaar versit en 'n ander put gegrawe, en daaroor is nie getwis nie. Daarom het hy dit Réhobot genoem en gesê: Ja, nou het die HERE vir ons ruimte gemaak en kan ons vrugbaar wees in die land. Daarna het hy vandaar opgetrek na Berséba. En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg. Toe bou hy daar 'n altaar, en hy het die Naam van die HERE aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar 'n put gegrawe. Daarop kom Abiméleg na hom van Gerar af, saam met Ahussat, sy vriend, en Pigol, sy leërowerste. En Isak het hulle gevra: Waarom het julle na my gekom terwyl julle my haat en my van julle af weggestuur het? Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is. Daarom het ons gedink: Laat daar tog 'n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat ons 'n verbond met jou sluit: jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal die geseënde van die HERE. Toe berei hy vir hulle 'n maaltyd, en hulle het geëet en gedrink. En hulle is die môre vroeg op en het vir mekaar 'n eed gesweer. Daarop het Isak hulle laat gaan, en hulle het in vrede van hom af weggetrek. Dieselfde dag kom toe die dienaars van Isak en vertel hom van die put wat hulle gegrawe het, en sê vir hom: Ons het water gekry. En hy het dit Seba genoem. Daarom is die naam van die stad Berséba tot vandag toe. Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Judit, die dogter van Beëri, die Hetiet, vir hom as vrou geneem, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet. En hulle was vir Isak en Rebekka 'n bitter verdriet.

GENESIS 26:17-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hy is toe daar weg en hy het by Gerarspruit kamp opgeslaan en daar gebly. Isak het toe die putte oopgegrawe wat in sy pa Abraham se tyd gegrawe is en wat na Abraham se dood deur die Filistyne toegegooi is. Isak het die name wat sy pa aan die putte gegee het, weer aan hulle gegee. Isak se slawe het 'n put gegrawe in die spruit en sterk water gekry. Toe stry die skaapwagters van Gerar met dié van Isak en sê: “Dié water behoort aan ons.” Isak het toe die put “Rusie” genoem, omdat hulle daar met hom rusie gemaak het. Sy slawe het 'n ander put gegrawe, en ook daaroor het die Filistyne klagtes gehad, en toe noem Isak dit “Klagte”. Van daar af het hy versit en 'n ander put gegrawe, en hulle het nie daaroor gestry nie. Toe noem hy die put “Ruimte”, “want,” het hy gesê, “nou het die Here vir ons ruimte gemaak en in dié land sal ons voorspoedig wees.” Van daar af het Isak na Berseba toe getrek, en die nag toe hy daar kom, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou 'n groot nageslag gee ter wille van my dienaar Abraham.” Isak het daar 'n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het 'n put gegrawe. Toe kom Abimelek uit Gerar saam met Agussat sy vertroueling en Pikol die bevelvoerder van sy leër na Isak toe, en Isak sê vir hulle: “Waarom kom julle na my toe? En dit nogal nadat julle my onvriendelik behandel het en my van julle af weggestuur het!” Hulle het geantwoord: “Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou. Ons wil onder eed 'n ooreenkoms met jou aangaan. Ons wil 'n verdrag met jou sluit dat jy ons nie sleg sal behandel nie, net soos ons jou nie benadeel het nie. Ons het net goed aan jou gedoen en jou sonder enige skade van ons af laat weggaan. Dit is so: jy word deur die Here geseën.” Isak het toe vir hulle 'n maaltyd klaargemaak en hulle het geëet. Die volgende môre het hulle vroeg klaargemaak en hulle en Isak het aan mekaar 'n belofte onder eed gemaak. Toe het Isak hulle laat gaan en is hulle in vrede van hom af weg. Daardie dag het Isak se slawe gekom en hom vertel van die put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry.” Toe noem hy dit Seba en daarom is die naam van die stad nou nog Berseba . Toe Esau veertig was, het hy getrou met Jehudit dogter van Beëri, 'n Hetiet, en met Basemat dogter van Elon, 'n Hetiet. Hulle het baie kommer in Isak en Rebekka se lewe gebring.

GENESIS 26:17-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Isak het daarvandaan weggegaan en kamp opgeslaan in die Gerardal. Hy het hom daar gevestig. Isak het die putte wat in die tyd van Abraham, sy vader, gegrawe is, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, weer oopgegrawe. Hy het hulle dieselfde name gegee wat sy vader hulle gegee het. Terwyl die slawe van Isak in die dal grawe, kom hulle toe daar in 'n put af op 'n wateraar. Maar die herders van Gerar het met Isak se herders gestry en gesê: “Die water behoort aan ons!” Hy het toe die put Esek genoem, omdat hulle daaroor rusie gemaak het. Isak se slawe het toe 'n ander put gegrawe, maar hulle het ook daaroor gestry. Daarom het Isak dit Sitna genoem. Hy het daarvandaan verder getrek en 'n ander put gegrawe, maar daaroor is daar nie gestry nie. Hy het dit Regobot genoem, “want,” het hy gesê, “nou het die HERE vir ons ruimte gemaak, en ons sal vrugbaar wees in die land.” Hy het toe daarvandaan opgetrek na Berseba. Daardie nag het die HERE aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou. Ek sal jou seën en jou nageslag talryk maak ter wille van Abraham, my dienskneg.” Hy het toe daar 'n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het daar 'n put uitgekap. Abimeleg het uit Gerar na hom gekom, en ook Agussat, sy vriend, en Pigol, die bevelvoerder van sy leër. Isak sê toe vir hulle: “Waarom kom julle nou na my toe, terwyl dit julle is wat vyandig was teenoor my, en my van julle af weggestuur het?” Hulle het geantwoord: “Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is. Toe dink ons: Daar moet tog 'n ooreenkoms tussen ons wees – tussen ons en jou. Ons wil 'n verdrag met jou sluit: Jy moet ons nie kwaad aandoen nie, net soos ons nie aan jou geraak het nie, en soos wat ons net goed aan jou gedoen en jou ongedeerd weggestuur het. Jy is nou die geseënde van die HERE.” Isak het toe vir hulle 'n maaltyd voorberei, en hulle het geëet en gedrink. Hulle het vroeg die oggend opgestaan en vir mekaar 'n eed afgelê. Isak het hulle daarna weggesien, en hulle het in vrede van hom af weggegaan. Op dieselfde dag het Isak se slawe gekom en hom ingelig oor die put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry!” Hy het dit toe Seba genoem. Daarom is die naam van die dorp Berseba; dit is vandag nog so. Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Jehudit, die dogter van Beëri, die Hetiet, as vrou geneem, en ook Basemat, die dogter van Elon, die Hetiet. Vir Isak en Rebekka was hulle 'n bron van bitter verdriet.

GENESIS 26:17-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Isak het daarvandaan weggetrek en sy tent opgeslaan in die dal Gerar en daar gaan woon. Isak het weer die waterputte gegrawe wat hulle gegrawe het in die dae van sy vader Abraham; want die Filistyne het hulle gestop ná die dood van Abraham, en hy het hulle name genoem na die name waarmee sy vader hulle vernoem het. En die dienaars van Isak het in die dal gegrawe en daar 'n put met fontein gekry. En die veewagters van Gerar het met die veewagters van Isak getwis en gesê: Die water is ons s'n; en hy het die put Esek genoem; want hulle het met hom getwis. Hulle het 'n ander put gegrawe en ook daaroor gestry, en hy het dit Sitna genoem. En hy het daarvandaan weggetrek en 'n ander put gegrawe; en daarom het hulle nie getwis nie; en hy het dit Rehobot genoem; en hy sê: Want nou het die HERE vir ons plek gemaak, en ons sal vrugbaar wees in die land. En hy het daarvandaan opgegaan na Berseba. Die HERE het dieselfde nag aan hom verskyn en gesê: Ek is die God van jou vader Abraham; moenie vrees nie, want Ek is met jou en sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van my kneg Abraham. En hy het daar 'n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar 'n put gegrawe. Daarna het Abimeleg van Gerar af na hom toe gegaan, en Ahussat, een van sy vriende, en Pikol, die owerste van sy leër. En Isak sê vir hulle: Waarom kom julle na my toe, aangesien julle my haat en my van julle af weggestuur het? Toe sê hulle: Ons het beslis gesien dat die HERE met jou is; en ons het gesê: Laat daar tog 'n eed wees tussen ons, tussen ons en jou, en laat ons 'n verbond met jou sluit; dat jy ons geen kwaad sal aandoen nie, omdat ons jou nie aangeraak het nie, en soos ons jou niks anders as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het; nou is jy die geseënde van die HERE. Hy het vir hulle 'n feesmaal gemaak, en hulle het geëet en gedrink. En hulle het vroeg in die môre opgestaan en vir mekaar gesweer; en Isak het hulle weggestuur, en hulle het in vrede van hom weggegaan. Dieselfde dag het die dienaars van Isak gekom en hom vertel van die put wat hulle gegrawe het, en vir hom gesê: Ons het water gekry. En hy het dit Seba genoem; daarom is die naam van die stad Berseba tot vandag toe. Esau was veertig jaar oud toe hy Judit, die dogter van Beëri, die Hetiet, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet, as vrou geneem het. Wat vir Isak en Rebekka 'n hartseer was.

GENESIS 26:17-35 Die Boodskap (DB)

Isak het toe weggetrek en in die Gerarvallei gekom. Daar het hy ’n ruk lank gebly. Na ’n tydjie het Isak teruggegaan en begin om stuk-stuk al die waterputte oop te grawe wat sy pa se mense nog gegrawe het. Dit was die putte wat die Filistyne na Abraham se dood toegestop het. Isak het hulle dieselfde name gegee as wat sy pa hulle genoem het. Toe Isak se mense besig was om in die vallei te grawe, het hulle op ’n put met fonteinwater afgekom. ’n Hewige rusie het tussen die mense van Gerar en Isak se herders ontstaan. Gerar se mense het gesê: “Dit is ons water hierdie.” Isak het die put toe “Rusie” genoem omdat hulle daar met hom rusie gemaak het. Isak-hulle het nog ’n put oopgegrawe en weer was daar ’n getwis. Dit was so erg dat hy dit “Klagte” genoem het. Isak het weggegaan en op ’n ander plek ’n put gaan grawe. Toe niemand daaroor gekla het nie, het hy dit “Ruimte” genoem en gesê: “Die Here het nou vir ons ruimte gemaak. Ons sal baie mense word in dié land.” Na ’n ruk het Isak weer sy goed opgepak en Berseba toe getrek. Sommer nog dieselfde nag het die Here na hom toe gekom en gesê: “Isak, Ek is die God van jou pa, Abraham. Jy moet vir niks bang wees nie, want Ek is by jou. Omdat jou pa My getrou gedien het, sal Ek jou seën en vir jou ’n groot nageslag gee.” Uit dankbaarheid het Isak vir die Here ’n altaar gebou en Hom aanbid. Hy het ook sy tent daar opgeslaan en sy mense het weer ’n put gegrawe. Abimelek het uit Gerar getrek en Isak kom besoek. Saam met hom was Agussat, sy vertroueling, en Pikol, die hoof van die leër. Isak vra hulle toe: “Wat wil julle hê? Julle haat my mos. Julle het my dan weggejaag!” Abimelek en sy manne het toe gesê: “Isak, dit is vir ons duidelik dat die Here by jou is. Daarom het ons besluit dat ons met jou ’n ooreenkoms wil maak. Ons wil ’n verbond met jou sluit sodat jy ons nooit sleg sal behandel nie. Toe jy destyds tussen ons gewoon het, was ons nie lelik met jou nie. Ons was goed vir jou en het jou in vrede laat weggaan. Isak, die Here het jou werklik voorspoedig gemaak.” Isak het vir hulle ’n feesmaaltyd voorgesit. Hulle het geëet en gedrink. Vroeg die volgende oggend het hulle opgestaan en ’n ooreenkoms met mekaar gesluit. Isak het hulle gegroet en sy gaste het vertrek. Hulle was bly en gelukkig. Op dieselfde dag het Isak se mense hom van ’n put kom vertel. Hulle was nog besig om te grawe toe hulle skielik sterk water gekry het. Isak het die put Seba genoem en tot vandag toe noem hulle daardie stad Berseba. Toe Esau 40 jaar oud was, het hy met twee Hetitiese vroue getrou: Judit, die dogter van Beëri, en Basemat, die dogter van Elon. Hierdie twee vroue het Isak en Rebekka diep ongelukkig gemaak.

GENESIS 26:17-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarom het Isak na Gerarlaagte verskuif en daar gaan woon. Hy het die putte wat sy pa gegrawe het, maar wat die Filistyne ná Abraham se dood toegegooi het, weer oopgegrawe. Isak het dieselfde name vir die putte gegee as wat Abraham vir hulle gegee het. Sy skaapwagters het ook in Gerarlaagte gegrawe en ’n sterk fontein gekry. Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. “Dis ons water,” het hulle gesê en met Isak se skaapwagters rusie gemaak. Isak noem toe die put Esek omdat hulle daaroor rusie gemaak het. Isak se mense het toe ’n ander put gegrawe, maar die Filistyne het ook daaroor beswaar gemaak. Isak noem dit toe Sitna. Hy het weer verskuif en nog ’n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot, “want,” het hy gesê, “uiteindelik het die HERE vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees.” Isak het daarvandaan na Berseba toe getrek. Met sy aankoms daar het die HERE die aand aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou en sal jou seën. Ek sal jou nageslag baie maak en hulle sal ’n groot nasie word. Ek sal dit doen omdat Ek dit vir Abraham, my dienskneg, belowe het.” Toe bou Isak daar ’n altaar en aanbid die HERE. Hy het daar kamp opgeslaan en sy slawe het daar ’n put gegrawe. Op ’n dag kry Isak besoekers uit Gerar. Dit was koning Abimelek saam met sy raadgewer Agussat en Pikol, die bevelvoerder van sy leër. “Hoekom het julle na my toe gekom?” vra Isak hulle. “Julle haat my en het my van julle af weggestuur.” Hulle antwoord hom: “Dis vir ons duidelik dat die HERE met jou is. Daarom het ons gekom om ’n verdrag met jou te sluit. Lê ’n eed af dat jy ons nie kwaad sal aandoen nie, net soos ons jou nie skade berokken het nie. Ons het jou net goed behandel en jou in vrede weggestuur. En kyk hoe seën die HERE jou!” Isak het ’n groot fees voorberei en hulle het geëet en gedrink. Vroeg die volgende oggend het hulle onder eed ’n verdrag gesluit. Isak het hulle toe in vrede laat gaan. Daardie selfde dag kom rapporteer Isak se slawe oor ’n put wat hulle gegrawe het. “Ons het water gekry!” het hulle gesê. Isak noem toe die put Seba. Daarom is die naam van die stad nou nog Berseba, “put van die eed”. Toe hy 40 jaar oud was, het Esau met Jehudit, die dogter van Beëri, ’n Hetiet, getrou. Hy het ook met Basemat, die dogter van Elon, ook ’n Hetiet, getrou. Esau se twee vroue het egter vir Isak en Rebekka baie verdriet besorg.