So is die hemel en die aarde en alles wat daarby hoort, voltooi. God was op die sewende dag klaar met sy werk wat Hy gedoen het; en Hy het op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gedoen het. God het die sewende dag geseën; Hy het dit heilig verklaar, want op dié dag het Hy gerus van al sy werk – dit wat God geskep het deur dit te maak. Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het – geen struike van die veld was al op die aarde nie, en geen gewasse van die veld het al uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was nie 'n mens om die grond te bewerk nie, maar 'n ondergrondse stroom water het uit die aarde opgewel en die hele oppervlakte van die grond nat gemaak – het die HERE God die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens 'n lewende wese geword. Die HERE God het 'n tuin aangeplant in Eden, in die ooste en die mens wat Hy gevorm het, daar geplaas. Die HERE God het uit die grond allerhande bome laat uitspruit – 'n genoeë om na te kyk en goed om van te eet. Die boom van die lewe was in die middel van die tuin, en ook die boom van die kennis van goed en kwaad. 'n Rivier vloei uit Eden om die tuin nat te maak, en van daar af vertak dit. Dit word vier hoofstrome. Die naam van die eerste is Pison. Dit is die een wat vloei om die hele land Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie landstreek is goed. Daar is ook balsemhars en •oniksgesteentes. Die naam van die tweede rivier is Gihon. Dit is die een wat om die hele land Kus vloei. Die naam van die derde rivier is Hiddekel. Dit is die een wat aan die oostekant van Assirië vloei. Die vierde rivier is die Eufraat. Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas.
Lees Genesis 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: Genesis 2:1-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's