GENESIS 2:1-15
GENESIS 2:1-15 Die Boodskap (DB)
So het die hemel en die aarde en alles daarin ontstaan. Op die sewende dag was alles klaar. Al God se werk was afgehandel. Op die sewende dag het Hy toe gerus van al die werk wat Hy gedoen het. God het toe dié dag geseën en gesê dit moet afgesonder wees van die ander ses dae. Op die sewende dag het God nie gewerk nie, Hy het van die vorige dae se werk gerus. Dit is dan die verhaal van die hemel en die aarde en hoe dit ontstaan het. Die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was alles op aarde kurkdroog. Daar was nie ’n enkele plant in die grond nie en ook geen bossies in die veld nie. Alles was droog, want die Here God het nog nie reën op die aarde gestuur nie en daar was ook nog geen mens om die aarde te bewerk nie. ’n Mistigheid het later vanuit die dieptes van die aarde opgekom en die grond natgemaak. Toe het die Here God van die aarde se bogrond gevat en ’n mens daarvan gemaak. Hy het ook sy asem in die mens se neusgate geblaas en die mens het begin leef. Die Here God het toe ’n tuin in Eden, in die ooste, geplant en die mens daar laat bly. Die Here God het verskillende bome uit die vrugbare tuin se grond laat opkom; pragtige bome met heerlike vrugte wat lekker is om te eet. In die middel van die tuin het die boom van die lewe gestaan asook die boom van kennis van goed en kwaad. ’n Groot rivier het binne-in Eden ontstaan en die hele tuin natgemaak. Daarvandaan het dit in vier takke verdeel. Die naam van die een tak was die Pison. Dit het deur die land van Hawila gekronkel. In Hawila was daar suiwer goud, balsem en oniks. Die tweede rivier is die Gihon genoem. Dit het deur die land Kus geloop. Die Tigris was die derde rivier. Dit is die een wat oos van Assur verbyloop. En die vierde rivier was die Eufraat. Die Here God het die mens in die tuin gesit sodat hy dit kon bewerk en oppas.
GENESIS 2:1-15 Bybel vir almal (ABA)
God het die hemel en alles daarin klaar gemaak en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was al die werk wat God gedoen het, klaar. Hy het op die sewende dag gerus, Hy het nie gewerk nie. God het die sewende dag geseën. Hy het dit 'n gewyde dag gemaak, want op daardie dag het Hy gerus nadat Hy al sy werk klaar gedoen het. Dit is hoe die hemel en die aarde begin het toe God dit gemaak het. Toe die Here God die hemel en die aarde gemaak het, was daar nog nie plante in die veld op die aarde nie. Daar het nog nie plante gegroei nie, want die Here God het nog nie reën op die aarde laat val nie. Daar was ook nog nie 'n mens wat in die grond kon werk nie. Daar het water uit die aarde opgekom en die water het die grond natgemaak. Toe het die Here God stof geneem uit die grond en Hy het van die stof 'n mens gemaak. Die Here God het asem in die mens se neus geblaas, en die mens het begin lewe. Die Here God het bome geplant in 'n tuin in Eden in die ooste. Hy het die mens wat Hy gemaak het, daar laat woon. Die Here God het verskillende soorte bome uit die grond laat groei. Dit was mooi bome wat lekker vrugte gedra het. In die middel van die tuin was die boom wat lewe gee, en ook die boom wat vir mense die kennis kan gee sodat hulle sal weet wat goed is en wat sleg is. Daar het 'n rivier uit Eden gekom om die tuin nat te maak. Die rivier het verdeel en dit het vier riviere geword. Die naam van die een rivier was Pison. Hierdie rivier het om die hele Gawila-land gevloei. Daar was goud en die goud was goed. Daar was ook balsem en oniks. Die naam van die tweede rivier was Gihon. Dit het om die hele land Kus gevloei. Die naam van die derde rivier was Tigris. Dit het oos van die land Assirië gevloei. Die naam van die vierde rivier was Eufraat. Die Here God het die mens in die Eden-tuin laat woon om daarin te werk en dit op te pas.
GENESIS 2:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SO is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak. DIT is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. Maar 'n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword. Ook het die HERE God 'n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, 'n plek gegee. En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. En daar het 'n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat. Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.
GENESIS 2:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie 'n mens om die grond te bewerk nie. Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het. Die Here God het toe 'n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis. Daar het 'n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat. Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.
GENESIS 2:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
So is die hemel en die aarde en alles wat daarby hoort, voltooi. God was op die sewende dag klaar met sy werk wat Hy gedoen het; en Hy het op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gedoen het. God het die sewende dag geseën; Hy het dit heilig verklaar, want op dié dag het Hy gerus van al sy werk – dit wat God geskep het deur dit te maak. Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het – geen struike van die veld was al op die aarde nie, en geen gewasse van die veld het al uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was nie 'n mens om die grond te bewerk nie, maar 'n ondergrondse stroom water het uit die aarde opgewel en die hele oppervlakte van die grond nat gemaak – het die HERE God die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens 'n lewende wese geword. Die HERE God het 'n tuin aangeplant in Eden, in die ooste en die mens wat Hy gevorm het, daar geplaas. Die HERE God het uit die grond allerhande bome laat uitspruit – 'n genoeë om na te kyk en goed om van te eet. Die boom van die lewe was in die middel van die tuin, en ook die boom van die kennis van goed en kwaad. 'n Rivier vloei uit Eden om die tuin nat te maak, en van daar af vertak dit. Dit word vier hoofstrome. Die naam van die eerste is Pison. Dit is die een wat vloei om die hele land Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie landstreek is goed. Daar is ook balsemhars en •oniksgesteentes. Die naam van die tweede rivier is Gihon. Dit is die een wat om die hele land Kus vloei. Die naam van die derde rivier is Hiddekel. Dit is die een wat aan die oostekant van Assirië vloei. Die vierde rivier is die Eufraat. Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas.
GENESIS 2:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
So was die hemel en die aarde volbring, en hulle hele leër. Op die sewende dag het God Sy werk voltooi wat Hy geskape het; en op die sewende dag het hy gerus van al Sy werk wat hy gemaak het. God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het na al die skeppingswerk wat hy gedoen het. Dit is dan die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is, asook van die mens in die tuin op die dag toe die HERE God hulle gemaak het. Asook al die plante van die veld voordat dit in die aarde was, en al die plante van die veld voordat dit gegroei het, want die HERE God het dit nie op die aarde laat reën nie, en daar was niemand om die grond te bewerk nie. Maar 'n mis het van die aarde af opgegaan en die hele oppervlakte van die aarde natgemaak. Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en die asem van die lewe in sy neus geblaas; en die mens het 'n lewende siel geword. Die HERE God het 'n tuin in Eden in die ooste geplant; en daar het hy die man wat hy gevorm het, neergesit. Die HERE God het verskillende bome uit die grond laat groei, pragtige bome met heerlike vrugte wat goed is om te eet. In die middel van die tuin het die boom van lewe gestaan, asook en die boom van kennis van goed en kwaad. 'n Rivier het uit Eden uitgegaan om die tuin nat te lei; en daarvandaan is dit geskei in vier koppe. Die naam van die eerste is Pison; dis wat die hele land Hawila omsingel, waar goud is; En die goud van daardie land is goed: daar is balsem en die onikssteen. Die naam van die tweede rivier is Gihon; wat die hele Kus land omtrek. Die naam van die derde rivier is Hiddekel; wat oos van Assirië loop. En die vierde rivier is Eufraat. Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden gesit om dit te bewerk en te bewaak.
GENESIS 2:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
So is die skepping van die hemel en die aarde en alles wat daarin is, voltooi. Op die sewende dag was God klaar met alles wat Hy gemaak het en Hy het op die sewende dag na al sy werk gerus. God het ook die sewende dag geseën. Hy het bepaal dat dit afgesonder moet word van die ander dae omdat Hy op daardie dag gerus het nadat Hy sy skeppingswerk gedoen het. Dit is dan die geskiedenis van die skepping van die hemel en die aarde. Toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog geen struike of groen gras op die aarde nie, want die HERE God het dit nog nie laat reën nie. Daar was nog nie ’n mens wat die grond kon bewerk nie. Maar water het uit die aarde opgeborrel en so is die grond natgemaak. Toe vorm die HERE God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ’n lewende wese, die mens, geword. Daarna het die HERE God ’n tuin in Eden in die ooste geplant. Hy het die mens wat Hy geskape het daarin laat woon. Die HERE God het ook verskillende soorte bome uit die grond laat opkom. Dit was mooi bome met heerlike vrugte. Die boom van die lewe het Hy in die middel van die tuin geplant en ook die boom van kennis van wat reg en verkeerd is. ’n Rivier wat in Eden ontspring het, het water na die tuin gebring en daar in vier strome verdeel. Die een, die Pison, loop om die hele land Gawila. Dis die plek wat ryk is aan goud. Die goud is van hoogstaande gehalte en daar is ook balsem en oniks. Die tweede, die Gihon, vloei om die hele land Kus. Die derde een, die Tigris, loop oos van Assirië verby. Die vierde is die Eufraat. Die HERE God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg.