Die mans vra toe vir Lot: “Wie van jou mense is nog hier in die stad – 'n skoonseun, jou seuns, jou dogters, of enige iemand van jou? Neem hulle uit hierdie plek, want ons gaan hierdie plek verdelg. Ja, die noodkreet teen hulle by die HERE is groot, en die HERE het ons gestuur om die stad te verdelg.” Lot het uitgegaan en met sy skoonseuns, wat sy dogters as vrou sou neem, gepraat. Hy het gesê: “Maak gereed en gaan uit hierdie plek uit! Want die HERE gaan die stad verdelg.” Maar in sy skoonseuns se oë was dit asof hy gekskeer. Net toe die dag breek, het die engele Lot aangespoor: “Staan op! Neem jou vrou en jou twee dogters wat hier is, anders word julle meegesleur oor die sondeskuld van die stad.” Hy het nog gehuiwer, toe gryp die mans hom, sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE Hom oor hom ontferm het. Hulle het hom uitgelei en buite die stad gelaat. Net nadat hulle hulle na buite uitgelei het, sê een van die mans: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moet nêrens in die hele Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die berge, anders word jy meegesleur.” Maar Lot het vir hulle gesê: “Asseblief nie, my Heer! Kyk, u dienskneg het guns gevind in u oë, en U het u troue liefde oorvloedig aan my bewys deur my te laat leef. Ek sal egter nie na die berge kan ontvlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterf nie. Kyk, hierdie dorp is naby genoeg om daarheen te kan vlug, en dit is 'n klein dorpie. Ek wil graag daarheen ontvlug; dit is mos maar klein; dan kan ek my lewe behou.” Hy het hom geantwoord: “Kyk, Ek sal jou ook in hierdie saak tegemoetkom deur nie die dorp waarvan jy praat, te verwoes nie. Vlug vinnig daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie.” Daarom word die dorp Soar genoem. Die son het oor die aarde opgekom toe Lot in Soar aankom. Die HERE het op Sodom en Gomorra swael en vuur laat reën wat van die HERE af uit die hemelruim kom. Hy het hierdie stede verwoes en die hele Jordaanstreek – al die inwoners van die stede en ook wat uit die grond spruit. Sy vrou het egter omgekyk, en sy het 'n soutpilaar geword. Abraham is vroeg die oggend na die plek waar hy voor die HERE gestaan het.
Lees Genesis 19
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Genesis 19:12-27
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's