“Het jy enige ander bloedverwante hier in die stad?” vra die engele. “Kry hulle uit hierdie plek uit, of dit nou skoonseuns, seuns, dogters of wie ook al is. Ons gaan hierdie plek heeltemal verwoes omdat die mense so sondig is. Daarom het die HERE ons gestuur om die plek te verwoes.” Lot is toe vinnig na sy dogters se aanstaande mans om hulle te vertel: “Maak gou, gaan uit die stad uit! Die HERE gaan dit verwoes!” Maar die jong mans het gedink hy maak ’n grap. Teen dagbreek die volgende dag het die engele by hulle aangedring: “Maak gou! Neem jou vrou en twee dogters wat by jou is uit hierdie plek, anders sal die verwoesting van die stad julle ook tref.” Toe Lot nog talm, gryp die engele sy hand en dié van sy vrou en twee dogters, en lei hulle haastig uit die stad uit, want die HERE was hulle genadig. Buite die stad waarsku een van die engele: “Vlug vir julle lewe! Moet nêrens in die vlakte gaan stilstaan nie! En moenie omkyk nie! Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan.” “Ag nee tog, Menere,” pleit Lot. “Julle was nou so goed om my lewe te red en het ook guns aan my betoon. Maar ek sal nie die berge haal nie. Die ramp sal my inhaal en ek sal doodgaan. Kyk, hier naby is ’n klein dorpie. Laat my asseblief tog daarheen vlug. Kyk net hoe klein is dit! Dan sal my lewe gespaar word.” “Goed,” sê die engel, “ek sal aan jou versoek voldoen. Ek sal die klein dorpie spaar. Maar maak gou om daar te kom, want ek kan niks doen voordat jy daar is nie.” Van toe af is die klein dorpie Soar genoem. Net toe die son opkom, het Lot by die dorpie aangekom. Toe het die HERE vuur en brandende swael uit die hemel op Sodom en Gomorra laat neerreën. Hy het hierdie stede en hulle omgewing totaal verwoes met al hulle inwoners en die plante en die diere. Agter hom het Lot se vrou omgekyk en toe in ’n soutpilaar verander. Dié oggend het Abraham vroeg opgestaan en hom gehaas na die plek waar hy by die HERE gestaan het.
Lees GENESIS 19
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: GENESIS 19:12-27
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's