En dit is my verbond tussen My en julle en jou nageslag ná jou wat julle moet nakom: Elke manlike persoon onder julle moet besny word. Julle moet besny word aan die vlees van julle voorhuide. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en julle. Op die ouderdom van agt dae moet elke manlike persoon by julle besny word, deur al julle geslagte heen – ook 'n kind uit die huishouding, en dié wat met geld gekoop is van enige vreemde en wat nie deel is van jou nageslag nie. 'n Kind uit die huishouding en dié wat met geld gekoop is, moet beslis besny word. My verbond moet aan julle liggame wees as 'n ewige verbond. 'n Onbesnede manlike persoon wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie – daardie persoon moet van sy mense afgesny word; my verbond het hy verbreek.”
God het vir Abraham gesê: “Sarai, jou vrou, moet jy nie meer Sarai noem nie; want haar naam moet Sara wees. Ek sal haar seën, en boonop sal Ek uit haar vir jou 'n seun gee. Ek sal haar seën, en sy sal tot nasies word; konings van volke sal uit haar voortkom.” Abraham het neergeval met sy gesig teen die grond, maar hy het gelag en in sy hart gesê: “Kan daar vir 'n honderdjarige 'n kind gebore word? Of sal Sara, 'n negentigjarige, kan geboorte skenk?” Toe sê Abraham vir God: “As Ismael maar net voor U kan leef!” Maar God het gesê: “Inteendeel, Sara, jou vrou gaan vir jou 'n seun in die wêreld bring, en jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom handhaaf, as 'n ewige verbond vir sy nageslag ná hom. Wat Ismael betref: Ek het jou verhoor. Kyk, Ek sal hom seën, hom vrugbaar maak en hom buitengewoon talryk maak. Twaalf leiers sal hy verwek, en Ek sal hom 'n groot nasie maak. Maar my verbond sal Ek handhaaf met Isak, wat Sara teen hierdie tyd volgende jaar vir jou in die wêreld sal bring.” Nadat Hy klaar met hom gepraat het, het God opgevaar, weg van Abraham af.
Abraham het sy seun Ismael geneem, ook al die kinders uit sy huishouding en almal wat met sy geld gekoop is, elke manlike persoon onder die mense van Abraham se huishouding, en hy het die vlees van hulle voorhuide besny – nog daardie selfde dag, soos God vir hom gesê het. Abraham was nege-en-negentig jaar oud toe hy besny is aan die vlees van sy voorhuid, en sy seun Ismael was dertien jaar oud toe hy besny is aan die vlees van sy voorhuid. Op dieselfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny, en ook al die manne van sy huishouding, die kinders uit sy huishouding en dié wat met geld gekoop is van vreemdes. Hulle is saam met hom besny.