Dít is my verbond wat jy en jou nageslag moet onderhou: Elke manlike persoon onder julle moet besny word. Julle moet aan die voorhuid besny word. Dit is die teken van die verbond tussen My en julle. Elke seun moet op die agtste dag na geboorte besny word. Dit geld nie net jou familie nie, maar ook alle slawe wat in jou huishouding gebore word en dié wat as slawe gekoop word. Almal moet besny word. So sal julle aan julle liggame die teken dra van my ewigdurende verbond. Elkeen wat nie besny is nie, sal afgesny word van God se belofte omdat hy die verbond verbreek het.” Verder sê God: “Jou vrou Sarai sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal haar naam Sara wees. Ek sal haar seën en sy sal vir jou ’n seun in die wêreld bring. Ek sal haar beslis ryklik seën. Sy sal moeder word van baie nasies en uit haar nageslag sal daar konings voortkom.” Toe het Abraham tot op die grond neergebuig en by homself gelag. “Hoe kan ek op 100 jaar pa word?” het hy gewonder. “Daarby is Sara nou 90 jaar. Hoe kan sy geboorte gee?” Abraham sê toe vir God: “Ja, mag Ismael maar net voor U lewe!” Maar God sê vir hom: “Nee, Sara, jou vrou, sal vir jou ’n kind in die wêreld bring. Jy sal hom Isak noem en dis met hóm en sý nageslag dat Ek my blywende verbond sal bevestig. Wat Ismael betref, Ek sal hom ook seën soos jy gevra het. Ek sal hom seën met ’n ryke nageslag wat ’n groot nasie sal word; twaalf heersers sal uit hom voortkom. Maar my verbond is met Isak wat Sara ongeveer hierdie tyd volgende jaar vir jou in die wêreld sal bring.” Dit was die einde van die gesprek en God het van Abraham af weggegaan. Op dieselfde dag nog het Abraham sy seun Ismael geneem, asook elke manlike persoon in sy huishouding, en hulle aan die voorhuid besny, presies soos God beveel het. Abraham was 99 jaar oud toe hy besny is en sy seun Ismael was dertien jaar. Albei is op dieselfde dag besny saam met al die ander mans en seuns in die huishouding, dié wat in die huishouding gebore is en dié wat as slawe gekoop is.
Lees GENESIS 17
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: GENESIS 17:10-27
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's