Genesis 16:6-16

Genesis 16:6-16 AFR20

Abram het Sarai geantwoord: “Kyk, jou slavin is in jou hand. Maak met haar soos dit goed is in jou oë.” Daarna het Sarai haar mishandel, en sy het van haar af weggevlug. Die •Engel van die HERE het haar by 'n waterbron in die woestyn, by die fontein op die pad na Sur, aangetref. Hy het vir haar gesê: “Hagar, slavin van Sarai, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” Sy het geantwoord: “Ek is aan die vlug, weg van my meesteres Sarai af.” Toe sê die Engel van die HERE vir haar: “Gaan terug na jou meesteres en onderwerp jou aan haar gesag.” Die Engel van die HERE het vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag besonder baie maak, sodat hulle vanweë hulle getalle nie getel kan word nie.” Die Engel van die HERE het ook vir haar gesê: “Kyk, jy is swanger en sal aan 'n seun geboorte gee. Jy moet hom Ismael noem, want die HERE het van jou mishandeling gehoor. En hy sal 'n wildedonkie van 'n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! In onvrede met al sy broers sal hy woon.” Hagar het toe die Naam aangeroep van die HERE wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?” Daarom word die put Beër-Lagai-Roï genoem. Dit lê daar tussen Kades en Bered. Hagar het vir Abram 'n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem. Abram was ses-en-tagtig jaar oud toe Hagar Ismael vir Abram in die wêreld gebring het.

Video vir Genesis 16:6-16