GENESIS 16:6-16

GENESIS 16:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar Abram sê vir Sarai: “Jou slavin staan onder jou. Doen met haar soos jy goeddink.” Sarai het haar slavin toe sleg behandel, en sy het weggeloop. Die Engel van die Here het vir Hagar ontmoet by 'n fontein in die woestyn, die fontein langs die pad na Sur toe, en vir haar gevra: “Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?” Toe antwoord sy: “Ek loop van my eienares Sarai af weg,” en die Engel van die Here sê vir haar: “Gaan terug na jou eienares toe en onderwerp jou aan haar gesag.” Verder het die Engel van die Here vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle te veel sal wees om te tel.” En toe sê die Engel van die Here ook nog vir haar: “Kyk, jy is swanger; jy sal 'n seun in die wêreld bring. Jy moet hom Ismael noem, want die Here het van jou swaarkry gehoor. Jou seun sal 'n man wees so ontembaar soos 'n wildedonkie: hy sal teen almal wees, en almal sal teen hom wees. Hy sal in vyandskap leef met sy bloedverwante.” Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is 'n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” Daarom word die fontein genoem Lagai-Roï-fontein . Die fontein is tussen Kades en Bered. Hagar het vir Abram 'n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem. Abram was ses en tagtig toe Hagar vir Ismael vir hom in die wêreld gebring het.

GENESIS 16:6-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Abram het Sarai geantwoord: “Kyk, jou slavin is in jou hand. Maak met haar soos dit goed is in jou oë.” Daarna het Sarai haar mishandel, en sy het van haar af weggevlug. Die •Engel van die HERE het haar by 'n waterbron in die woestyn, by die fontein op die pad na Sur, aangetref. Hy het vir haar gesê: “Hagar, slavin van Sarai, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” Sy het geantwoord: “Ek is aan die vlug, weg van my meesteres Sarai af.” Toe sê die Engel van die HERE vir haar: “Gaan terug na jou meesteres en onderwerp jou aan haar gesag.” Die Engel van die HERE het vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag besonder baie maak, sodat hulle vanweë hulle getalle nie getel kan word nie.” Die Engel van die HERE het ook vir haar gesê: “Kyk, jy is swanger en sal aan 'n seun geboorte gee. Jy moet hom Ismael noem, want die HERE het van jou mishandeling gehoor. En hy sal 'n wildedonkie van 'n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! In onvrede met al sy broers sal hy woon.” Hagar het toe die Naam aangeroep van die HERE wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?” Daarom word die put Beër-Lagai-Roï genoem. Dit lê daar tussen Kades en Bered. Hagar het vir Abram 'n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem. Abram was ses-en-tagtig jaar oud toe Hagar Ismael vir Abram in die wêreld gebring het.

GENESIS 16:6-16 Die Boodskap (DB)

Abram het toe gesê: “Dis jou slavin, maak met haar wat jy wil.” Sarai het haar toe so sleg behandel dat Hagar haar goed gevat en weggeloop het. Die Here het deur sy Engel vir Hagar by ’n fontein in die woestyn ontmoet. Dit is die fontein op die pad na Sur. Hy vra haar toe: “Hagar, Sarai se slavin, sê My, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” “Ek vlug van my eienares, Sarai, af weg,” het sy geantwoord. Die Here se Engel sê toe vir haar: “Gaan terug na daardie plek toe waar jy nie wil wees nie. Gaan terug na jou eienares en doen wat sy vir jou sê. Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle nie getel kan word nie.” Die Here se Engel het ook nog verder gesê: “Jy verwag en binnekort sal jy ’n seun hê. Jy moet hom Ismael noem (dit beteken: ‘God het gehoor’), want die Here het jou gehoor toe jy in jou nood geroep het. Soos ’n wilde donkie in die veld sal jou seun wees. Vry en ongebonde sal hy leef. Niemand sal oor hom heers nie. Teen almal sal hy hom verset en almal sal hom probeer tem. Met sy eie mense sal hy in vyandskap leef.” Hagar het toe ’n naam vir die Here gegee: “U is die God wat mense raaksien en vir hulle sorg. Vandag het ek God gesien wat my raakgesien het.” Tot vandag toe noem hulle die fontein die Beer-Lagai-Roï. Dit is die fontein daar tussen Kades en Bered. Hagar het na Abram en Sarai teruggegaan. Na ’n ruk is haar seun gebore. Abram het die kind Ismael genoem. Abram was 86 jaar oud toe Ismael gebore is.