Galasiërs 3:19-29

Galasiërs 3:19-29 AFR20

Hoekom dan die wet? Die wet is bygevoeg met die oog op die oortredings; dit is gegee totdat die Saad sou kom aan wie die belofte gemaak is; dit is beskik deur middel van engele en deur die tussenkoms van 'n middelaar. 'n Middelaar beteken egter dat daar nie net een betrokke is nie; maar God is één! Is die wet dan in stryd met die beloftes van God? Hoegenaamd nie! Want as daar 'n wet gegee sou wees wat lewend kon maak, sou die •vryspraak eintlik op grond van die wet kon geskied. Maar die Skrif het alles onder die sonde ingesluit, sodat die belofte wat op geloof in Jesus •Christus gegrond is, gegee kon word aan diegene wat glo. Voordat hierdie geloof gekom het, was ons onder die toesig van die wet, ingesluit met die oog op die geloof wat in die toekoms geopenbaar sou word. Die wet was dus ons oppasser, met die oog op Christus, sodat ons deur geloof geregverdig kon word. Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van 'n oppasser nie. Want deur die geloof is julle almal kinders van God in •Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos 'n kleed aangetrek. Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik en vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus! En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.