GALASIËRS 3:19-29

GALASIËRS 3:19-29 Die Boodskap (DB)

Waarom is die wet dan nog nodig? Wel, God het dit later gegee sodat mense presies kon weet wat sonde is. Die wet sou egter net geld totdat daardie een afstammeling van Abraham van wie ek hier bo gepraat het, op die toneel verskyn. Vroeër is die wet deur die engele aan Moses gegee. Moses was toe die tussenganger tussen God en sy volk. Soos julle weet, is tussengangers gewoonlik nodig wanneer twee groepe met mekaar ’n ooreenkoms sluit. Maar wanneer God self iets doen, soos toe Hy sy beloftes aan Abraham gemaak het, is daar geen tussengangers nodig nie. God doen dit sommer self. Staan die wet van Moses teenoor die beloftes wat God aan Abraham gemaak het? Weerspreek hulle mekaar? Nee, natuurlik nie. Maar dit beteken nog nie dat die wet ons by die ware lewe kan uitbring nie. As dit die geval was, het ons mos niks meer as die wet nodig gehad nie. Dan kon ons ons eie saak met God regmaak deur net te doen wat die wet sê. Maar dis glad nie so eenvoudig nie. Die Bybel sê vir ons dat ons almal in die mag van die sonde vasgevang is. God se belofte dat Hy almal vryspreek wat glo, is daarom net vir dié van ons bedoel wat in Jesus Christus glo. Voordat hierdie nuwe tydvak van geloof aangebreek het, was ons almal in ’n yslike groot tronk opgesluit. Die wet het ons dag vir dag opgepas totdat hierdie wonderlike nuwe tyd van geloof aangebreek het. Ja, soos ’n kwaai oppasser het die wet heeltyd oor ons baasgespeel totdat Christus uiteindelik gekom het. Maar nou het ons geloof ons in die regte verhouding met God gebring. Daarom staan ons nie meer onder die baasskap van die wet nie. Nee, nou is julle almal God se kinders omdat julle in Christus Jesus glo. Weet julle, toe julle gedoop is, het julle deel gekry aan Christus se redding. Julle doop was soos ’n stel splinternuwe klere. By julle doop het julle Christus aangetrek soos ’n mens ’n stel nuwe klere aantrek. Nou behoort julle heeltemal aan Hom. Omdat julle aan Christus behoort, is julle nou ook deel van sy nuwe familie. Binne hierdie familie maak dit glad nie saak aan watter volk jy behoort nie. Of wat jou status of jou geslag is nie. Hier gaan dit nie daaroor of jy ’n Jood of ’n Griek is nie, en of jy ’n slaaf of ’n baas is nie, en of jy ’n man of ’n vrou is nie. Binne sy familie is almal gelyk. Almal hier binne is nou soos een nuwe mens in Christus Jesus. Julle wat deel is van Christus se familie is natuurlik ook lede van Abraham se nageslag. Daarom geld al die beloftes wat God aan hom gemaak het ook vir julle.

GALASIËRS 3:19-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Waarom dan die wet? Dit het bygekom met die oog op die sonde totdat die “Nakomeling” op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger aan Israel gegee. My argument is: ’n Tussenganger is nie nodig as daar net een party is nie. En God is net één! Is die wet dus in stryd met God se beloftes? Verseker nie! As daar ’n wet was wat ware lewe kon gee, sou ons inderdaad vrygespreek kon word deur daardie wet te gehoorsaam. Maar die Skrif getuig die teendeel: Alles is vasgevang in die greep van sonde sodat die belofte op grond van geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee sou kon word. Voordat die geloof gekom het, is ons deur die wet bewaak. Ons was gevange gehou totdat God se plan van geloof geopenbaar sou word. Die wet het ons soos ’n kinderopvoeder opgepas totdat Christus gekom het. Ons is opgepas sodat ons deur te glo God se vryspraak kon ontvang. Noudat die tyd van geloof gekom het, staan ons egter nie langer onder die toesig van ’n kinderopvoeder nie. Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo. Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal. Nou is daar nie langer sprake van Jood of Griek, slaaf of vryman, man of vrou nie; julle is tog almal één in Christus Jesus. Verder, omdat julle aan Christus behoort, ís julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!

GALASIËRS 3:19-29 Bybel vir almal (ABA)

Hoekom het God die wette gegee? Hy het dit gegee omdat mense sonde doen. Maar die wette was net belangrik totdat Christus gekom het. Christus is die nageslag van Abraham, en dit wat God vir Abraham belowe het, het Hy vir Christus belowe. Engele het die wette vir Moses gegee, en Moses het die wette vir die mense gegee. God het die wette vir Moses gegee en Moses het die wette vir die mense gegee. Dit beteken: Die wette het nie reguit van God gekom nie. Maar ons weet: God is een. Is die wette en God se beloftes dan vyande van mekaar? Nee, glad nie. Maar die wette kan nie vir mense die ware lewe gee nie, daarom sal God hulle nie vryspreek wanneer hulle doen wat die wette sê nie. Die Ou Testament sê almal is sondaars, maar nou gee God die dinge wat Hy belowe het vir die mense wat in Jesus Christus glo. Die wette was vir ons soos 'n wag. Dit het ons toegesluit en opgepas totdat God gesê het dit is nou die regte tyd vir mense om in Christus te glo. Die wette het ons opgepas soos 'n mens 'n kind oppas wat nie vir homself kan sorg nie. Die wette het ons opgepas totdat Christus gekom het. Toe het ons in Hom geglo, en God het ons vrygespreek van ons sondes. Nou glo ons in Christus en daarom is dit nie nodig dat die wette ons moet oppas nie. Julle almal is kinders van God, want julle glo in Christus Jesus. Julle is gedoop en julle is nou by Christus. Christus is nou so naby julle soos die klere wat julle aantrek. Party van julle is Jode en party is Grieke, party van julle is slawe en party is nie slawe nie, party van julle is mans en party is vroue. Maar dit alles maak nie meer saak nie, want julle behoort almal saam aan Christus Jesus, julle is een. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die kinders van Abraham en dan kry julle wat God belowe het. Ja, julle kry dit omdat God dit belowe het.

GALASIËRS 3:19-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Watter doel dien die wet dan? Dit is later bygevoeg as gevolg van die sonde, en dit is bedoel vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van 'n tussenganger aan die volk gegee. Maar as daar net één is wat handel, is 'n tussenganger nie nodig nie, en God ís net een. Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God? Beslis nie! As 'n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou 'n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus. Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie. Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.