Trouens, diegene wat op die uitvoering van die wet staatmaak, val onder 'n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie hou by alles wat in die Wet geskryf staan, en dit nie uitvoer nie.”
En dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig word nie, is duidelik, want: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” En die wet is nie gegrond op geloof nie; inteendeel: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.”
•Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek 'n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.” Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus, na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.
Broers, ek noem 'n voorbeeld uit ons daaglikse lewe: Dit is soos iemand se testament wat bekragtig is; niemand maak dit ongeldig of voeg bepalings by nie. En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie “en aan die sade” soos wat 'n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat 'n mens na een verwys: “en aan jou Saad” – dit is •Christus. Dit is wat ek bedoel: Die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak nie die verbond wat vroeër deur God bekragtig is, kragteloos, en daardeur die belofte tot niet nie. Immers, as die erfenis op die wet berus, berus dit nie meer op die belofte nie. Maar God het dit uit genade vir Abraham deur 'n belofte geskenk.
Hoekom dan die wet? Die wet is bygevoeg met die oog op die oortredings; dit is gegee totdat die Saad sou kom aan wie die belofte gemaak is; dit is beskik deur middel van engele en deur die tussenkoms van 'n middelaar. 'n Middelaar beteken egter dat daar nie net een betrokke is nie; maar God is één!
Is die wet dan in stryd met die beloftes van God? Hoegenaamd nie! Want as daar 'n wet gegee sou wees wat lewend kon maak, sou die •vryspraak eintlik op grond van die wet kon geskied. Maar die Skrif het alles onder die sonde ingesluit, sodat die belofte wat op geloof in Jesus •Christus gegrond is, gegee kon word aan diegene wat glo.
Voordat hierdie geloof gekom het, was ons onder die toesig van die wet, ingesluit met die oog op die geloof wat in die toekoms geopenbaar sou word. Die wet was dus ons oppasser, met die oog op Christus, sodat ons deur geloof geregverdig kon word. Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van 'n oppasser nie.
Want deur die geloof
is julle almal kinders van God
in •Christus Jesus,
want julle wat in Christus gedoop is,
het Christus soos 'n kleed aangetrek.
Daar is nou nie meer Jood of Griek,
nie meer slaaf of vryman,
nie meer manlik en vroulik nie;
want julle almal is één
in Christus Jesus!
En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.