GALASIËRS 3:10-29

GALASIËRS 3:10-29 Bybel vir almal (ABA)

Daar is mense wat dink God spreek hulle vry omdat hulle doen wat die wette sê, maar God vervloek hulle. Want in die Ou Testament is geskryf: God vervloek elkeen wat nie alles doen wat in die wette geskryf is nie. Ja, dit is waar. God spreek nie mense vry omdat hulle doen wat die wette sê nie. As mense doen wat die wette sê, dan spreek God hulle nie vry nie. Want in die Ou Testament is geskryf: Wanneer God mense vryspreek omdat hulle glo, dan sal hulle lewe. Die wette vra nie dat mense moet glo nie, die wette vra dat die mense moet doen wat die wette sê. Want in die Ou Testament is geskryf: Elkeen wat doen wat die wette sê, sal lewe omdat hy dit gedoen het. Ja, God vervloek almal wat nie doen wat die wette sê nie. Maar God het ons nie vervloek nie, Hy het Christus vervloek in ons plek. Want in die Ou Testament is geskryf: God vervloek elkeen wat aan 'n houtpaal hang. En so het Christus ons vrygemaak. Daarom kon die heidene God se seën kry, die seën wat Hy vir Abraham belowe het en wat Hy nou vir hulle gee omdat hulle aan Christus Jesus behoort. Daarom kon ons wat glo, die Heilige Gees kry, die Gees wat God vir ons belowe het. Vriende, ek gaan nou 'n voorbeeld gebruik om te verduidelik wat ek sê: Wanneer 'n mens 'n testament gemaak het, dan kan iemand anders dit nie verander of sê dit beteken niks nie. Dit is dieselfde met die verbond. In die Ou Testament is geskryf dat God 'n belofte gemaak het aan Abraham en aan sy nageslag. Daar is nie geskryf “baie nageslagte” nie, maar “een nageslag,” en dit is Christus. God het eers sy verbond gemaak met sy volk en 430 jaar later het Hy die wette gegee. Nou sê ek: Die wette het baie later gekom, daarom kan die wette nie God se verbond verander en God se belofte breek nie. As ons eers moet doen wat die wette sê sodat ons dit kan kry wat God vir ons wil gee, dan kry ons dit omdat ons doen wat die wette sê, nie omdat God dit belowe het nie. Maar ons weet God het dit vir Abraham gegee omdat God goed was vir Abraham en omdat God dit belowe het. Hoekom het God die wette gegee? Hy het dit gegee omdat mense sonde doen. Maar die wette was net belangrik totdat Christus gekom het. Christus is die nageslag van Abraham, en dit wat God vir Abraham belowe het, het Hy vir Christus belowe. Engele het die wette vir Moses gegee, en Moses het die wette vir die mense gegee. God het die wette vir Moses gegee en Moses het die wette vir die mense gegee. Dit beteken: Die wette het nie reguit van God gekom nie. Maar ons weet: God is een. Is die wette en God se beloftes dan vyande van mekaar? Nee, glad nie. Maar die wette kan nie vir mense die ware lewe gee nie, daarom sal God hulle nie vryspreek wanneer hulle doen wat die wette sê nie. Die Ou Testament sê almal is sondaars, maar nou gee God die dinge wat Hy belowe het vir die mense wat in Jesus Christus glo. Die wette was vir ons soos 'n wag. Dit het ons toegesluit en opgepas totdat God gesê het dit is nou die regte tyd vir mense om in Christus te glo. Die wette het ons opgepas soos 'n mens 'n kind oppas wat nie vir homself kan sorg nie. Die wette het ons opgepas totdat Christus gekom het. Toe het ons in Hom geglo, en God het ons vrygespreek van ons sondes. Nou glo ons in Christus en daarom is dit nie nodig dat die wette ons moet oppas nie. Julle almal is kinders van God, want julle glo in Christus Jesus. Julle is gedoop en julle is nou by Christus. Christus is nou so naby julle soos die klere wat julle aantrek. Party van julle is Jode en party is Grieke, party van julle is slawe en party is nie slawe nie, party van julle is mans en party is vroue. Maar dit alles maak nie meer saak nie, want julle behoort almal saam aan Christus Jesus, julle is een. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die kinders van Abraham en dan kry julle wat God belowe het. Ja, julle kry dit omdat God dit belowe het.

GALASIËRS 3:10-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe. Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang — sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang. Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs 'n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie. Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus. Maar ek sê dít: die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie. Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur 'n belofte genadiglik geskenk. Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van 'n middelaar. En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een. Is die wet dan teen die beloftes van God? Nee, stellig nie! Want as daar 'n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees. Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word. Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n tugmeester nie. Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.

GALASIËRS 3:10-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.” En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” By die wet gaan dit egter nie om die geloof nie, maar om die daad, want daar staan: “Hy wat dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is.” Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het. Broers, ek gaan nou 'n voorbeeld uit die gewone lewe neem. As 'n testament, wat maar net mensewerk is, eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan toevoeg nie. God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie “aan nakomelinge”, meer as een nie, maar: “en aan jou nakomeling” , net een, en hierdie nakomeling is Christus. Hiermee wil ek dít sê: God het 'n verbond met Abraham gesluit en dit tóé al geldig gemaak. Die wet, wat eers vier honderd en dertig jaar later gekom het, kan nie hierdie verbond ongeldig maak, sodat God se belofte aan Abraham nie meer sou geld nie. As 'n mens dit wat beloof is, kry op grond van die onderhouding van die wet van Moses, kry jy dit nie meer op grond van die belofte nie, en God het sy genade aan Abraham juis deur 'n belofte toegesê. Watter doel dien die wet dan? Dit is later bygevoeg as gevolg van die sonde, en dit is bedoel vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van 'n tussenganger aan die volk gegee. Maar as daar net één is wat handel, is 'n tussenganger nie nodig nie, en God ís net een. Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God? Beslis nie! As 'n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou 'n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus. Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie. Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

GALASIËRS 3:10-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Trouens, diegene wat op die uitvoering van die wet staatmaak, val onder 'n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie hou by alles wat in die Wet geskryf staan, en dit nie uitvoer nie.” En dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig word nie, is duidelik, want: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” En die wet is nie gegrond op geloof nie; inteendeel: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” •Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek 'n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.” Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus, na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang. Broers, ek noem 'n voorbeeld uit ons daaglikse lewe: Dit is soos iemand se testament wat bekragtig is; niemand maak dit ongeldig of voeg bepalings by nie. En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie “en aan die sade” soos wat 'n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat 'n mens na een verwys: “en aan jou Saad” – dit is •Christus. Dit is wat ek bedoel: Die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak nie die verbond wat vroeër deur God bekragtig is, kragteloos, en daardeur die belofte tot niet nie. Immers, as die erfenis op die wet berus, berus dit nie meer op die belofte nie. Maar God het dit uit genade vir Abraham deur 'n belofte geskenk. Hoekom dan die wet? Die wet is bygevoeg met die oog op die oortredings; dit is gegee totdat die Saad sou kom aan wie die belofte gemaak is; dit is beskik deur middel van engele en deur die tussenkoms van 'n middelaar. 'n Middelaar beteken egter dat daar nie net een betrokke is nie; maar God is één! Is die wet dan in stryd met die beloftes van God? Hoegenaamd nie! Want as daar 'n wet gegee sou wees wat lewend kon maak, sou die •vryspraak eintlik op grond van die wet kon geskied. Maar die Skrif het alles onder die sonde ingesluit, sodat die belofte wat op geloof in Jesus •Christus gegrond is, gegee kon word aan diegene wat glo. Voordat hierdie geloof gekom het, was ons onder die toesig van die wet, ingesluit met die oog op die geloof wat in die toekoms geopenbaar sou word. Die wet was dus ons oppasser, met die oog op Christus, sodat ons deur geloof geregverdig kon word. Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van 'n oppasser nie. Want deur die geloof is julle almal kinders van God in •Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos 'n kleed aangetrek. Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik en vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus! En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.

GALASIËRS 3:10-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat in die boek van die wet geskrywe is om dit te doen nie. Maar dat niemand deur die wet voor God geregverdig word nie, dit is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. En die wet is nie uit die geloof nie, maar: Die mens wat dit doen, sal daarin lewe. Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word, want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n boom hang! Sodat die seën van Abraham oor die heidene kan kom deur Jesus Christus; sodat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang. Broeders, ek spreek volgens die gewoonte van mense; Al is dit maar 'n man se verbond, as dit bekragtig word, ontbind niemand of voeg dit by nie. En aan Abraham en sy nageslag is die beloftes gemaak. Hy sê nie: En aan die saad, soos van baie; maar soos een, en vir jou nageslag, dit is Christus. En dit sê ek, dat die verbond, wat vooraf deur God in Christus bevestig is, die wet, wat vier honderd en dertig jaar daarna was, nie kan ontbind nie, dat dit die belofte tot niet sou maak. Want as die erfenis uit die wet is, is dit nie meer uit die belofte nie, maar God het dit aan Abraham deur belofte gegee. Waarom dien die wet dan? Dit is bygevoeg weens oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gemaak is, sou kom; en dit is verordineer deur engele in die hand van 'n middelaar. Nou is 'n middelaar nie 'n middelaar van een nie, maar God is een. Is die wet dan teen die beloftes van God? God verhoed dit, want as daar 'n wet gegee was wat lewe kon gee, sou geregtigheid voorwaar deur die wet gewees het. Maar die Skrif het alles onder die sonde afgesluit, sodat die belofte deur die geloof van Jesus Christus gegee sou word aan die wat glo. Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet bewaar, opgesluit vir die geloof wat daarna geopenbaar sou word. Daarom was die wet ons skoolmeester om ons na Christus te bring, sodat ons uit die geloof geregverdig kan word. Maar nadat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n skoolmeester nie. Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus. Want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie slaaf of vryman nie, daar is nie man of vrou nie, want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.

GALASIËRS 3:10-29 Die Boodskap (DB)

Almal wat probeer om self by God uit te kom deur te doen wat die wet sê, staan onder God se vloek, want daar staan in die Bybel geskryf: “God vervloek elkeen wat nie tot in die fynste besonderhede alles doen wat in die wet opgeskryf is nie.” Hierdie uitspraak wys vir ons dat niemand hulle saak met God self kan regmaak deur bloot net te doen wat die wet sê nie. Die Bybel sê immers: “Elkeen wie se verhouding met God reg is omdat hulle in Hom glo, sal lewe!” Die wet het niks met geloof te make nie, maar met dit wat ’n mens doen. Dit is presies soos daar in die Bybel staan: “Elkeen wat alles doen wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Gelukkig hoef ons nie meer alles self te probeer doen nie. Christus het ons daarvan kom vrymaak. Hy het God se vloek wat rus op almal wat nie stiptelik doen wat die wet vra nie, op sy eie skouers geneem. Dit het aan die kruis gebeur. Daar het Christus in ons plek ’n vervloekte geword. Die Bybel sê mos: “God vervloek elkeen wat aan ’n houtpaal hang.” Maar die goeie nuus is dat Christus Jesus se dood vir mense uit ander volke die kans bied om nou ook deel te hê aan die seëninge wat God vroeër oor Abraham uitgestort het. Maar dis nie al nie. Ons wat in Christus glo, het ook die Heilige Gees ontvang, presies net soos God ons belowe het. My broers en susters, kom ek verduidelik gou met ’n alledaagse voorbeeld wat ek bedoel. Kom ons neem ’n kontrak of ’n ooreenkoms tussen twee mense. Julle weet mos dat as iemand ’n ooreenkoms opgestel het en dit word aanvaar deur al die partye wat daarby betrokke is, niemand dit daarna ongeldig kan verklaar of nog iets kan byvoeg nie. Kom ons pas hierdie voorbeeld nou toe op Abraham. Ons weet dat God sy beloftes aan hom en aan sy afstammeling gemaak het. Maar let fyn op: die Bybel sê nie dat God hierdie belofte aan al sy afstammelinge gemaak het nie. Nee, daar word net van die een afstammeling gepraat. Hierdie afstammeling is natuurlik Christus. Wat ek probeer sê, is dit: God het ’n wettige ooreenkoms met Abraham gemaak. Niemand kan dit nou ongeldig verklaar nie, ook nie die wet van Moses nie. Toe die wet sowat 430 jaar later gekom het, het dit nie hierdie ooreenkoms gekanselleer nie. As ons die seëninge wat God in hierdie ooreenkoms aan Abraham belowe het, kon kry deur slegs te doen wat die wet sê, is sy ooreenkoms met Abraham mos uitgedien. Maar gelukkig geld God se beloftes aan Abraham nog steeds. God het immers al hierdie beloftes aan Abraham gemaak omdat hy in Hom geglo het. Waarom is die wet dan nog nodig? Wel, God het dit later gegee sodat mense presies kon weet wat sonde is. Die wet sou egter net geld totdat daardie een afstammeling van Abraham van wie ek hier bo gepraat het, op die toneel verskyn. Vroeër is die wet deur die engele aan Moses gegee. Moses was toe die tussenganger tussen God en sy volk. Soos julle weet, is tussengangers gewoonlik nodig wanneer twee groepe met mekaar ’n ooreenkoms sluit. Maar wanneer God self iets doen, soos toe Hy sy beloftes aan Abraham gemaak het, is daar geen tussengangers nodig nie. God doen dit sommer self. Staan die wet van Moses teenoor die beloftes wat God aan Abraham gemaak het? Weerspreek hulle mekaar? Nee, natuurlik nie. Maar dit beteken nog nie dat die wet ons by die ware lewe kan uitbring nie. As dit die geval was, het ons mos niks meer as die wet nodig gehad nie. Dan kon ons ons eie saak met God regmaak deur net te doen wat die wet sê. Maar dis glad nie so eenvoudig nie. Die Bybel sê vir ons dat ons almal in die mag van die sonde vasgevang is. God se belofte dat Hy almal vryspreek wat glo, is daarom net vir dié van ons bedoel wat in Jesus Christus glo. Voordat hierdie nuwe tydvak van geloof aangebreek het, was ons almal in ’n yslike groot tronk opgesluit. Die wet het ons dag vir dag opgepas totdat hierdie wonderlike nuwe tyd van geloof aangebreek het. Ja, soos ’n kwaai oppasser het die wet heeltyd oor ons baasgespeel totdat Christus uiteindelik gekom het. Maar nou het ons geloof ons in die regte verhouding met God gebring. Daarom staan ons nie meer onder die baasskap van die wet nie. Nee, nou is julle almal God se kinders omdat julle in Christus Jesus glo. Weet julle, toe julle gedoop is, het julle deel gekry aan Christus se redding. Julle doop was soos ’n stel splinternuwe klere. By julle doop het julle Christus aangetrek soos ’n mens ’n stel nuwe klere aantrek. Nou behoort julle heeltemal aan Hom. Omdat julle aan Christus behoort, is julle nou ook deel van sy nuwe familie. Binne hierdie familie maak dit glad nie saak aan watter volk jy behoort nie. Of wat jou status of jou geslag is nie. Hier gaan dit nie daaroor of jy ’n Jood of ’n Griek is nie, en of jy ’n slaaf of ’n baas is nie, en of jy ’n man of ’n vrou is nie. Binne sy familie is almal gelyk. Almal hier binne is nou soos een nuwe mens in Christus Jesus. Julle wat deel is van Christus se familie is natuurlik ook lede van Abraham se nageslag. Daarom geld al die beloftes wat God aan hom gemaak het ook vir julle.

GALASIËRS 3:10-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar elkeen wat op die onderhouding van die wet vertrou om deur God vrygespreek te word, is vervloek. Die Skrif sê mos: “Vervloek is elkeen wat nie alles doen wat in die boek van die wet geskryf staan nie.” Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: “Wie deur gelóóf vrygespreek word, sal lewe.” Maar by die wet speel geloof geen rol nie, want daar staan: “Wie dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Christus het ons losgekoop van die vloek wat op wetsoortreders rus toe Hy vir ons ’n vervloekte geword het. Daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ’n paal hang.” Dit wat Christus Jesus gedoen het, het tot gevolg dat ook die nie-Joodse nasies deel kry aan Abraham se seën. Dit beteken dat ons deur die geloof die Gees wat belowe is, ontvang. Broers en susters, ek gebruik nou ’n alledaagse voorbeeld. As ’n ooreenkoms, al is dit mensewerk, eers gesluit is, kan niemand dit ongeldig verklaar of iets daarby voeg nie. My argument is: God het sy beloftes aan Abraham en sy nakomeling gegee. Daar staan nie “nakomelinge” asof baie mense bedoel word nie, maar dit gaan om één persoon. Met “sy nakomeling” word Christus bedoel. Ek sê dus: Die verbond wat God met Abraham gesluit het, kan nie deur die wet, wat 430 jaar later gekom het, ongeldig gemaak en daarmee ook die belofte ongedaan gemaak word nie. As wetsgehoorsaamheid ’n mens die erfenis kan laat ontvang, word dit nie meer ontvang omdat God dit beloof het nie. God het egter juis sy genade deur ’n belofte aan Abraham gegee. Waarom dan die wet? Dit het bygekom met die oog op die sonde totdat die “Nakomeling” op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger aan Israel gegee. My argument is: ’n Tussenganger is nie nodig as daar net een party is nie. En God is net één! Is die wet dus in stryd met God se beloftes? Verseker nie! As daar ’n wet was wat ware lewe kon gee, sou ons inderdaad vrygespreek kon word deur daardie wet te gehoorsaam. Maar die Skrif getuig die teendeel: Alles is vasgevang in die greep van sonde sodat die belofte op grond van geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee sou kon word. Voordat die geloof gekom het, is ons deur die wet bewaak. Ons was gevange gehou totdat God se plan van geloof geopenbaar sou word. Die wet het ons soos ’n kinderopvoeder opgepas totdat Christus gekom het. Ons is opgepas sodat ons deur te glo God se vryspraak kon ontvang. Noudat die tyd van geloof gekom het, staan ons egter nie langer onder die toesig van ’n kinderopvoeder nie. Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo. Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal. Nou is daar nie langer sprake van Jood of Griek, slaaf of vryman, man of vrou nie; julle is tog almal één in Christus Jesus. Verder, omdat julle aan Christus behoort, ís julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!