Galasiërs 3:10-29

Galasiërs 3:10-29 ABA

Daar is mense wat dink God spreek hulle vry omdat hulle doen wat die wette sê, maar God vervloek hulle. Want in die Ou Testament is geskryf: God vervloek elkeen wat nie alles doen wat in die wette geskryf is nie. Ja, dit is waar. God spreek nie mense vry omdat hulle doen wat die wette sê nie. As mense doen wat die wette sê, dan spreek God hulle nie vry nie. Want in die Ou Testament is geskryf: Wanneer God mense vryspreek omdat hulle glo, dan sal hulle lewe. Die wette vra nie dat mense moet glo nie, die wette vra dat die mense moet doen wat die wette sê. Want in die Ou Testament is geskryf: Elkeen wat doen wat die wette sê, sal lewe omdat hy dit gedoen het. Ja, God vervloek almal wat nie doen wat die wette sê nie. Maar God het ons nie vervloek nie, Hy het Christus vervloek in ons plek. Want in die Ou Testament is geskryf: God vervloek elkeen wat aan 'n houtpaal hang. En so het Christus ons vrygemaak. Daarom kon die heidene God se seën kry, die seën wat Hy vir Abraham belowe het en wat Hy nou vir hulle gee omdat hulle aan Christus Jesus behoort. Daarom kon ons wat glo, die Heilige Gees kry, die Gees wat God vir ons belowe het. Vriende, ek gaan nou 'n voorbeeld gebruik om te verduidelik wat ek sê: Wanneer 'n mens 'n testament gemaak het, dan kan iemand anders dit nie verander of sê dit beteken niks nie. Dit is dieselfde met die verbond. In die Ou Testament is geskryf dat God 'n belofte gemaak het aan Abraham en aan sy nageslag. Daar is nie geskryf “baie nageslagte” nie, maar “een nageslag,” en dit is Christus. God het eers sy verbond gemaak met sy volk en 430 jaar later het Hy die wette gegee. Nou sê ek: Die wette het baie later gekom, daarom kan die wette nie God se verbond verander en God se belofte breek nie. As ons eers moet doen wat die wette sê sodat ons dit kan kry wat God vir ons wil gee, dan kry ons dit omdat ons doen wat die wette sê, nie omdat God dit belowe het nie. Maar ons weet God het dit vir Abraham gegee omdat God goed was vir Abraham en omdat God dit belowe het. Hoekom het God die wette gegee? Hy het dit gegee omdat mense sonde doen. Maar die wette was net belangrik totdat Christus gekom het. Christus is die nageslag van Abraham, en dit wat God vir Abraham belowe het, het Hy vir Christus belowe. Engele het die wette vir Moses gegee, en Moses het die wette vir die mense gegee. God het die wette vir Moses gegee en Moses het die wette vir die mense gegee. Dit beteken: Die wette het nie reguit van God gekom nie. Maar ons weet: God is een. Is die wette en God se beloftes dan vyande van mekaar? Nee, glad nie. Maar die wette kan nie vir mense die ware lewe gee nie, daarom sal God hulle nie vryspreek wanneer hulle doen wat die wette sê nie. Die Ou Testament sê almal is sondaars, maar nou gee God die dinge wat Hy belowe het vir die mense wat in Jesus Christus glo. Die wette was vir ons soos 'n wag. Dit het ons toegesluit en opgepas totdat God gesê het dit is nou die regte tyd vir mense om in Christus te glo. Die wette het ons opgepas soos 'n mens 'n kind oppas wat nie vir homself kan sorg nie. Die wette het ons opgepas totdat Christus gekom het. Toe het ons in Hom geglo, en God het ons vrygespreek van ons sondes. Nou glo ons in Christus en daarom is dit nie nodig dat die wette ons moet oppas nie. Julle almal is kinders van God, want julle glo in Christus Jesus. Julle is gedoop en julle is nou by Christus. Christus is nou so naby julle soos die klere wat julle aantrek. Party van julle is Jode en party is Grieke, party van julle is slawe en party is nie slawe nie, party van julle is mans en party is vroue. Maar dit alles maak nie meer saak nie, want julle behoort almal saam aan Christus Jesus, julle is een. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die kinders van Abraham en dan kry julle wat God belowe het. Ja, julle kry dit omdat God dit belowe het.