In die sesde jaar, op die vyfde dag van die sesde maand, het ek in my huis gesit, met die oudstes van Juda wat voor my sit. Toe het die hand van my Heer, die HERE, daar oor my gekom. Toe ek kyk, is daar 'n gestalte wat lyk of dit van vuur is! Vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe was daar vuur, en vanaf sy heupe boontoe het dit gelyk soos 'n glans, soos die skittering van witgoud.
Hy steek toe iets met die vorm van 'n hand uit, en neem my aan die hare van my kop. 'n Gees het my opgelig tussen aarde en hemel, en my na Jerusalem geneem in visioene van God, na die ingang van die binneste poort wat noord kyk, daar waar die afgodsbeeld staan wat heilige verontwaardiging wek. En kyk, daar was die heerlikheid van die God van Israel – net soos die verskyning wat ek in die laagte gesien het!
Hy sê toe vir my: “Mensekind, kyk na die noorde toe.” Ek het na die noorde gekyk, en daar, aan die noordekant van die poort na die altaar, by die ingang, is hierdie beeld wat verontwaardiging wek! Hy sê toe vir my: “Mensekind, sien jy wat doen hulle – die ontsettend afstootlike dinge wat die huis van Israel hier doen, sodat Ek op 'n afstand bly van my heiligdom af? Maar jy sal nog erger afstootlike dade sien.”
Hy neem my toe na die ingang van die voorhof, en ek sien toe, kyk, daar is 'n gat in die muur! Hy sê vir my: “Mensekind, breek deur die muur!” Ek het deur die muur gebreek, en kyk, daar is toe 'n ingang. En Hy sê vir my: “Gaan in en kyk na die afstootlike, bose dinge wat hulle hier doen.”
Ek het ingegaan, en toe ek kyk, is daar allerlei weersinwekkende afbeeldings van kruipende en ander diere, ook al die afgodsbeelde van die huis van Israel, uitgekerf op die muur reg rondom! Sewentig manne van die oudstes van die huis van Israel het voor die afbeeldings gestaan, elkeen met sy pan met reukwerk in sy hand, terwyl Jaäsanja, seun van Safan, daar tussen hulle staan. 'n Geurige wolk reukwerk het opgestyg.
Hy sê toe vir my: “Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel besig is om te doen in die donker, elkeen in sy binnekamers vol afbeeldings? Want hulle sê, ‘Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat.’ ”