ESEGIËL 8:1-12
ESEGIËL 8:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die sesde jaar, op die vyfde dag van die sesde maand, het ek in my huis gesit, met die oudstes van Juda wat voor my sit. Toe het die hand van my Heer, die HERE, daar oor my gekom. Toe ek kyk, is daar 'n gestalte wat lyk of dit van vuur is! Vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe was daar vuur, en vanaf sy heupe boontoe het dit gelyk soos 'n glans, soos die skittering van witgoud. Hy steek toe iets met die vorm van 'n hand uit, en neem my aan die hare van my kop. 'n Gees het my opgelig tussen aarde en hemel, en my na Jerusalem geneem in visioene van God, na die ingang van die binneste poort wat noord kyk, daar waar die afgodsbeeld staan wat heilige verontwaardiging wek. En kyk, daar was die heerlikheid van die God van Israel – net soos die verskyning wat ek in die laagte gesien het! Hy sê toe vir my: “Mensekind, kyk na die noorde toe.” Ek het na die noorde gekyk, en daar, aan die noordekant van die poort na die altaar, by die ingang, is hierdie beeld wat verontwaardiging wek! Hy sê toe vir my: “Mensekind, sien jy wat doen hulle – die ontsettend afstootlike dinge wat die huis van Israel hier doen, sodat Ek op 'n afstand bly van my heiligdom af? Maar jy sal nog erger afstootlike dade sien.” Hy neem my toe na die ingang van die voorhof, en ek sien toe, kyk, daar is 'n gat in die muur! Hy sê vir my: “Mensekind, breek deur die muur!” Ek het deur die muur gebreek, en kyk, daar is toe 'n ingang. En Hy sê vir my: “Gaan in en kyk na die afstootlike, bose dinge wat hulle hier doen.” Ek het ingegaan, en toe ek kyk, is daar allerlei weersinwekkende afbeeldings van kruipende en ander diere, ook al die afgodsbeelde van die huis van Israel, uitgekerf op die muur reg rondom! Sewentig manne van die oudstes van die huis van Israel het voor die afbeeldings gestaan, elkeen met sy pan met reukwerk in sy hand, terwyl Jaäsanja, seun van Safan, daar tussen hulle staan. 'n Geurige wolk reukwerk het opgestyg. Hy sê toe vir my: “Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel besig is om te doen in die donker, elkeen in sy binnekamers vol afbeeldings? Want hulle sê, ‘Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat.’ ”
ESEGIËL 8:1-12 Die Boodskap (DB)
Op die sewentiende September 592 v.C., in die sesde jaar dat ons saam met ons koning Jojagin as gevangenes weggeneem is na ’n vreemde land, was ek by my huis. Die leiers van my volk het by my gekuier. Ek het skielik bewus geraak daarvan dat die Here by my was en dat Hy Homself aan my wil wys. Ek het toe Iemand gesien wat soos ’n Mens gelyk het. Van sy heupe af tot by sy voete het dit gelyk of die Man van vuur gemaak was. En van sy heupe af boontoe het dit gelyk of Hy van vuurwarm, gloeiende metaal gemaak was. Hierdie Man het iets na my toe uitgesteek wat soos sy hand gelyk het. Toe het Hy my aan my hare opgetel. Ek het besef dat dit die Gees van die Here was wat my opgetel het. Hy het my na Jerusalem toe gevat. Dit alles het met my gebeur toe ek vir God gesien het. Die Gees het my toe neergesit by die ingang na die huis van die Here op aarde, daar aan die noordekant van die gebou. Net binne die ingang van die huis van die Here het mense ’n standbeeld vir ’n afgod opgerig. Die Here was woedend omdat hierdie afgodsbeeld in sy huis opgerig was. Skielik het die God van Israel in al sy mag daar verskyn. Ek het Hom herken omdat ek Hom ook voorheen in die vallei gesien het. Toe sê die Here vir my: “Mens, kyk op na daardie kant toe, daar na die noordekant.” Ek het toe gekyk, en daar, reg langs die ingang na die altaar in die huis van die Here, het die afgod gestaan waaroor die Here so verskriklik kwaad was. God sê toe vir my: “Mens, sien jy wat hierdie mense aanvang? Sien jy watter slegte dade die volk van Israel doen om My uit my eie huis weg te jaag? Maar kom, laat Ek jou nog erger dade as hierdie wys!” Toe vat die Here my na die voordeur van die huis van die Here toe. Ek sien toe dat daar ’n gat in die muur gemaak is. Hy sê toe vir my: “Mens, breek daardie gat in die muur nog groter!” Toe ek die muur verder afbreek, sien ek dat daar ’n deur is wat na ’n versteekte ingang lei. Toe sê God vir my: “Stap nou ’n bietjie deur daardie ingang en gaan kyk watter afskuwelike, slegte dinge die mense daarbinne aanvang!” Ek het toe in die versteekte kamer ingekruip. Ek sien toe die mure is vol geverf van slange, akkedisse en ander reptielagtige diere. Ek sien toe dis afbeeldings van afgode wat skelm deur die volk Israel aanbid word. Sewentig van Israel se leiers het daar in die versteekte kamer gestaan, met Jaäsanja, Safan se seun, tussen hulle. Elkeen van hierdie mense het wierook gebrand om die afgode te eer wat hulle aanbid het. Die hele kamer was sommer al donker van al die wierook. Toe sê die Here vir my: “Mens, het jy gesien wat die leiers van Israel stilletjies in die donker doen, en hoe hulle ’n huis vir hulle eie afgode ingerig het? Hulle dink Ek sien hulle nie, al doen hulle dit in my huis. Hulle dink Ek is nie meer in die land nie.”
ESEGIËL 8:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op 17 September, in die sesde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die leiers van Juda in my huis gesit. En die hand van die oppermagtige HERE was op my. Ek het iemand gesien wat soos ’n mens lyk. Van die heupe af ondertoe het dit gelyk of hy van ’n brandende vlam gemaak is. En van sy heupe af boontoe het hy soos gloeiende metaal gelyk. Hy het wat na sy hand gelyk het, na my uitgesteek en my aan my hare gevat. Toe het die Gees my in die lug opgetel en Hy het my in ’n visioen wat van God af kom na Jerusalem toe gedra. Ek is na die hek aan die noordekant van die binnehof van die tempel geneem. Daar het ’n groot afgodsbeeld gestaan wat die HERE baie kwaad gemaak het. Skielik was die heerlikheid van God daar, net soos ek dit die vorige keer in die vallei gesien het. Toe het die HERE vir my gesê: “Mensekind, kyk na die noordekant.” Ek het gekyk. Daar langs die ingang aan die noordekant van die hek na die altaar het die beeld gestaan wat soveel goddelike woede veroorsaak het. “Mensekind,” het Hy gesê, “sien jy wat hulle doen? Sien jy die afskuwelike groot sondes wat die mense van Israel doen, sondes wat My uit my heilige woning dryf? Maar kom, jy sal selfs nog groter sondes sien as dit.” Toe het Hy my na die deur van die tempel se voorhof geneem. Ek kon daar ’n opening in die muur sien. Hy het vir my gesê: “Mensekind, breek die muur af.” Ek het die muur afgebreek en toe ’n deur na ’n geheime kamer gekry. “Gaan in,” sê Hy vir my. “Gaan kyk na die afskuwelike dinge wat daar binnekant aangaan.” Ek het toe ingegaan. Ek het gesien dat die mure vol kruipende dinge en ander afskuwelike skepsels geteken was. Ek het ook die afgode van Israel gesien wat rondom teen die mure uitgekap is. Daar het 70 leiers van Israel gestaan met Jaäsanja seun van Safan in hulle midde. Elkeen van hulle het ’n wierookbak gehad. Daar het ’n dik wolk wierook bokant hulle koppe gehang. Toe het Hy vir my gesê: “Mensekind, het jy gesien wat die leiers van Israel in die donkerte doen, elkeen by die heiligdom van sy afgod? Hulle sê: ‘Die HERE sien ons nie. Die HERE is uit die land uit!’”
ESEGIËL 8:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Ek het in my huis gesit, en die leiers van Juda het voor my gesit. Dit was die vyfde dag van die sesde maand van die sesde jaar. Ek het gevoel die Here, Hy wat Here is, sit sy hand op my. Ek het gekyk en ek het 'n persoon gesien wat soos vuur lyk. Daar was iets wat gelyk het soos sy heupe, en onder sy heupe was daar ook vuur. Bo sy heupe was iets wat geblink het soos brons wat iemand blink gevryf het. Die persoon het iets uitgesteek, dit was soos 'n hand, en dit het my aan my hare gevat. Die Gees het my opgetel tussen die aarde en die hemel en Hy het my na Jerusalem gebring. Dit was dinge wat God vir my gewys het. Hy het my gebring tot by die ingang na die binneste poort. Die poort is noord van die tempel, daar waar die beeld staan wat vir die Here so baie kwaad maak. En toe sien ek die lig wat om die Koning, die God van Israel, is. Dit was dieselfde soos die lig wat ek gesien het in die vallei. Die Here het vir my gesê: “Mens, kyk noord.” Ek het na die noorde gekyk, en toe sien ek daardie beeld by die altaar, die beeld wat vir God so kwaad maak. Dit was by die noordekant van die poort, by die ingang. Die Here het vir my gesê: “Mens, sien jy nou self wat hulle doen? Sien jy watter baie slegte dinge doen die volk Israel hier ver weg van die tempel? Maar jy sal nog meer slegte dinge sien.” Hy bring my toe tot by die ingang na die oop stuk grond, en daar is toe 'n gat in die muur. Toe sê die Here vir my: “Mens, jy moet nou die gat groter maak, sodat jy kan deurgaan.” Ek het dit gedoen, en toe sien ek daar 'n ingang. Die Here het vir my gesê: “Gaan kyk na die baie slegte dinge wat hulle hier doen.” Ek het gaan kyk, en daar sien ek toe dat mense oral teen die mure verskillende goed geteken en uitgekrap het. Dit was tekeninge van lelike diere, klein diertjies en groot diere, en tekeninge van al die ander afgode van die volk Israel. Voor die tekeninge het 70 van die leiers van die volk Israel gestaan. Jaäsanja seun van Safan het tussen hulle gestaan. Elke leier het 'n wierook-pan in sy hand gehad, en die rook van die wierook het uit die panne opgekom. Toe sê die Here vir my: “Mens, sien jy wat doen die leiers van die volk Israel hier in die donker, elkeen in sy kamer wat vol afgodsbeelde is? Hulle dink Ek sien hulle nie, hulle dink die Here het die land gelos.”
ESEGIËL 8:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die sesde jaar, in die sesde maand, op die vyfde van die maand, terwyl ek in my huis sit en die oudstes van Juda voor my sit, het die hand van die Here HERE daar op my geval. Ek kyk toe — en daar was 'n gestalte wat soos vuur gelyk het; van wat soos sy lendene gelyk het en ondertoe, was vuur, en van sy lendene af en boontoe iets net soos 'n hemelglans wat soos blinkende metaal geskyn het. Toe steek Hy iets uit wat die vorm van 'n hand het, en vat my aan die kuifhare van my hoof; en die Gees het my opgehef tussen die aarde en die hemel en my in gesigte van God na Jerusalem gebring, by die ingang van die binneste poort wat na die noorde toe kyk, waar die plek was van die afgodsbeeld van ywer wat ywer verwek. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel was daar, ooreenkomstig die verskyning wat ek in die laagte gesien het. En Hy sê vir my: Mensekind, slaan tog jou oë op in die rigting van die noorde; en ek het my oë opgeslaan in die rigting van die noorde — en daar was aan die noordekant van die altaarpoort daardie afgodsbeeld van ywer by die ingang! En Hy sê vir my: Mensekind, sien jy wat hulle doen, die groot gruwels wat die huis van Israel hier aanrig, dat Ek ver van my heiligdom af moet weggaan? Maar jy sal nog ander groot gruwels sien. Daarop bring Hy my by die ingang van die voorhof. Ek kyk toe — en daar was 'n gat in die muur. En Hy sê vir my: Mensekind, breek tog deur die muur heen. En ek het deur die muur heen gebreek, en kyk, daar was 'n deur. Daarop sê Hy vir my: Gaan in, en kyk na die growwe gruwels wat hulle hier doen. Ek gaan toe in en kyk — en daar was allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was. En sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel het daarvoor gestaan, en Jaäsánja, die seun van Safan, onder hulle; en elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad, en die geur van die wolk van reukwerk het opgegaan. Toe sê Hy vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamers met beeldwerk? Want hulle dink: Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat.
ESEGIËL 8:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die vyfde van die sesde maand, in die sesde jaar, het ek in my huis gesit, en die leiers van Juda het voor my gesit. Daar het die mag van die Here my God my toe plotseling in besit geneem. Ek het 'n gesig gesien. Daar was 'n mensvormige gestalte. Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, was hy van vuur en van sy heupe af boontoe het dit gelyk soos blink, gloeiende metaal. Hy het iets uitgesteek wat soos 'n hand gelyk het en my aan my hare gevat: die Gees het my in die lug opgetel en my na Jerusalem toe gebring. Dit het gebeur in die gesig wat van God af gekom het. Die Gees het my gebring na die ingang van die poort aan die binnekant, die een wat na die noorde toe kyk, daar waar die afgodsbeeld gestaan het wat soveel heftige toorn veroorsaak het. Hier het ek die magtige verskyning van die God van Israel weer gesien, net soos die keer in die vallei. Hy het vir my gesê: “Mens, kyk noord!” Ek het gekyk, en daar aan die noordekant van die poort by 'n altaar het daardie afgodsbeeld wat toorn veroorsaak, gestaan, by die ingang! God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen hulle? Sien jy die vreeslike afskuwelike dinge wat Israel doen, hier ver van my heiligdom af? Maar jy sal nog afskuweliker dinge sien.” Toe bring Hy my by die poort in die voorhof van die tempel, en daar sien ek 'n gat in die muur. Hy sê toe vir my: “Mens, breek af die muur!” Toe ek die muur begin afbreek, sien ek 'n poort. God het vir my gesê: “Gaan in en kyk die gruwelike, afskuwelike dinge wat hulle hier doen!” Ek het ingegaan en gekyk. Daar was afbeeldings van allerlei kruipende goed en diere, afskuwelike goed, en van allerlei afgode van Israel wat rondom teen die mure uitgekap is. Voor hulle het sewentig van Israel se leiers gestaan, met Jaäsanja seun van Safan tussen hulle, elkeen met sy wierookbak in die hand, en 'n geurige wierookwolk het opgestyg. God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen die leiers van Israel in die donker, elkeen in die heiligdom van sy eie afgodsbeeld? Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.”
ESEGIËL 8:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die sesde jaar, in die sesde maand, op die vyfde dag van die maand, terwyl ek in my huis gesit het en die oudstes van Juda voor my gesit het, het die hand van die HERE HERE daar op my geval. Toe het ek gesien, en kyk na 'n gelykenis soos die voorkoms van vuur: van die voorkoms van sy lendene af tot ondertoe, vuur; en van sy lendene af selfs boontoe, soos die skyn van glans, soos die kleur van amber. En hy het die vorm van 'n hand uitgesteek en my aan 'n lok van my hoof gegryp; en die Gees het my opgehef tussen die aarde en die hemel en my in die gesigte van God na Jerusalem gebring, by die ingang van die binnepoort wat na die noorde kyk; waar was die setel van die beeld van jaloesie, wat tot jaloesie verwek. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel was daar, volgens die gesig wat ek in die vlakte gesien het. Toe sê Hy vir my: Mensekind, slaan nou jou oë op na die noorde toe. Toe slaan ek my oë op die pad na die noorde toe, en kyk na die noorde by die poort van die altaar, hierdie beeld van ywer by die ingang. Hy het verder vir my gesê: Mensekind, sien jy wat hulle doen? selfs die groot gruwels wat die huis van Israel hier doen, dat ek ver van my heiligdom af sou weggaan? maar bekeer jou weer, en jy sal groter gruwels sien. En hy het my na die ingang van die voorhof gebring; en toe ek kyk, daar was 'n gat in die muur. Toe sê Hy vir my: Mensekind, grawe nou in die muur, en toe ek in die muur gegrawe het, kyk daar is 'n deur. En hy het vir my gesê: Gaan in en kyk na die bose gruwels wat hulle hier doen. Ek het toe ingegaan en gesien; en kyk, elke vorm van kruipende diere en afskuwelike diere, en al die drekgode van die huis van Israel, rondom uitgestort op die muur. En daar het voor hulle gestaan sewentig man uit die oudstes van die huis van Israel, en in hulle midde het Jaäsanja, die seun van Safan, gestaan, met elkeen sy wierookpan in sy hand; en 'n dik wolk van reukwerk het opgegaan. Toe sê Hy vir my: Mensekind, het jy gesien wat die oudstes van die huis van Israel in die donker doen, elkeen in die kamers van sy beeldspraak? want hulle sê: Die HERE sien ons nie; die HERE het die aarde verlaat.