Esegiël 45

45
Verdeling van grond
1“ ‘ “ Wanneer julle die land as erfenis toedeel, moet julle vir die Here 'n •wydingsgeskenk eenkant hou, 'n heilige deel uit die land, vyf-en-twintigduisend el lank en twintigduisend el breed. Dit moet heilig wees, sy hele gebied, die volle omvang daarvan. 2Hiervan moet die deel vir die heiligdom vyfhonderd by vyfhonderd el wees, 'n volledige vierkant, en dit moet vyftig el oop veld reg rondom hê. 3 Van hierdie afgemete terrein moet jy vyf-en-twintigduisend el lank en tienduisend el breed afmeet, en daarop moet die heiligdom wees, 'n besonder heilige gebied. 4Dit is 'n heilige deel van die land, bestem vir die priesters wat die heiligdom bedien, hulle wat mag nader kom om die Here te dien. Dit moet 'n plek wees vir hulle huise en 'n heilige plek vir die heiligdom. 5'n Gebied van vyf-en-twintigduisend el lank en tienduisend el breed is bestem vir die Leviete, die tempeldienaars, as grondgebied vir hulle dorpe om in te woon. 6As eiendom van die stad moet julle 'n gebied van vyfduisend el breed en vyf-en-twintigduisend el lank eenkant hou, direk langs die heilige wydingsgeskenk. Vir die hele huis van Israel moet dit beskikbaar wees. 7Die leier se gebied is weerskante van die heilige wydingsgeskenk en die eiendom van die stad, al langs die heilige wydingsgeskenk en al langs die eiendom van die stad, aan die westekant weswaarts en aan die oostekant ooswaarts, met dieselfde lengte as een van die dele van 'n stam, van die wesgrens tot die oosgrens 8 van die land. Dit moet sy grondgebied in Israel wees. Nooit weer mag my leiers my volk verdruk nie. Die grond moet hulle aan die huis van Israel, aan hulle stamme, gee.”
9 “ ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is nou genoeg, leiers van Israel! Die geweld en onderdrukking, staak dit! Doen wat reg en billik is! Hou op met julle verdrywing van my volk!” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”
Mate en gewigte
10 “ ‘ “Julle moet 'n onvervalste weegskaal, 'n onvervalste efa en 'n onvervalste bat hê. 11Die efa en die bat moet dieselfde inhoud hê: 'n Bat moet 'n tiende van 'n gomer hou, en 'n efa ook 'n tiende van 'n gomer. Die gomer moet die standaardmaat wees. 12'n Sikkel moet twintig •gera wees; en twintig sikkel, vyf-en-twintig sikkel en vyftien sikkel moet vir julle 'n mina wees.” ’ ”
Wydingsgeskenke
13 “ ‘ “Dit is die wydingsgeskenk wat julle moet afstaan: 'n sesde van 'n efa uit 'n gomer koring en 'n sesde van 'n efa uit 'n gomer gars; 14die vasgestelde hoeveelheid olyfolie – die bat is vir olyfolie die maat – naamlik een tiende bat uit 'n kor, dit wil sê tien bat, of 'n gomer, want tien bat is 'n gomer; 15 en dan ook een skaap uit 'n kleinveetrop van tweehonderd uit die waterryke gebied van Israel. Dit is vir •graanoffers, •brandoffers en •maaltydoffers om vir julle versoening te doen.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. 16“Die hele volk van die land is verplig tot die afstaan van hierdie wydingsgeskenk aan die leier in Israel.
17 “ ‘ “Op die leier rus dan 'n verpligting in verband met die brandoffers, die graanoffers en die •drankoffers op die feeste, op die nuwemaansfeeste en die Sabbatte, op al die feestye van die huis van Israel. Hy moet die •reinigingsoffer, die graanoffer, die brandoffer en die maaltydoffers voorsien om versoening te doen vir die huis van Israel.” ’ ”
Feeste en offers
18“ ‘So sê my Heer, die Here: “In die eerste maand, op die eerste van die maand, moet jy 'n jong bul sonder gebrek neem en die heiligdom reinig. 19Die priester moet van die bloed van die reinigingsoffer neem en dit aan die deurkosyn van die •tempel smeer, aan die vier hoeke van die altaar se lys en aan die kosyn van die poort na die binneste voorhof. 20Jy moet dieselfde doen op die sewende van die maand indien iemand dalk onopsetlik of uit onkunde gesondig het; so moet julle vir die tempel versoening doen.
21“ ‘ “ In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, moet dit vir julle die Pasga wees – die fees van sewe dae waarop ongesuurde brood geëet moet word. 22Die leier moet op daardie dag vir homself en vir die hele volk van die land 'n bul voorsien as reinigingsoffer; 23en die sewe dae van die fees moet hy vir die Here 'n brandoffer voorsien – sewe bulle en sewe skaapramme sonder gebrek op elk van die sewe dae, en as reinigingsoffer 'n bokram elke dag. 24 As graanoffer moet hy 'n efa vir 'n bul en 'n efa vir 'n skaapram voorsien, en 'n hin olyfolie vir elke efa. 25In die sewende maand, op die vyftiende dag van die maand, op die fees, moet hy dieselfde voorsien vir die sewe dae – dieselfde reinigingsoffers, brandoffers, graanoffers en olyfolie.”

Tans Gekies:

Esegiël 45: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan