Esegiël 44

44
Toegang tot die tempel
1Die man neem my toe terug na die buitenste poort van die heiligdom, die een wat oos front. Dit was egter toe. 2Die Here sê toe vir my: “Hierdie poort moet toe bly; dit mag nie oopgemaak word nie. Niemand mag daardeur ingaan nie, want die Here, die God van Israel, het daardeur ingegaan. Dit moet toe bly. 3 Die leier mag, terwyl hy leier is, in die poort sit om voor die Here brood te eet. Van die portaal van die poort se kant moet hy ingaan, en weer aan daardie kant uitgaan.”
4 Toe neem die man my deur die noordpoort na die voorkant van die •tempel. Ek sien toe, kyk, die heerlikheid van die Here vul die huis van die Here, en ek het neergeval met my gesig teen die grond. 5 Die Here sê toe vir my: “Mensekind, gee aandag! Kyk stip en luister aandagtig na alles wat Ek vir jou gaan sê oor al die vaste voorskrifte vir die huis van die Here en oor al sy wette. Let noukeurig op die ingang na die tempel en al die uitgange van die heiligdom. 6Sê vir die opstandiges, vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die Here: “Dit is nou genoeg van al julle afstootlikhede, huis van Israel! 7 Toe julle vreemdes, onbesnede van hart en liggaam, ingeneem het om in my heiligdom te wees, om dit, my huis, te ontheilig, toe julle self my voedsel, vet en bloed, nadergebring het, het julle my verbond verbreek, bo en behalwe al julle afstootlike dade. 8Julle het nie die verpligting nagekom in verband met wat vir My heilig is nie, maar het ander aangestel om namens julle die verpligting teenoor My in my heiligdom na te kom.”
9“ ‘So sê my Heer, die Here: “Geen vreemde, onbesnede van hart en liggaam, mag in my heiligdom kom nie, nie een van die vreemdes wat tussen die Israeliete woon nie – 10 slegs die Leviete mag daar inkom, hulle wat ver van My was toe Israel afgedwaal het, van My afgedwaal het agter hulle afgodsbeelde aan. Die Leviete sal egter hulle sondeskuld moet dra: 11In my heiligdom sal hulle dienaars moet wees – in bevel van die poorte van die tempel – en dienaars in die tempel. Dit is hulle wat die •brandoffers en die •offers vir die volk sal moet slag, en dit is hulle wat vir die volk gereed sal moet staan om hulle te dien. 12Omdat hulle vir die volk diens gedoen het voor hulle afgodsbeelde, en so vir die huis van Israel 'n struikelblok geword het wat sondeskuld meebring, daarom het Ek my hand teen hulle opgehef en gesweer: Hulle sal hulle sondeskuld moet dra.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. 13“Hulle mag nie nader kom na My toe om as priesters vir My op te tree nie, of naby enigiets kom wat vir My heilig is, naby die •besonder heilige gawes nie. Hulle moet hulle vernedering dra, en die gevolge van die afstootlike dade wat hulle gedoen het. 14Ek sal hulle aanstel as die mense wat die verpligtinge in die tempel moet nakom – al die arbeid, ja, alles wat daar gedoen moet word.” ’ ”
Levitiese priesters
15 “ ‘ “Maar die Levitiese priesters, die nageslag van Sadok, wat die verpligtinge in my heiligdom nagekom het toe die Israeliete van My afgedwaal het, net hulle mag nader kom na My toe om My te dien; hulle mag in my diens staan om vir My vet en bloed aan te bied.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
16“ ‘ “Net hulle mag in my heiligdom ingaan, en net hulle mag naby my tafel kom om My te dien. Hulle sal die verpligtinge teenoor My nakom. 17 Wanneer hulle deur die poorte van die binneste voorhof gaan, moet hulle linneklere aanhê; hulle mag nie wol dra terwyl hulle diens doen binne die poorte van die binneste voorhof en binne die •tempel nie. 18Hulle moet linnekopdoeke op hulle koppe hê, en daar moet linnebroeke om hulle heupe wees. Hulle mag nie iets aanhê wat hulle laat sweet nie. 19 Wanneer hulle uitgaan na die buitenste voorhof, na die volk, moet hulle die klere waarin hulle diens gedoen het, uittrek, en dit neersit in die heilige vertrekke. Hulle moet dan ander klere aantrek, sodat hulle nie die volk heilig maak met hulle klere nie.
20“ ‘ “ Hulle koppe mag hulle nie kaal skeer nie, en ook nie hulle hare laat loshang nie; hulle moet hulle hare netjies knip. 21 Geen priester mag wyn drink wanneer hy die binneste voorhof binnegaan nie. 22 Weduwees of geskeide vroue mag hulle nie vir hulle as vroue neem nie, slegs jongmeisies uit die nageslag van die huis van Israel, en 'n weduwee wat die weduwee van 'n priester is, mag hulle as vroue neem. 23 Hulle moet my volk leer wat die verskil is tussen heilig en onheilig; en die verskil tussen rein en onrein moet hulle aan hulle bekend maak.
24“ ‘ “ By 'n geskil is dit hulle wat moet gereedstaan om 'n beslissing te gee. Volgens my beslissings moet hulle die saak besleg. My wette en vaste voorskrifte moet hulle by al my feeste nakom, en my Sabbatte heilig hou.
25“ ‘ “ By 'n dooie mens mag 'n priester nie kom en sodoende onrein word nie. Slegs in die geval van 'n vader of moeder, seun of dogter, broer of suster wat nie 'n man gehad het nie, mag hulle hulleself wel verontreinig. 26 Ná sy reiniging moet sewe dae afgetel word. 27Die dag wanneer hy dan die heiligdom binnegaan, na die binneste voorhof, om in die heiligdom diens te doen, moet hy sy •reinigingsoffer bring.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
28“ ‘ “ Daar sal vir hulle 'n erfdeel wees: Ek is hulle erfdeel. Grondgebied mag julle nie vir hulle in Israel gee nie: Ek is hulle grondgebied. 29Die •graanoffers, reinigingsoffers en •hersteloffers – net hulle mag dit eet. Alles wat in Israel onder die ban is, sal hulle s'n wees. 30 Die keur van al die eerste vrugte van alle soorte, en elke •wydingsgeskenk van alle soorte, al julle wydingsgeskenke, sal die priesters s'n wees. Die eerste deel van julle baksel moet julle vir die priesters gee, sodat daar seën op jou huis sal rus.
31“ ‘ “Enigiets wat doodgegaan het of verskeur is, of dit voëls of diere is – priesters mag dit nie eet nie.” ’ ”

Tans Gekies:

Esegiël 44: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan