Toe neem hy my na die binneste voorhof, deur die suidpoort. Hy het die suidpoort gemeet: dit was soos die ander afmetings. Die dienskamers, die afskortingsmure en die portaal was soos die ander afmetings. Die poort en sy portaal het vensters reg rondom gehad. Die poort was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed.
Daar was portale reg rondom, vyf-en-twintig el lank en vyf el breed.
Sy portaal was aan die buitenste voorhof, met palmette teen die afskortingsmure. Sy buitetrap het agt trappe gehad.
Toe neem hy my na die binneste voorhof aan die oostekant. Hy het die poort gemeet; dit was soos die ander afmetings. Die dienskamers, die afskortingsmure en die portaal was soos die ander afmetings. Die poort en sy portaal het vensters reg rondom gehad. Die poort was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. Sy portaal was aan die buitenste voorhof, met palmette teen die afskortingsmure aan hierdie en aan daardie kant. Sy buitetrap het agt trappe gehad.
Toe neem hy my na die noordpoort. Hy het gemeet, en dit was soos die ander afmetings – die dienskamers, afskortingsmure en die portaal. Dit het vensters reg rondom gehad. Dit was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. Die portaal daarvan was aan die buitenste voorhof, met palmette teen die afskortingsmure aan hierdie en aan daardie kant. Die buitetrap daarvan het agt trappe gehad.
Daar was 'n vertrek waarvan die toegang by die buitenste afskortingsmure van die poort was. Daar het hulle die •brandoffers afgespoel. In die portaal van die poort was daar twee tafels aan hierdie en aan daardie kant om die brandoffers, •reinigingsoffers en •hersteloffers op te slag. Daar langsaan, aan die buitekant, waar 'n mens opklim na die ingang van die noordpoort, was daar twee tafels. En langsaan, aan die ander kant van die poort se portaal, was daar ook twee tafels, altesaam vier tafels aan die een kant en vier tafels aan die ander kant langs die poort – agt tafels waarop geslag kon word. Daar was ook vier tafels van gekapte klip vir die brandoffers, elkeen een en 'n half el lank, een en 'n half el breed en een el hoog. Daarop is die gereedskap neergesit waarmee die brandoffers en ander offers geslag is. Dubbelhake van een handbreedte is oral in die gebou aangebring. Op die tafels sou die vleis vir die offers wees.
Buite die binneste poort was daar twee vertrekke in die binneste voorhof – een wat suid front, langs die noordpoort, en een wat noord front, langs die suidpoort. Die man praat toe met my: “Hierdie vertrek wat suid front, is vir die priesters wat verpligtinge by die tempel nakom; en die vertrek wat noord front, is vir die priesters wat verpligtinge by die altaar nakom. Hulle is Sadokiete, uit die geslag van Levi, wat mag nader kom na die HERE om vir Hom diens te verrig.”
Hy meet toe die voorhof. Dit was vierkantig, honderd el lank en honderd el breed. Die altaar was voor die tempel.
Toe neem hy my na die portaal van die tempel, en hy meet die afskortingsmure van die portaal. Dit was vyf el dik aan albei kante. Die breedte van die poort was veertien el, en die sykante van die poort was drie el aan albei kante. Die lengte van die portaal was twintig el, en die breedte elf el. Met tien trappe kon 'n mens daarheen opklim. Daar was pilare by die afskortingsmure, een aan elke kant.