Esegiël 37:15-28

Esegiël 37:15-28 AFR20

Die woord van die HERE het tot my gekom: “ En jy, mensekind, neem 'n stuk hout en skryf daarop, ‘Vir Juda en vir die Israeliete verbonde aan hom.’ Neem dan nog 'n stuk hout en skryf daarop, ‘Vir Josef – dit is die hout van Efraim – en die hele huis van Israel verbonde aan hom.’ Sit hulle teen mekaar as een stuk hout. Hulle moet 'n eenheid wees in jou hand. Wanneer die mense van jou volk dan vir jou vra, ‘Sal jy nie vir ons vertel wat hierdie handeling van jou beteken nie?’ moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die HERE: “Kyk, Ek gaan die hout van Josef neem, die hout wat in die hand is van Efraim, en die stamme van Israel verbonde aan hom, en Ek gaan hulle by hom, by die hout van Juda, plaas, en hulle een stuk hout maak. Dan sal hulle een wees in my hand.” ’ Die stukke hout waarop jy skryf, moet voor hulle oë in jou hand wees, en dan moet jy vir hulle verklaar, ‘So sê my Heer, die HERE: “Kyk, Ek gaan die Israeliete wegneem tussen die nasies waarheen hulle gegaan het. Ek sal hulle byeenbring van oraloor en hulle na hulle grond bring. Ek sal hulle een nasie maak in die land op die berge van Israel, en een koning sal oor hulle almal koning wees. Hulle sal nie meer twee nasies wees, en hulle sal nooit weer verdeel wees in twee koninkryke nie. Hulle sal hulleself nie meer verontreinig met hulle afgodsbeelde en hulle verfoeilike afgode, ja, met al hulle oortredings nie. Ek sal hulle verlos van al hulle afvalligheid waardeur hulle gesondig het. Ek sal hulle reinig; dan sal hulle vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees. My dienskneg Dawid sal koning wees oor hulle, en daar sal een herder vir hulle almal wees. My bepalings sal hulle volg, en my vaste voorskrifte sal hulle nakom en dit uitvoer. Hulle sal woon in die land wat Ek aan my dienskneg, aan Jakob, gegee het – die land waarin julle voorouers gewoon het. Hulle sal daarin woon, hulle en hulle kinders en kleinkinders, vir altyd; en Dawid, my dienskneg, sal vir hulle 'n leier wees vir altyd. “ ‘ “ Ek sal met hulle 'n vredesverbond sluit – dit sal 'n ewige verbond met hulle wees. Ek sal hulle vestig en hulle baie laat word, en Ek sal my heiligdom tussen hulle vestig, vir altyd. My woning sal by hulle wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir my 'n volk wees. Die nasies sal besef dat Ek die HERE is wat Israel heilig, wanneer my heiligdom vir altyd tussen hulle sal wees.” ’ ”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid