ESEGIËL 37:15-28

ESEGIËL 37:15-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woord van die HERE het tot my gekom: “ En jy, mensekind, neem 'n stuk hout en skryf daarop, ‘Vir Juda en vir die Israeliete verbonde aan hom.’ Neem dan nog 'n stuk hout en skryf daarop, ‘Vir Josef – dit is die hout van Efraim – en die hele huis van Israel verbonde aan hom.’ Sit hulle teen mekaar as een stuk hout. Hulle moet 'n eenheid wees in jou hand. Wanneer die mense van jou volk dan vir jou vra, ‘Sal jy nie vir ons vertel wat hierdie handeling van jou beteken nie?’ moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die HERE: “Kyk, Ek gaan die hout van Josef neem, die hout wat in die hand is van Efraim, en die stamme van Israel verbonde aan hom, en Ek gaan hulle by hom, by die hout van Juda, plaas, en hulle een stuk hout maak. Dan sal hulle een wees in my hand.” ’ Die stukke hout waarop jy skryf, moet voor hulle oë in jou hand wees, en dan moet jy vir hulle verklaar, ‘So sê my Heer, die HERE: “Kyk, Ek gaan die Israeliete wegneem tussen die nasies waarheen hulle gegaan het. Ek sal hulle byeenbring van oraloor en hulle na hulle grond bring. Ek sal hulle een nasie maak in die land op die berge van Israel, en een koning sal oor hulle almal koning wees. Hulle sal nie meer twee nasies wees, en hulle sal nooit weer verdeel wees in twee koninkryke nie. Hulle sal hulleself nie meer verontreinig met hulle afgodsbeelde en hulle verfoeilike afgode, ja, met al hulle oortredings nie. Ek sal hulle verlos van al hulle afvalligheid waardeur hulle gesondig het. Ek sal hulle reinig; dan sal hulle vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees. My dienskneg Dawid sal koning wees oor hulle, en daar sal een herder vir hulle almal wees. My bepalings sal hulle volg, en my vaste voorskrifte sal hulle nakom en dit uitvoer. Hulle sal woon in die land wat Ek aan my dienskneg, aan Jakob, gegee het – die land waarin julle voorouers gewoon het. Hulle sal daarin woon, hulle en hulle kinders en kleinkinders, vir altyd; en Dawid, my dienskneg, sal vir hulle 'n leier wees vir altyd. “ ‘ “ Ek sal met hulle 'n vredesverbond sluit – dit sal 'n ewige verbond met hulle wees. Ek sal hulle vestig en hulle baie laat word, en Ek sal my heiligdom tussen hulle vestig, vir altyd. My woning sal by hulle wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir my 'n volk wees. Die nasies sal besef dat Ek die HERE is wat Israel heilig, wanneer my heiligdom vir altyd tussen hulle sal wees.” ’ ”

ESEGIËL 37:15-28 Bybel vir almal (ABA)

Ek het gehoor die Here sê vir my: “En jy, mens, jy moet 'n plankie neem en jy moet daarop skryf ‘Vir Juda en vir die Israeliete wat hulle bondgenote is.’ Dan moet jy nog 'n plankie neem en jy moet daarop skryf ‘Vir Josef.’ Dit is die plankie van Efraim en al die mense van Israel wat hulle bondgenote is. Dan moet jy die twee plankies teen mekaar druk, sodat hulle in jou hand voel soos een plankie. En wanneer jou mense vir jou vra: ‘Vertel asseblief vir ons wat beteken die twee plankies,’ dan moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Kyk, Ek neem die plankie van Josef, dit is Efraim en al die Israel-stamme wat hulle bondgenote is, en Ek sit dan daardie plankie op die plankie van Juda en Ek maak een plankie van die twee plankies. Hulle sal soos een plankie in my hand wees. Wanneer hulle sien die plankies waarop jy geskryf het, is in jou hand, dan moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek sal nou die Israeliete wegneem tussen die volke waar hulle gekom het, Ek sal hulle bymekaarmaak van al die kante en Ek sal hulle na hulle eie land bring. Ek sal hulle een volk maak in die land, op die Israel-berge, en hulle almal sal een koning hê. Hulle sal nie meer twee volke wees nie en hulle sal nooit weer twee lande wees nie. Hulle sal ook nie weer afgode dien en dinge doen wat Ek haat nie. Hulle sal nie weer opstandig wees sodat hulle onrein word nie. Ek sal hulle red en Ek sal al hulle ongehoorsaamheid wegneem wat hulle sonde laat doen het, Ek sal hulle reinig. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees. En my dienaar Dawid sal hulle koning wees. Hy sal die enigste herder vir hulle almal wees, hy sal lewe soos Ek sê en hy sal doen wat Ek wil hê. Die Israeliete sal in die land woon wat Ek vir my dienaar Jakob gegee het, die land waar hulle voorvaders gewoon het. Hulle sal altyd daar woon, hulle en hulle kinders en hulle kinders se kinders. My dienaar Dawid sal altyd oor hulle regeer. Ek sal 'n verbond maak met hulle, 'n verbond wat vir hulle vrede sal bring. Die verbond sal vir altyd wees. Ek sal vir hulle gee wat hulle nodig het en Ek sal hulle baie laat word. Ek sal my tempel altyd by hulle laat staan. My woonplek sal by hulle wees. Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. En wanneer my tempel altyd by hulle is, dan sal die ander volke weet dat dit Ek, die Here, is wat Israel aan My wy.”

ESEGIËL 37:15-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: En jy, mensekind, neem vir jou 'n stuk hout, en skrywe daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote; en neem 'n ander stuk hout en skrywe daarop: Vir Josef (die hout van Efraim) en die hele huis van Israel, sy bondgenote. Voeg hulle dan vir jou bymekaar, die een by die ander, om een stuk hout te wees, en laat hulle een word in jou hand. En as die kinders van jou volk met jou spreek en sê: Sal u ons nie te kenne gee wat u met hierdie dinge bedoel nie? sê dan vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal die stuk hout van Josef neem, wat in die hand van Efraim is, en die stamme van Israel, sy bondgenote, en Ek sal hulle by hom voeg, by die stuk van Juda, en hulle een stuk hout maak; en hulle sal een word in my hand. So moet dan die houte waar jy op skrywe, in jou hand wees voor hulle oë; en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie. En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my 'n volk wees, en Ek vir hulle 'n God wees. En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel. En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig. En Ek sal 'n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal 'n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees en hulle vir my 'n volk wees. En die nasies sal weet dat Ek die HERE is wat Israel heilig as my heiligdom vir ewig in hulle midde sal wees.

ESEGIËL 37:15-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, vat 'n stuk hout en skryf daarop: Juda en die Israeliete wat sy bondgenote is. “Vat dan nog 'n stuk hout en skryf daarop: Josef. Dit is die stuk hout vir Efraim en die hele Israel wat sy bondgenote is. Druk dan die twee stukke hout teenmekaar sodat hulle soos een stuk in jou hand voel. Wanneer die mense van jou volk vir jou vra: ‘Wil jy nie vir ons vertel wat dit beteken nie?’ moet jy vir hulle sê: So sê die Here my God: Ek vat die Josefhout wat staan vir Efraim en die Israelitiese stamme wat sy bondgenote is, en Ek sit dit teen die Judahout en Ek maak van die twee een stuk hout, sodat hulle in my hand een stuk is. “Die stukke hout waarop jy geskryf het, moet in jou hand wees en die mense moet dit sien. Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here my God: Ek sal die Israeliete tussen die nasies uit vat waarheen hulle moes gaan, en hulle van alle kante af bymekaarmaak en na hulle land toe bring. Ek sal van hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel, en hulle sal een koning hê. Hulle sal nooit weer twee volke wees nie, nooit weer in twee ryke verdeel word nie. “Hulle sal hulle nooit weer verontreinig met afgode en afskuwelike dade en sondes nie. Ek sal hulle bevry uit al hulle woonplekke waar hulle gesondig het en hulle reinig. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees. My dienaar Dawid sal koning oor hulle wees; hulle almal sal net een herder hê, en hulle sal volgens my bepalings leef en my voorskrifte gehoorsaam en nakom. Hulle sal in die land woon wat Ek aan my dienaar Jakob gegee het, waar hulle voorvaders gewoon het. Hulle sal altyd daar woon, hulle en hulle kinders en hulle kinders se kinders, en my dienaar Dawid sal hulle regeerder wees vir altyd. Ek sal met hulle 'n verbond sluit wat vir hulle vrede sal bring, 'n verbond wat altyd sal bestaan. Ek sal hulle baie laat word en my heiligdom tussen hulle oprig om altyd daar te wees. My woonplek sal by hulle wees; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. Wanneer my heiligdom vir altyd tussen hulle is, sal die ander nasies besef dat Ek, die Here, Israel vir My afgesonder het.”

ESEGIËL 37:15-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die woord van die HERE het weer tot my gekom en gesê: Verder, jy, mensekind, neem vir jou een stok en skryf daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy metgeselle; neem dan 'n ander stok en skryf daarop: Vir Josef, die hout van Efraim en vir almal die huis van Israel, sy metgeselle: En voeg hulle saam in een stok; en hulle sal een word in jou hand. En wanneer die kinders van jou volk met jou spreek en sê: Wil jy ons nie wys wat jy hiermee bedoel nie? Sê vir hulle: So spreek die HERE HERE; Kyk, Ek sal die hout van Josef neem wat in die hand van Efraim is, en die stamme van Israel, sy broers, en Ek sal hulle by hom sit, met die hout van Juda, en vir hulle een hout maak, en hulle sal een in my hand. En die stokke waarop jy skryf, moet voor hulle oë in jou hand wees. En sê vir hulle: So spreek die HERE HERE; Kyk, Ek sal die kinders van Israel haal onder die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaarmaak en hulle in hul land bring. En Ek sal hulle een nasie maak in die land op die berge van Israel; en een koning sal vir hulle almal koning wees, en hulle sal nie meer twee nasies wees nie, en hulle sal glad nie meer in twee koninkryke verdeel word nie. En hulle sal hulle nie meer verontreinig met hulle drekgode of met hulle gruwels of met enige van hulle oortredinge nie; maar Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en hulle reinig; so sal hulle vir My wees mense, en Ek sal hulle God wees. En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees; en hulle sal almal een herder hê; hulle sal ook in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en dit doen. En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waarin julle vaders gewoon het; en hulle sal daarin woon, hulle en hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle owerste wees tot in ewigheid. En Ek sal 'n vredesverbond met hulle sluit; dit sal 'n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle plaas en hulle vermeerder en my heiligdom vir ewig in hulle midde stel. My tabernakel sal ook by hulle wees; ja, Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. En die nasies sal weet dat Ek, die HERE, Israel heilig, wanneer my heiligdom vir ewig in hulle midde sal wees.

ESEGIËL 37:15-28 Die Boodskap (DB)

Die Here het toe verder met my gepraat. “Mens, vat ’n stuk hout. Kerf dan hierdie woorde daarop: Hierdie stok is Juda en al die stamme wat saam met hom werk. Vat dan ’n ander stok en kerf daarop: Hierdie stok is die stamme van die noordelike ryk van Israel. Hou nou albei hierdie stokke saam in jou hand. Gebruik hulle as een stok. Wanneer jou mense vir jou vra wat jy doen en wat dit beteken, moet jy vir hulle verduidelik: So sê die Here, Esegiël se God: Ek gaan die noordelike stamme van Israel vat en hulle by Juda sit. Ek maak hulle een stok in my hand. “Hou dan die stokke waarop jy gekerf het, so dat jou mense dit kan sien. Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê só: Ek gaan die mense van Israel haal waar hulle tussen ander nasies bly. Ek gaan hulle huis toe bring, want Ek gaan hulle self haal waar hulle nou in vreemde lande bly. Dan sal Ek Israel en Juda weer een nasie maak. Hulle was voorheen twee volke, maar nou sal hulle net een koning hê wat oor hulle regeer. Hulle sal nie meer twee nasies wees wat in twee lande bly nie. Dan sal my volk ophou om voor afskuwelike afgode te buig. Hulle sal nie meer slegte dinge doen nie, want Ek sal hulle red van hulleself. Ek sal hulle weer nuut maak. Dan sal hulle werklik my volk wees. En Ek sal hulle God wees. “Dan sal iemand oor hulle heers wat so goed sal wees soos koning Dawid. Hierdie koning sal My dien en aanbid. Hy sal vir hulle soos ’n goeie skaapwagter wees. En my volk sal doen wat Ek hulle beveel. Hulle sal gehoorsaam wees aan wat Ek vir hulle sê. Hulle sal in die land bly wat Ek vir hulle oupagrootjies gegee het, vir Abraham en Isak en Jakob. Hulle sal daar bly, so ook hulle kinders en hulle agterkleinkinders. ’n Goeie koning soos Dawid sal oor hulle regeer, en dit sal goed gaan. Ek sal ’n ooreenkoms met hulle sluit wat vir altyd geldig sal wees. My deel van die ooreenkoms sal wees dat Ek vir hulle die land van hulle oupagrootjies sal teruggee. En Ek sal sorg dat dit met hulle goed gaan sodat hulle hulle kinders en kleinkinders sien. Ek sal my huis weer daar laat bou tussen hulle, en dit sal vir altyd daar wees in hulle land. Ek sal tussen hulle bly, in my huis. Ek sal hulle God wees. En hulle sal my volk wees. Omdat my huis dan tussen hulle is en Ek tussen hulle bly, sal al die nasies agterkom dat Ek, die Here, Israel eenkant gesit het om aan My te behoort en vir My te werk.”

ESEGIËL 37:15-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir my gesê: “Mensekind, vat ’n stok en krap dié woorde daarop uit: ‘Hierdie stok is Juda en sy bondgenote.’ Vat nog ’n stok en krap daarop uit: ‘Hierdie stok is die noordelike stamme van Israel.’ Hou nou die twee stokke soos een stok saam in jou hand. Wanneer jou mense vra wat beteken dít wat jy doen, sê vir hulle: ‘So sê die oppermagtige HERE: Ek vat die noordelike stamme en voeg hulle by Juda. Ek maak hulle een stok in my hand.’ Hou dan die stokke vas waarop jy geskryf het sodat die mense kan sien. En sê vir hulle die oppermagtige HERE sê: Ek maak die mense van Israel bymekaar van tussen die nasies uit. En Ek bring hulle na hulle eie land toe uit die lande waarheen hulle verstrooi was. Ek verenig hulle tot een nasie in die land, op die berge van Israel. Een koning sal oor almal regeer. Hulle sal nie meer in twee nasies en twee koninkryke verdeel wees nie. Hulle sal ook nie meer hulleself met hulle afskuwelike afgode en sondes besoedel nie, want Ek sal hulle bevry uit die plekke waar hulle gesondig het, en hulle skoonmaak. Dan sal hulle my volk wees, en Ek sal hulle God wees. “My dienaar Dawid sal hulle koning wees, en hulle sal net een herder hê. Hulle sal my bepalings gehoorsaam en my bevele onderhou. Hulle sal in die land leef wat ek vir hulle voorouer Jakob gegee het, die land waar julle pa’s geleef het. Hulle en hulle kinders en hulle kleinkinders sal vir altyd daar leef. En my dienaar Dawid sal vir altyd hulle leier wees. Ek maak ’n ooreenkoms van vrede met hulle. Die ooreenkoms sal altyd geld. Ek gee hulle die land en maak hulle baie. Ek plaas my woonplek tussen hulle vir altyd. My blyplek sal tussen hulle wees. Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. Dan, wanneer my blyplek tussen hulle is, sal die nasies besef dat Ek, die HERE, Israel vir myself eenkant gesit het as ’n heilige volk.”