Eksodus 25:31-40

Eksodus 25:31-40 AFR20

“Jy moet 'n menora van suiwer goud maak. Met pletwerk moet jy die menora – dit is sy voetstuk en sy staander – maak. Die kelke, blomknoppe en blomme moet deel daarvan wees. Ses arms moet uit die kante vertak, drie arms van die menora uit die een kant en drie arms van die menora uit die ander kant. Daar moet drie kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met 'n blomknop en blom op een arm wees; en drie kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met 'n blomknop en blom op elke volgende arm. So moet dit wees aan die ses arms wat uit die menora vertak. Op die menora self moet daar vier kelke wees, gevorm soos amandelbloeisels met hulle blomknoppe en blomme. Vir die ses arms wat uit die menora vertak, moet daar 'n blomknop wees onder aan die eerste twee arms, 'n blomknop onder aan die tweede twee arms, en 'n blomknop onder aan die derde twee arms. Die blomknoppe en arms moet deel wees van die staander, die geheel daarvan geplet uit suiwer goud. “ Jy moet sewe lampe daarvoor maak. Jy moet sy lampe so plaas dat dit aan die voorkant lig verskaf. Die snuiters en bakkies daarvan moet van suiwer goud wees. “Van 'n kikkar suiwer goud moet jy dit maak – ook al hierdie toebehore. Sorg dat jy dit maak volgens die voorbeelde wat aan jou op die berg gewys gaan word.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 25:31-40

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid