Eksodus 22:16-31

Eksodus 22:16-31 AFR20

Wanneer iemand 'n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en by haar slaap, moet hy beslis die bruidsprys vir haar betaal, sodat sy sy vrou word. As haar vader volstrek weier om haar aan hom te gee, moet hy die silwer afweeg wat ooreenstem met die bruidsprys vir jongmeisies. 'n Towenares mag jy nie laat leef nie. Elkeen wat met 'n dier gemeenskap het, moet beslis sterf. Iemand wat aan enige god offer, uitgesonderd die HERE, moet onder die ban geplaas word. 'n •Vreemdeling mag jy nie mishandel of verdruk nie, omdat julle vreemdelinge in Egipteland was. Geen weduwee of vaderlose kind mag jy onderdruk nie. As jy hulle op enige manier onderdruk, sal Ek beslis hulle noodroep hoor wanneer hulle dringend na My om hulp roep. My toorn sal ontbrand en Ek sal julle met die swaard ombring. Dan sal julle vroue weduwees word en julle kinders vaderloos. As jy aan my volk, aan die magteloses by jou, geld leen, mag jy nie teenoor hulle soos 'n skuldeiser optree nie: Julle mag nie van hulle rente eis nie. As dit wel sou gebeur dat jy jou medemens se oorkleed as pand neem, moet jy dit voor sononder vir hom teruggee, want dit is sy enigste bedekking; dit is die kleed waarmee hy sy vel bedek. Waarin moet hy slaap? Wanneer hy na My om hulp roep, sal Ek hoor; want Ek is genadig. God mag jy nie laster nie, en oor 'n leier in jou volk mag jy nie 'n vervloeking uitspreek nie. Offers uit jou volle graanoes en die opbrengs van jou parskuip mag jy nie terughou nie. Die eersgeborene van jou seuns moet jy aan My afstaan. Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou kleinvee. Sewe dae lank moet die dier by sy ma bly, en op die agtste dag moet jy hom vir My gee. Julle moet mense wees wat aan My gewy is. Vleis wat in die veld verskeur is, mag julle nie eet nie. Vir die honde moet julle dit gooi.

Video vir Eksodus 22:16-31