EKSODUS 22:16-31

EKSODUS 22:16-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wanneer iemand 'n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en by haar slaap, moet hy beslis die bruidsprys vir haar betaal, sodat sy sy vrou word. As haar vader volstrek weier om haar aan hom te gee, moet hy die silwer afweeg wat ooreenstem met die bruidsprys vir jongmeisies. 'n Towenares mag jy nie laat leef nie. Elkeen wat met 'n dier gemeenskap het, moet beslis sterf. Iemand wat aan enige god offer, uitgesonderd die HERE, moet onder die ban geplaas word. 'n •Vreemdeling mag jy nie mishandel of verdruk nie, omdat julle vreemdelinge in Egipteland was. Geen weduwee of vaderlose kind mag jy onderdruk nie. As jy hulle op enige manier onderdruk, sal Ek beslis hulle noodroep hoor wanneer hulle dringend na My om hulp roep. My toorn sal ontbrand en Ek sal julle met die swaard ombring. Dan sal julle vroue weduwees word en julle kinders vaderloos. As jy aan my volk, aan die magteloses by jou, geld leen, mag jy nie teenoor hulle soos 'n skuldeiser optree nie: Julle mag nie van hulle rente eis nie. As dit wel sou gebeur dat jy jou medemens se oorkleed as pand neem, moet jy dit voor sononder vir hom teruggee, want dit is sy enigste bedekking; dit is die kleed waarmee hy sy vel bedek. Waarin moet hy slaap? Wanneer hy na My om hulp roep, sal Ek hoor; want Ek is genadig. God mag jy nie laster nie, en oor 'n leier in jou volk mag jy nie 'n vervloeking uitspreek nie. Offers uit jou volle graanoes en die opbrengs van jou parskuip mag jy nie terughou nie. Die eersgeborene van jou seuns moet jy aan My afstaan. Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou kleinvee. Sewe dae lank moet die dier by sy ma bly, en op die agtste dag moet jy hom vir My gee. Julle moet mense wees wat aan My gewy is. Vleis wat in die veld verskeur is, mag julle nie eet nie. Vir die honde moet julle dit gooi.

EKSODUS 22:16-31 Die Boodskap (DB)

“As ’n man ’n jongmeisie verlei wat nog nie verloof was nie, en hy praat haar om om by hom te slaap, moet hy aan haar pa die bruidsprys betaal en met haar trou. As haar pa volstrek weier dat die man met sy dogter trou, moet die man hom ’n bedrag geld gee. Die bedrag is dieselfde as die geld wat betaal word aan ’n pa om sy dogter te kry. “’n Vrou wat haar met toordery ophou, mag nie bly leef nie. Enigeen wat seks met ’n dier het, moet doodgemaak word. Elkeen wat offers bring vir enige ander god as net die Here, moet doodgemaak word. “Jy moenie iemand wat van ’n ander land af kom, sleg behandel nie. Jy was mos self ’n mens uit ’n ander land toe julle in Egipte was. Jy moenie weduwees en weeskinders uitbuit omdat hulle nie ’n man het wat vir hulle sorg nie. As jy dit doen en hulle kom kla by My en vra My om hulle te help, sal Ek hulle kant kies. Ek sal met woede teen jou losbrand en Ek sal jou in die oorlog laat doodgaan. Jou eie vrou sal dan ’n weduwee word en jou eie seuns ook weeskinders sonder iemand om vir hulle te sorg. “Wanneer jy geld vir arm mense in die volk leen, moet jy nie ook nog vir hulle rente daarop vra nie. As iemand in die loop van die dag sy mantel vir jou as ’n pand gegee het vir iets wat hy by jou geleen het, moet jy dit vir hom teruggee as die son ondergaan. Dit is al wat hy het om homself in die nag mee toe te maak. Onder wat anders kan hy slaap? As jy dit nie doen nie en hy kom kla by My, sal Ek na hom luister, want Ek gee om vir sulke mense. “Moenie God se Naam sleg maak nie. Moenie die leiers van jou volk vloek nie. “Bring alles van jou graan- en druiweoes in berekening wanneer jy my deel bereken. Onthou dat jou oudste seun aan My behoort. Die eerste bees of skaap wat gebore word, kan vir die eerste sewe dae nog by sy ma bly. Op die agtste dag moet jy dit aan My afstaan. Julle moet uitsonderlike mense wees wat met alles wat julle het, vir My lewe. Julle mag nie vleis eet van diere wat deur roofdiere in die veld verskeur is nie. Julle moet dit vir die honde gee om te vreet.”

EKSODUS 22:16-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“As iemand ’n meisie wat nog nie verloof is nie, oorhaal om saam met hom te slaap, moet hy aan haar pa die gewone bruidsprys betaal en met haar trou. As haar pa volstrek weier dat hy met haar kan trou, moet hy nogtans aan hom dieselfde bedrag betaal as wat ’n pa as bruidsprys vir sy dogter kan kry. “’n Vrou wat toorkunste beoefen, mag nie bly lewe nie. “Elkeen wat met ’n dier seks het, moet doodgemaak word. “Iemand wat aan enige ander god as die HERE offer, moet uit die weg geruim word. “Moenie iemand wat van ’n ander land kom, verontreg nie. Julle mag hulle nie laat swaarkry nie, want julle was self vreemdelinge in Egipte. “Julle mag nie weduwees en weeskinders uitbuit nie. As julle hulle onregverdig behandel en hulle kom kla by My, sal Ek hulle kant vat. My woede sal teen julle losbreek en Ek sal julle in die oorlog laat omkom. Julle vroue sal dan ook weduwees word en julle kinders sonder ouers. “As julle geld uitleen aan die arm mense van die volk, moet julle nie maak soos die mense wat teen rente uitleen nie. As jy iemand se klere as ’n pand neem vir dit wat hy leen, moet jy dit vir hom teen sononder teruggee. Hy het dit nodig om in die nag daaronder te slaap. Wanneer hy na My roep om hulp, gaan Ek na hom luister. Ek gee om vir sulke mense. “Moenie lasterlik teen God optree nie. Moenie die leiers van die volk vloek nie. “Moenie iets terughou van die deel van jou graan- en druiwe-oes wat jy vir My bring nie. “Onthou dat jou oudste seun aan My behoort. “So ook die eerstelinge van beeste en kleinvee. Dit mag die eerste sewe dae nog by sy ma bly. Maar op die agtste dag moet jy dit vir My gee. “Julle moet mense wees wat vir My afgesonder is. Julle mag nie iets eet wat in die veld verskeur is nie. Gee dit vir die honde om te vreet.”

EKSODUS 22:16-31 Bybel vir almal (ABA)

“Wanneer 'n man 'n meisie verlei wat nie verloof is nie en hy slaap by haar, dan moet hy vir haar pa die bruidsprys gee en hy moet met die meisie trou. As haar pa haar glad nie vir hom wil gee nie, dan moet hy ook betaal. Hy moet vir haar pa die bruidsprys gee.” “Julle moet 'n vrou doodmaak wat toor. “Julle moet iemand doodmaak wat seks het met 'n dier. “Julle moet iemand doodmaak wat offers bring vir 'n ander god. Julle mag net vir die Here offer.” “Julle mag nie slegte dinge doen aan 'n vreemdeling nie. Julle mag hom nie laat swaarkry nie. Julle moet onthou julle was ook vreemdelinge in Egipte. Julle mag nie slegte dinge doen aan 'n weduwee of weeskind nie. As julle dit doen, en hulle vra My om hulle te help, dan sal Ek na hulle luister. Ek sal baie kwaad word en Ek sal julle doodmaak. Dan sal júlle vroue weduwees word en júlle kinders sal weeskinders word.” “Wanneer julle geld leen vir arm mense by julle, dan moet julle nie wees soos die mense wat gewoonlik vir ander mense geld leen nie. Julle moenie die arm mense ook rente laat betaal nie. Wanneer julle 'n ander man se klere vat omdat hy nie geld het om te betaal nie, dan moet julle dit vir hom teruggee wanneer die son ondergaan, want hy moet hom daarmee toemaak. Dit is sy klere, hy moet daarin slaap. As hy My vra om hom te help, dan sal Ek luister, want Ek is jammer vir hom.” “Julle mag nie vir God of 'n leier van julle volk vervloek nie.” “Julle moenie al die koring wat julle afsny en die wyn wat julle maak, vir julleself hou nie. Julle moet julle oudste seuns vir My gee. Julle moet ook die oudste bul-kalwers en die oudste ram-lammers vir My gee. Die kalf of lam moet sewe dae by sy ma bly, en op die agste dag moet julle hom vir My gee. Julle moet gewyde mense vir My wees. Wanneer 'n wilde dier 'n mak dier doodgebyt het, dan mag julle nie die dooie dier se vleis eet nie. Julle moet daardie vleis vir die honde gooi.”

EKSODUS 22:16-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

As iemand 'n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en met haar gemeenskap het, moet hy haar vir die volle huweliksprys as sy vrou koop. As haar vader beslis weier om haar aan hom te gee, moet hy geld gee volgens die huweliksprys vir jongmeisies. Die towerheks mag jy nie laat lewe nie. Elkeen wat met 'n dier gemeenskap het, moet sekerlik gedood word. Hy wat aan die gode offer, behalwe aan die HERE alleen, moet met die banvloek getref word. Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie. As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik, dan sal Ek, as hulle na My roep, hulle geroep sekerlik hoor, en my toorn sal ontvlam, en Ek sal julle met die swaard ombring, sodat julle vroue weduwees en julle kinders wese word. As jy aan my volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos 'n skuldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie. As jy ooit jou naaste se gewaad as pand neem, moet jy hom dit teruggee voor die son ondergaan; want dit is sy enigste bedekking, dit is die bekleding vir sy vel. Waarin moet hy anders slaap? En as hy na My roep, sal Ek hoor, want Ek is genadig. Jy mag God nie vloek nie, en 'n owerste onder jou volk mag jy nie verwens nie. Die offer uit jou volle opbrings en jou parskuip mag jy nie terughou nie. Die eersgeborene van jou seuns moet jy aan My gee. Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou kleinvee: sewe dae moet dit by sy moeder wees; op die agtste dag moet jy dit aan My gee. En julle moet vir My heilige mense wees. Daarom mag julle nie vleis eet wat in die veld verskeur is nie. Julle moet dit vir die honde gooi.

EKSODUS 22:16-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Wanneer 'n man 'n jongmeisie wat nog nie verloof is nie, verlei om met hom geslagsgemeenskap te hê, moet hy aan haar pa die volle bruidsprys betaal en met haar trou. As haar pa volstrek weier om haar aan hom te gee, moet hy nogtans die volle bruidsprys vir jongmeisies betaal, en dit met silwer. “Jy mag nie 'n towenares laat lewe nie. “Elkeen wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet doodgemaak word. “Iemand wat aan enige god behalwe aan die Here offer, moet om die lewe gebring word. “Jy mag nie 'n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self 'n vreemdeling in Egipte. “Jy mag geen weduwee of weeskind veronreg nie. As jy tog so iemand veronreg, en hy na My roep, sal Ek na sy hulpgeroep luister. Dan sal my toorn ontvlam, en Ek sal jou om die lewe bring, sodat jou vrou 'n weduwee word en jou kinders weeskinders. “As jy aan 'n arm man uit my volk geld leen, moet jy nooit teenoor hom soos 'n skuldeiser optree nie. Jy mag hom ook nie rente vra nie. “As iemand sy klere by jou verpand, moet jy dit voor sononder teruggee, want dit is al wat hy het om hom mee toe te maak. Onder wat anders kan hy slaap? As hy My hieroor aanroep, sal Ek na hom luister, want Ek is barmhartig. “Jy mag God nie vervloek nie en ook nie 'n leier van jou volk nie. “Moenie talm met jou offers uit jou graan- en wynoes nie. “Die eersteling van jou seuns moet jy vir My gee. Dit geld ook van jou beeste en kleinvee. Sewe dae kan die eerstelinge by hulle ma's bly, maar op die agste dag moet jy hulle vir My gee. “Julle moet mense wees wat aan My gewy is. Julle mag nie vleis eet van diere wat in die veld verskeur is nie. Gooi dit vir die honde.”

EKSODUS 22:16-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En as 'n man 'n slavin verlei wat nie verloof is nie, en met haar gemeenskap het, moet hy haar sekerlik gee om sy vrou te wees. As haar vader heeltemal weier om haar aan hom te gee, moet hy geld betaal volgens die bruidskat van die maagde. Jy mag nie 'n heks laat lewe nie. Elkeen wat met 'n dier gemeenskap het, moet sekerlik gedood word. Hy wat aan enige god offer, behalwe aan die HERE alleen, sal met die banvloek getref word. Jy mag 'n vreemdeling nie kwaad maak of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie. As jy hulle op enige manier verdruk, en hulle roep enigsins tot My, Ek sal sekerlik hulle geroep hoor; En my toorn sal ontvlam, en Ek sal jou met die swaard doodmaak; en julle vroue sal weduwees en julle kinders wees wees. As jy geld leen aan een van my volk wat by jou arm is, mag jy vir hom nie as 'n woekeraar wees nie, en jy mag hom geen rente oplê nie. As jy enigsins jou naaste se klere as pand neem, moet jy dit aan hom gee deurdat die son ondergaan. Want dit is net sy bedekking, dit is sy kleed vir sy vel; waarin sal hy slaap? en as hy na My roep, sal ek hoor; want ek is genadig. Jy mag die gode nie belaster nie, en die owerste van jou volk nie vervloek nie. Jy moet nie uitstel om die eerste van jou ryp vrugte en van jou drank te offer nie; die eersgeborenes van jou seuns moet jy aan My gee. Net so moet jy doen met jou beeste en met jou kleinvee: sewe dae lank moet dit by sy moeder wees; op die agtste dag moet jy dit vir my gee. En julle moet vir My heilige manne wees; en julle mag geen vleis eet wat van diere in die veld verskeur is nie; julle moet dit vir die honde gooi.