Eksodus 18:13-27

Eksodus 18:13-27 AFR20

Die volgende dag het Moses gaan sit om as regter op te tree vir die mense. Die mense het van die oggend af tot die aand toe om Moses gestaan. Toe Moses se skoonvader sien wat hy alles vir die mense doen, het hy gevra: “Wat is dit wat jy vir die mense doen? Waarom sit jy alleen, terwyl al die mense van die oggend tot die aand toe om jou bly staan?” Moses het sy skoonvader geantwoord: “Omdat die mense na my toe kom om God te raadpleeg. Wanneer hulle 'n geskil het, kom dit voor my; dan beslis ek tussen die persoon en sy naaste, en maak God se vaste voorskrifte en wette bekend.” Moses se skoonvader sê toe vir hom: “Dit is nie goed dat jy die saak so hanteer nie. Jy gaan jouself heeltemal uitput – jy sowel as hierdie mense wat by jou is. Want dit is te veeleisend vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie. Luister nou na my! Ek sal vir jou raad gee, en mag God met jou wees! Tree jy vir die volk in by God, en bring jy die sake voor God. Waarsku hulle oor die vaste voorskrifte en wette, en lig hulle in oor die pad wat hulle moet volg en die werk wat hulle moet doen. Maar wees jy op die uitkyk na bekwame manne onder die hele volk, betroubare manne wat ontsag het vir God, wat 'n weersin het in oneerlike wins. Stel hulle oor die volk aan as •aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. Hulle moet te alle tye die volk se regsake behartig. Elke groot saak moet hulle na jou bring, maar oor elke klein saak moet hulle self beslis. Maak dit ligter vir jouself, en laat hulle saam met jou die las dra. As jy dít doen, en as God jou so beveel, sal jy staande kan bly, en al hierdie mense sal ook tevrede na hulle blyplekke kan gaan.” Moses het na sy skoonvader geluister en alles gedoen wat hy gesê het. Moses het onder die hele Israel bekwame manne uitgesoek, en hulle as hoofde oor die volk aangestel, as aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. Hulle het te alle tye die volk se regsake behartig. Die moeilike sake het hulle na Moses gebring, maar oor al die maklike sake het hulle self beslis. Moses het sy skoonvader weggesien, en hy het na sy eie land gegaan.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 18:13-27

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid