EKSODUS 18:13-27

EKSODUS 18:13-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die volgende dag het Moses gesit om reg te spreek vir die volk; en die volk het voor Moses gestaan van die môre tot die aand toe. En toe Moses se skoonvader sien alles wat hy vir die volk doen, sê hy: Wat is dit wat jy vir die volk doen? Waarom sit jy alleen, en die hele volk staan voor jou van die môre tot die aand toe? En Moses antwoord sy skoonvader: Omdat die volk na my kom om God te raadpleeg. As hulle 'n saak het, kom hulle na my; en dan moet ek regspreek tussen die partye en die insettinge van God en sy wette bekend maak. Maar Moses se skoonvader sê vir hom: Die ding wat jy doen, is nie goed nie. Jy sal heeltemal uitgeput raak, jy sowel as hierdie volk wat by jou is. Want die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie. Luister nou na my; ek sal jou raad gee, en God sal met jou wees. Wat jou betref, wees jy die verteenwoordiger van die volk by God en bring jy die sake voor God, en onderrig hulle in die insettinge en die wette, en maak hulle die weg bekend waarop hulle moet gaan, en die werk wat hulle moet doen. Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel dié aan oor hulle: owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien; en laat hulle voortdurend oor die volk die regspraak uitoefen: al die groot sake moet hulle na jou bring, maar in al die klein sake moet hulle self regspreek. Maak dit so ligter vir jou, en laat hulle saam met jou dra. As jy dit doen en God dit jou beveel, kan jy dit uithou en sal ook al hierdie mense tevrede na hulle woonplek gaan. Moses het toe geluister na sy skoonvader en alles gedoen wat hy gesê het — Moses het bekwame manne uit die hele Israel gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel — owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien. En hulle het voortdurend oor die volk die regspraak uitgeoefen: die moeilike sake het hulle na Moses gebring, maar in al die klein sake self reggespreek. Toe het Moses sy skoonvader laat gaan, en hy het na sy land getrek.

EKSODUS 18:13-27 Bybel vir almal (ABA)

Moses het die volgende dag begin om te luister na die mense wat probleme het met mekaar, en om te oordeel wie is reg. Die mense het van die oggend tot die aand na Moses toe gekom. Sy skoonpa het alles gesien wat Moses vir die mense doen. Hy het gesê: “Wat doen jy alles vir die mense? Hoekom doen jy dit alleen en hoekom moet al die mense van die oggend tot die aand vir jou wag?” Moses sê toe vir sy skoonpa: “Die mense kom na my toe om te hoor wat God sê. Wanneer hulle probleme met mekaar het, dan kom hulle na my toe. Ek sê wie is reg en wie is verkeerd. So leer ek vir hulle wat God wil hê hulle moet doen.” Moses se skoonpa sê toe vir hom: “Jy maak 'n fout. Jy sal baie moeg word, jy en hierdie mense wat by jou is. Dit is te moeilik vir jou, jy kan dit nie alleen doen nie. Luister nou na wat ek vir jou sê. Ek sal vir jou sê wat jy moet doen, en God sal jou help. Jy moet met God praat oor die mense, en jy moet hulle probleme na God toe bring. Jy moet vir hulle leer wat God wil hê hulle moet doen. Jy moet vir hulle wys hoe om reg te lewe en wat hulle moet doen. Jy moet uit die hele volk manne kies wat weet wat om te doen en wat vir God eer. Hulle moet eerlik wees en nie net vir hulleself sorg nie. Hulle moet dan die leiers wees, leiers van 1 000 mense, of van 100 mense of 50 mense of tien mense. Hulle kan dan na die mense se probleme luister. Die leiers kan al die groot probleme na jou toe bring en hulle kan self na al die klein probleme luister. Dan sal dit vir jou makliker wees, en so kan hulle jou help. As jy doen wat ek sê, en as God ook sê jy moet dit so doen, dan sal jy kan aanhou om die werk te doen. Al die mense sal ook tevrede huis toe gaan.” Moses het geluister na sy skoonpa. Hy het alles gedoen wat Jetro gesê het. Moses het uit al die stamme van Israel manne gekies wat weet wat om te doen, en hy het hulle leiers gemaak oor die volk. Daar was leiers van 1 000 mense, van 100 mense, van 50 mense en van tien mense. Die leiers het geluister na die mense se probleme. Hulle het die groot probleme na Moses toe gebring. Hulle kon self besluit oor die klein probleme. Moses het toe sy skoonpa gegroet, en Jetro het teruggegaan na sy eie land.

EKSODUS 18:13-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Moses die volgende dag gaan sit om hofsake te verhoor, het daar van die oggend af tot die aand toe mense vir hom gestaan en wag. Maar toe sy skoonpa sien wat Moses alles vir die volk doen, het hy gesê: “Waarom doen jy die volk dit aan? Waarom tree net jý op as regter, en al die mense moet van die môre af tot die aand toe vir jou staan en wag?” Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om na die wil van God te vra. As hulle in sake betrokke raak, kom hulle na my toe. Ek lewer dan uitspraak oor die geskille tussen hulle en maak terselfdertyd God se voorskrifte en wette aan hulle bekend.” Maar Moses se skoonpa sê vir hom: “Jy maak nie reg nie. Jy en al hierdie mense by jou sal totaal uitgeput raak. Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie. Luister nou na my raad en mag God jou bystaan! Jy moet die volk se verteenwoordiger by God wees en alle sake voor Hom bring. Druk die volk die voorskrifte en wette op die hart, leer hulle die pad wat hulle moet loop en wat hulle moet doen. Verder moet jy onder die volk bekwame manne uitsoek, dienaars van die Here, mense wat die waarheid liefhet en nie hulle eie voordeel soek nie. Dan moet jy hulle oor die volk aanstel as leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. Hulle moet deurentyd vir die volk hofsittings hou. Die belangrike sake moet na jóú verwys word, en die geringes moet húlle oplos. Dit sal vir jou makliker wees as hulle die verantwoordelikheid saam met jou dra. As God jou beveel om dit so te doen, sal jy met die werk kan aanhou, en al hierdie mense sal dan tevrede huis toe gaan.” Moses het na sy skoonpa geluister en gedoen wat hy gesê het. Moses het bekwame manne uit Israel gekies en hulle aangestel as hoofde oor die volk: leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. Hulle het deurentyd hofsittings gehou. Die belangrike sake is na Moses verwys, en die geringes is deur die leiers verhoor. Moses het toe afskeid geneem van sy skoonpa, en sy skoonpa is terug na sy eie land toe.

EKSODUS 18:13-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die volgende dag het Moses gaan sit om as regter op te tree vir die mense. Die mense het van die oggend af tot die aand toe om Moses gestaan. Toe Moses se skoonvader sien wat hy alles vir die mense doen, het hy gevra: “Wat is dit wat jy vir die mense doen? Waarom sit jy alleen, terwyl al die mense van die oggend tot die aand toe om jou bly staan?” Moses het sy skoonvader geantwoord: “Omdat die mense na my toe kom om God te raadpleeg. Wanneer hulle 'n geskil het, kom dit voor my; dan beslis ek tussen die persoon en sy naaste, en maak God se vaste voorskrifte en wette bekend.” Moses se skoonvader sê toe vir hom: “Dit is nie goed dat jy die saak so hanteer nie. Jy gaan jouself heeltemal uitput – jy sowel as hierdie mense wat by jou is. Want dit is te veeleisend vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie. Luister nou na my! Ek sal vir jou raad gee, en mag God met jou wees! Tree jy vir die volk in by God, en bring jy die sake voor God. Waarsku hulle oor die vaste voorskrifte en wette, en lig hulle in oor die pad wat hulle moet volg en die werk wat hulle moet doen. Maar wees jy op die uitkyk na bekwame manne onder die hele volk, betroubare manne wat ontsag het vir God, wat 'n weersin het in oneerlike wins. Stel hulle oor die volk aan as •aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. Hulle moet te alle tye die volk se regsake behartig. Elke groot saak moet hulle na jou bring, maar oor elke klein saak moet hulle self beslis. Maak dit ligter vir jouself, en laat hulle saam met jou die las dra. As jy dít doen, en as God jou so beveel, sal jy staande kan bly, en al hierdie mense sal ook tevrede na hulle blyplekke kan gaan.” Moses het na sy skoonvader geluister en alles gedoen wat hy gesê het. Moses het onder die hele Israel bekwame manne uitgesoek, en hulle as hoofde oor die volk aangestel, as aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. Hulle het te alle tye die volk se regsake behartig. Die moeilike sake het hulle na Moses gebring, maar oor al die maklike sake het hulle self beslis. Moses het sy skoonvader weggesien, en hy het na sy eie land gegaan.

EKSODUS 18:13-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die volgende dag het Moses gesit om die volk te oordeel, en die volk het van die môre tot die aand by Moses gestaan. Toe Moses se skoonvader alles sien wat hy aan die volk doen, sê hy: Wat is dit vir hierdie ding wat jy aan die volk doen? Waarom sit jy alleen, en die hele volk staan by jou van die môre tot die aand? Toe sê Moses vir sy skoonvader: Omdat die volk na my toe kom om God te raadpleeg. Wanneer hulle 'n saak het, kom hulle na my toe; en Ek oordeel tussen mekaar, en Ek maak hulle bekend die insettinge van God en sy wette. Toe sê Moses se skoonvader vir hom: Die ding wat jy doen, is nie goed nie. Jy sal sekerlik uitput, jy sowel as hierdie volk wat by jou is, want hierdie ding is vir jou te swaar; jy is nie in staat om dit self te doen nie. Luister nou na my stem, Ek sal jou raad gee, en God sal met jou wees: Wees jy vir die volk by God, dat jy die oorsake na God kan bring. En jy moet hulle insettinge en wette leer en hulle die weg wys waarop hulle moet loop, en die werk wat hulle moet doen. Verder moet jy uit die hele volk bekwame manne voorsien wat God vrees, manne van waarheid, wat hebsug haat; en stel sulkes oor hulle, as owerstes oor duisend en owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien. En laat hulle die volk oordeel op alle tye; en elke groot saak sal hulle na jou toe bring, maar elke klein saak moet hulle oordeel; so sal dit vir jou makliker wees, en hulle sal die las saam met jou dra. As jy hierdie ding doen en God jou so beveel, dan sal jy kan volhard, en ook hierdie hele volk sal in vrede na hulle plek toe gaan. Moses het toe na die stem van sy skoonvader geluister en alles gedoen wat hy gesê het. En Moses het bekwame manne uit die hele Israel gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel, owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien. En hulle het die volk gerig op alle tye; die moeilike sake het hulle vir Moses gebring, maar elke klein saak het hulle self geoordeel. En Moses het sy skoonvader laat vertrek; en hy het na sy eie land gegaan.

EKSODUS 18:13-27 Die Boodskap (DB)

Die volgende dag moes Moses as regter optree. Hy moes na die sake luister wat die mense van die volk teen mekaar gehad het en daaroor uitspraak lewer. Die mense het tou gestaan van vroeg tot laat en lank gewag vir hulle beurt. Moses se skoonpa het gesien hoe Moses probeer om self al die sake van die volk te verhoor. Hy vra toe vir hom: “Wat probeer jy regkry? Hoekom wil jy al die hofsake alleen verhoor? Die volk moet die hele dag lank vir jou staan en wag.” Moses het vir hom gesê: “Die volk kom na my toe omdat hulle God se beslissing wil hê. Wanneer hulle van mekaar verskil oor ’n saak, kom hulle na my toe. Ek moet vir hulle leer wat in God se wette staan en vir hulle volgens die Here se reëls sê wie is reg en wie is verkeerd.” “Jy hanteer die saak nie reg nie,” sê Moses se skoonpa toe vir hom. “Hierdie ding gaan vir jou en die volk skeefloop. Jy laai te veel hooi op jou vurk. Jy kan dit onmoontlik alles alleen doen. Luister nou na goeie raad. Mag die Here daarmee saamstem. Jy moet nog steeds namens die volk met die Here gaan praat. Gaan aan om met hulle sake na God toe te gaan en vir Hom te vra wat reg is. Wys die volk op die wette en die voorskrifte. Gaan aan om vir hulle te wys hoe hulle moet lewe en wat hulle moet doen. “Vir die beslissing oor hulle verskille moet jy mans uit die volk aanstel wat as regters kan optree. Stel een man aan vir elke 1 000 mense of selfs vir elke 100 of 50 of tien mense. Hulle moet goed genoeg wees om die werk te kan doen. Hulle moet respek hê vir God en vir die waarheid. Iemand moet hulle nie met geld kan omkoop nie. Stel hulle as voltydse regters oor die volk aan. Hulle kan die groter sake dan na jou verwys. Die kleiner sake kan hulle sommer self verhoor. So kan julle saam die vrag dra. Dit sal sake vir jou makliker maak. As dit volgens God se wil is, kan jy die sake van nou af so hanteer. Dit sal jou werk maklik maak. Die volk sal terselfdertyd dan ook meer tevrede gestel kan word.” Moses het sy skoonpa se raad aanvaar. Hy het die plan geïmplementeer. Hy het mans uit die hele Israel aangestel wat reg was om die werk te doen. Hy het een van hulle vir elke 1 000, of 100, of 50 of tien mense aangewys. Hulle was deurentyd beskikbaar vir die volk om na hulle sake te luister. Hulle het die moeiliker sake na Moses verwys. Die sake wat makliker was, het hulle self verhoor. Moses het toe afskeid geneem van sy skoonpa. Jetro het weer teruggegaan na sy eie land toe.

EKSODUS 18:13-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die volgende dag moes Moses weer as regter vir die volk optree. Hulle het van vroegoggend tot laataand by Moses se tent tougestaan. Toe Moses se skoonpa sien hoe Moses met die volk werk, vra hy vir hom: “Hoekom doen jy alles self? Die mense staan die ganse dag vir jou en wag!” Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om te hoor wat die HERE sê. As daar ’n geskil is tussen twee partye, gee ek uitspraak. Ek sê vir die volk wat God besluit het en wat God wil hê.” Sy skoonpa sê toe vir Moses: “Jy hanteer die saak nie reg nie. Jy en die volk sal die pas nie kan volhou nie. Dit is te veel vir jou. Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie. Luister nou na my raad. Mag God jou help om die volk by Hom te verteenwoordig. Jy moet voortgaan om hulle probleme na Hom toe te bring vir uitsluitsel. Jy moet voortgaan om hulle in te lig oor God se wette en sy voorskrifte. Leer hulle hoe hulle moet lewe en wat hulle moet doen. Maar jy moet ook uit die volk bekwame en eerlike manne kry wat vir die HERE wil werk en nie omkoopgeld sal aanvaar nie. Jy moet hulle aanstel om regters te wees oor groepe van onderskeidelik 1 000, 100, 50 en tien mense. Hulle moet dan as regters optree in die alledaagse sake. Vir groter sake moet hulle na jou toe kom. Die gewone sake kan hulle self hanteer. Hulle sal die las van jou skouers afhaal en dit saam met jou dra. As jy so maak en God jou lei om dit so te doen, sal jy die vrag kan dra en almal sal tevrede wees.” Moses het sy skoonpa se raad gevolg en gemaak soos sy skoonpa gesê het. Moses het uit die hele Israel bekwame manne gekies en hulle as leiers oor die volk aangestel oor groepe van onderskeidelik 1 000, 100, 50 en tien mense. Hulle was voltydse regters oor die volk. Groter sake is na Moses toe gebring en kleiner sake het hulle self hanteer. Moses het toe afskeid geneem van sy skoonpa en hy het na sy land toe teruggegaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid