Eksodus 18:13-27

Eksodus 18:13-27 ABA

Moses het die volgende dag begin om te luister na die mense wat probleme het met mekaar, en om te oordeel wie is reg. Die mense het van die oggend tot die aand na Moses toe gekom. Sy skoonpa het alles gesien wat Moses vir die mense doen. Hy het gesê: “Wat doen jy alles vir die mense? Hoekom doen jy dit alleen en hoekom moet al die mense van die oggend tot die aand vir jou wag?” Moses sê toe vir sy skoonpa: “Die mense kom na my toe om te hoor wat God sê. Wanneer hulle probleme met mekaar het, dan kom hulle na my toe. Ek sê wie is reg en wie is verkeerd. So leer ek vir hulle wat God wil hê hulle moet doen.” Moses se skoonpa sê toe vir hom: “Jy maak 'n fout. Jy sal baie moeg word, jy en hierdie mense wat by jou is. Dit is te moeilik vir jou, jy kan dit nie alleen doen nie. Luister nou na wat ek vir jou sê. Ek sal vir jou sê wat jy moet doen, en God sal jou help. Jy moet met God praat oor die mense, en jy moet hulle probleme na God toe bring. Jy moet vir hulle leer wat God wil hê hulle moet doen. Jy moet vir hulle wys hoe om reg te lewe en wat hulle moet doen. Jy moet uit die hele volk manne kies wat weet wat om te doen en wat vir God eer. Hulle moet eerlik wees en nie net vir hulleself sorg nie. Hulle moet dan die leiers wees, leiers van 1 000 mense, of van 100 mense of 50 mense of tien mense. Hulle kan dan na die mense se probleme luister. Die leiers kan al die groot probleme na jou toe bring en hulle kan self na al die klein probleme luister. Dan sal dit vir jou makliker wees, en so kan hulle jou help. As jy doen wat ek sê, en as God ook sê jy moet dit so doen, dan sal jy kan aanhou om die werk te doen. Al die mense sal ook tevrede huis toe gaan.” Moses het geluister na sy skoonpa. Hy het alles gedoen wat Jetro gesê het. Moses het uit al die stamme van Israel manne gekies wat weet wat om te doen, en hy het hulle leiers gemaak oor die volk. Daar was leiers van 1 000 mense, van 100 mense, van 50 mense en van tien mense. Die leiers het geluister na die mense se probleme. Hulle het die groot probleme na Moses toe gebring. Hulle kon self besluit oor die klein probleme. Moses het toe sy skoonpa gegroet, en Jetro het teruggegaan na sy eie land.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 18:13-27

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid