Hulle het dit elke oggend bymekaargemaak, elkeen soveel as wat hy kon eet; maar as die son warm word, het dit weggesmelt. Op die sesde dag het hulle twee keer soveel brood bymekaargemaak, twee omer vir elkeen. Al die leiers van die volksvergadering het gekom en dit vir Moses vertel. Hy sê toe vir hulle: “Dit is wat die HERE gesê het, ‘Môre is dit 'n buitengewone Sabbat, 'n heilige Sabbat tot eer van die HERE. Wat julle wil bak, moet julle bak, en wat julle wil kook, moet julle kook. Alles wat te veel is, moet julle veilig bêre tot die oggend.’ ” Hulle het dit weggesit tot die oggend soos Moses beveel het. Dit het nie gestink nie en daar was nie maaiers in nie. Moses het gesê: “Eet dit vandag, want vandag is 'n Sabbat ter ere van die HERE. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie. Vir ses dae moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag, op 'n Sabbat, sal daar nie wees nie.” Op die sewende dag het van die mense uitgegaan om bymekaar te maak, maar hulle het niks gekry nie. Die HERE sê toe vir Moses: “Hoe lank gaan julle weier om my gebooie en wette na te kom? Julle moet insien dat die HERE vir julle die Sabbat gegee het – daarom gee Hy op die sesde dag twee dae se brood. Elkeen moet bly waar hy is; niemand mag op die sewende dag sy blyplek verlaat nie.” Die volk het toe op die sewende dag gerus.
Lees Eksodus 16
Deel
Vergelyk alle weergawes: Eksodus 16:21-30
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's