Ester 9:1-19

Ester 9:1-19 AFR20

In die twaalfde maand, dit is die maand Adar, op die dertiende dag, moes die wet en bevel van die koning uitgevoer word. Dit was die dag waarvoor die vyande van die Jode gewag het om hulle te oorweldig. Die omgekeerde het egter gebeur: Die Jode het diegene wat hulle gehaat het, oorweldig. Die Jode het bymekaargekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasveros, om diegene wat hulle ondergang gesoek het, dood te maak. Niemand kon voor hulle stand hou nie, want vrees vir die Jode het al die volke oorval. Al die •hoë amptenare van die provinsies en die satrape, die •streekgoewerneurs en die amptenare wat die koning se sake hanteer, het die Jode gesteun, want vrees vir Mordegai het hulle oorval. Mordegai het immers belangrik geword in die koninklike paleis en berigte oor hom het deur al die provinsies versprei. Ja, die man Mordegai het al hoe magtiger geword. Die Jode het op hulle vyande toegeslaan en met die swaard dood en verwoesting gesaai; hulle het met hulle haters gedoen net wat hulle wou. In die vestingstad Susan het die Jode vyfhonderd mense doodgemaak en uitgewis. Hulle het ook Parsandata en Dalfon en Aspata en Porata en Adalja en Aridata en Parmasta en Arisai en Aridai en Wajesata, die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en teenstander van die Jode, doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Die aantal mense wat in die vestingstad Susan doodgemaak is, is nog dieselfde dag aan die koning bekend gemaak. Die koning het vir koningin Ester gesê: “In die vestingstad Susan het die Jode 'n slagting aangerig. Hulle het 500 mense uitgewis, ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nie in die res van die provinsies van die koning gedoen het nie! Wat jy versoek, word aan jou gegee. Wat jy verder wens, sal toegestaan word.” Ester het geantwoord: “As die koning dit goedkeur, gee dan die Jode in Susan die toestemming om môre ook die wet soos vandag uit te voer en laat hulle die tien seuns van Haman aan die paal hang.” Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word. 'n Wet is in Susan uitgevaardig en die tien seuns van Haman is gehang. Die Jode wat in Susan was, het weer bymekaargekom op die veertiende dag van die maand Adar. Hulle het nog driehonderd mense in Susan doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Intussen is die res van die Jode in die koning se provinsies ook bymekaar geroep om hulle lewens te verdedig en verligting te kry van hulle vyande. Hulle het 75 000 van hulle haters doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Dit het alles gebeur op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Die Jode wat in Susan was, het egter bymekaargekom op die dertiende en die veertiende dag. Eers op die vyftiende dag het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Daarom maak die Jode wat in dorpe op die platteland woon, die veertiende dag van die maand Adar 'n dag van vreugde en feesviering, 'n feesdag waarop hulle eetgoed aan mekaar stuur.