ESTER 9:1-19
ESTER 9:1-19 Bybel vir almal (ABA)
Dit was in die twaalfde maand, die maand Adar, op die 13de dag van die maand. Die mense het gehoor wat die koning besluit het. Die vyande van die Judeërs het gehoop dat hulle op daardie dag die Judeërs sal oorwin, maar dit het nie gebeur nie, die Judeërs het toe die mense aangeval, hulle het die mense oorwin wat vir hulle gehaat het. Die Judeërs het bymekaargekom in al hulle stede in die provinsies van koning Ahasveros. Hulle het die mense aangeval wat wou hê dat dit sleg moet gaan met die Judeërs, en niemand kon hulle keer nie, want al die mense was bang vir hulle. Al die amptenare in die provinsies en die hoof-amptenare en die goewerneurs, almal wat vir die koning gewerk het, het vir die Judeërs gehelp, want hulle was bang vir Mordegai. Dit was omdat Mordegai die belangrikste amptenaar in die paleis geword het. Die mense in al die provinsies het geweet van hom. Mordegai het meer en meer belangrik geword. Die Jode het hulle vyande aangeval en hulle het almal doodgemaak, hulle het gedoen wat hulle wil met die mense wat vir hulle gehaat het. Die Judeërs het 500 mense in die stad Susan doodgemaak. Hulle het ook die tien seuns van Haman doodgemaak. Die seuns was Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata. Haman was die seun van Hammedata, hy was die vyand van die Judeërs. Maar die Judeërs het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie. Toe die koning daardie dag hoor hoeveel mense in Susan dood is, het hy vir koningin Ester gesê: “Die Judeërs het hier in die stad Susan 500 persone doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Ek wonder hoeveel mense hulle in die ander provinsies doodgemaak het. Wat wil jy nog vir my vra? Ek sal dit vir jou gee. Jy moet sê wat jy nog wil hê, en ek sal dit doen.” Ester het geantwoord: “As die koning dink dit is reg, dan moet jy vir die Judeërs in Susan sê dat hulle môre dieselfde mag doen wat hulle vandag gedoen het. En jy moet die tien seuns van Haman laat ophang aan die paal.” Die koning het gesê dit is goed, en die mense in Susan het gehoor wat hy besluit het. Hulle het die tien seuns van Haman opgehang. Die Judeërs in Susan het ook op die 14de dag van die maand Adar bymekaargekom en hulle het nog 300 mense in Susan doodgemaak. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie. Die Judeërs in die ander provinsies van die koning het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het gewen teen al hulle vyande en hulle het 75 000 mense doodgemaak wat vir hulle gehaat het. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie. Dit was op die 13de dag van die maand Adar. Op die 14de dag het hulle gerus, en hulle het besluit dat daardie dag 'n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag. Maar die Judeërs in die stad Susan het op die 13de én op die 14de dag bymekaargekom en hulle het op die 15de dag gerus. Daarom het hulle besluit dat die 15de dag 'n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag. Daarom het die Judeërs wat woon in die stede wat nie mure het nie, die 14de dag 'n feesdag gemaak. Dit is 'n vakansiedag en hulle stuur dan kospakkies vir mekaar.
ESTER 9:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die twaalfde maand, dit is die maand Adar, op die dertiende dag daarvan, toe die bevel van die koning en sy wet uitgevoer sou word, op die dag toe die vyande van die Jode gehoop het om hulle te oorweldig — maar dit net omgekeerd was, sodat juis die Jode hulle haters sou oorweldig — het die Jode saamgekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasvéros om die hand te slaan aan die wat hulle onheil gesoek het; en niemand het voor hulle standgehou nie, want die skrik vir hulle het op al die volke geval. En al die vorste van die provinsies en die landvoogde en die goewerneurs en die beamptes van die koning het die Jode ondersteun, want die skrik vir Mórdegai het op hulle geval. Want Mórdegai was groot in die paleis van die koning, en sy gerug het deur al die provinsies gegaan, omdat die man Mórdegai al groter geword het. En die Jode het onder hulle vyande 'n slagting aangerig deur die swaard en deur doodslag en verdelging, en met hulle haters na hulle goedvinde gehandel. En in die vesting Susan het die Jode vyfhonderd man gedood en uitgeroei; en Parsandáta en Dalfon en Aspáta, en Poráta en Adálja en Aridáta, en Parmásta en Arísai en Arídai en Waisáta, die tien seuns van Haman, die seun van Hammedáta, die teëstander van die Jode, het hulle gedood, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie. Op dieselfde dag het die getal van die wat in die vesting Susan gedood is, voor die koning gekom; en die koning het aan koningin Ester gesê: In die vesting Susan het die Jode vyfhonderd man gedood en uitgeroei benewens die tien seuns van Haman; wat sou hulle wel in die ander provinsies van die koning gedoen het? Wat is dan jou bede? — dit sal jou toegestaan word. En wat is verder jou versoek? — daaraan sal voldoen word. Toe sê Ester: As die koning dit goedvind, laat môre ook aan die Jode wat in Susan is, toegestaan word om te handel volgens die wet wat geld vir vandag; en laat hulle die tien seuns van Haman aan die galg ophang. En die koning het bevel gegee om so te doen; en 'n wet is in Susan uitgevaardig, en hulle het die tien seuns van Haman opgehang. En die Jode wat in Susan was, het ook op die veertiende dag van die maand Adar saamgekom; en hulle het in Susan driehonderd man gedood, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie. En die ander Jode wat in die provinsies van die koning was, het saamgekom en hulle lewe verdedig en gerus van hul vyande; en hulle het onder hul haters vyf-en-sewentigduisend omgebring, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie. Dit was op die dertiende dag van die maand Adar; en op die veertiende daarvan het hulle gerus en dit 'n dag van maaltyd en vrolikheid gemaak. Maar die Jode wat in Susan was, het op die dertiende en die veertiende daarvan byeengekom, en op die vyftiende daarvan gerus, sodat hulle dit 'n dag van maaltyd en vrolikheid gemaak het. Daarom maak die Jode wat buite in die onbemuurde stede woon, van die veertiende dag van die maand Adar 'n dag van vrolikheid en maaltyd en 'n feesdag waarop hulle mekaar lekkernye stuur.
ESTER 9:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar, het aangebreek. Dit was die dag waarop die besluit en proklamasie van die koning moes uitgevoer word, die dag waarop die vyande van die Jode gehoop het om hulle te oorweldig. Die omgekeerde het egter gebeur: die Jode het hulle vyande oorweldig. Die Jode het bymekaargekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasveros om hulle te verdedig teen almal wat hulle ondergang soek. Niemand kon voor hulle standhou nie, al die volke was skrikbevange vir hulle. Al die leiers in die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander in diens van die koning het die Jode gesteun omdat hulle bang was vir Mordegai, want hy het 'n hoë posisie aan die hof beklee. Dit het deur al die provinsies bekend geword dat hierdie Mordegai al hoe meer mag gekry het. Die Jode het onder al hulle vyande 'n groot slagting met die swaard aangerig, hulle het hulle doodgemaak en uitgeroei. Hulle het met almal wat vir hulle haat, gemaak wat hulle wou. In die vestingstad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak. Hulle het ook vir Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata, die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en vyand van die Jode, doodgemaak. Op hulle besittings het hulle egter nie beslag gelê nie. Dieselfde dag nog het die koning berig gekry van die getal mense wat in die stad Susan doodgemaak is. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nog in die ander provinsies van my ryk gedoen het! Is daar iets wat jy nog wil vra? Dit sal aan jou gegee word. Het jy 'n verdere versoek? Dit sal uitgevoer word.” Ester sê toe: “As die koning dit goedvind, laat die Jode in Susan toe om ook môre te doen wat hulle vandag kon doen. En laat die lyke van die tien seuns van Haman aan die galg ophang.” Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word, en so 'n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Ook is die lyke van die tien seuns van Haman opgehang. Die Jode in Susan het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog drie honderd man doodgemaak, maar nie op hulle besittings beslag gelê nie. Die Jode in die ander provinsies van die ryk het intussen bymekaargekom en hulle verdedig. Hulle het die bedreiging deur hulle vyande afgeweer en van hulle haters vyf en sewentig duisend man doodgemaak, maar nie op hulle besittings beslag gelê nie. Dit het gebeur op die dertiende van die maand Adar. Op die veertiende van die maand het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Die Jode in Susan het egter op die dertiende én op die veertiende van die maand bymekaargekom. Hulle het eers op die vyftiende van die maand gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Daarom maak die Jode op die platteland en dié wat in die klein dorpies woon, die veertiende van die maand Adar 'n dag van vreugde en feesviering, 'n feesdag waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur.
ESTER 9:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die twaalfde maand, dit is die maand Adar, op die dertiende dag, moes die wet en bevel van die koning uitgevoer word. Dit was die dag waarvoor die vyande van die Jode gewag het om hulle te oorweldig. Die omgekeerde het egter gebeur: Die Jode het diegene wat hulle gehaat het, oorweldig. Die Jode het bymekaargekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasveros, om diegene wat hulle ondergang gesoek het, dood te maak. Niemand kon voor hulle stand hou nie, want vrees vir die Jode het al die volke oorval. Al die •hoë amptenare van die provinsies en die satrape, die •streekgoewerneurs en die amptenare wat die koning se sake hanteer, het die Jode gesteun, want vrees vir Mordegai het hulle oorval. Mordegai het immers belangrik geword in die koninklike paleis en berigte oor hom het deur al die provinsies versprei. Ja, die man Mordegai het al hoe magtiger geword. Die Jode het op hulle vyande toegeslaan en met die swaard dood en verwoesting gesaai; hulle het met hulle haters gedoen net wat hulle wou. In die vestingstad Susan het die Jode vyfhonderd mense doodgemaak en uitgewis. Hulle het ook Parsandata en Dalfon en Aspata en Porata en Adalja en Aridata en Parmasta en Arisai en Aridai en Wajesata, die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en teenstander van die Jode, doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Die aantal mense wat in die vestingstad Susan doodgemaak is, is nog dieselfde dag aan die koning bekend gemaak. Die koning het vir koningin Ester gesê: “In die vestingstad Susan het die Jode 'n slagting aangerig. Hulle het 500 mense uitgewis, ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nie in die res van die provinsies van die koning gedoen het nie! Wat jy versoek, word aan jou gegee. Wat jy verder wens, sal toegestaan word.” Ester het geantwoord: “As die koning dit goedkeur, gee dan die Jode in Susan die toestemming om môre ook die wet soos vandag uit te voer en laat hulle die tien seuns van Haman aan die paal hang.” Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word. 'n Wet is in Susan uitgevaardig en die tien seuns van Haman is gehang. Die Jode wat in Susan was, het weer bymekaargekom op die veertiende dag van die maand Adar. Hulle het nog driehonderd mense in Susan doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Intussen is die res van die Jode in die koning se provinsies ook bymekaar geroep om hulle lewens te verdedig en verligting te kry van hulle vyande. Hulle het 75 000 van hulle haters doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Dit het alles gebeur op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Die Jode wat in Susan was, het egter bymekaargekom op die dertiende en die veertiende dag. Eers op die vyftiende dag het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Daarom maak die Jode wat in dorpe op die platteland woon, die veertiende dag van die maand Adar 'n dag van vreugde en feesviering, 'n feesdag waarop hulle eetgoed aan mekaar stuur.
ESTER 9:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die twaalfde maand, dit is die maand Adar, op die dertiende dag daarvan, toe die bevel van die koning en sy bevel naby gekom het om voltrek te word, op die dag dat die vyande van die Jode gehoop het om mag oor te hê hulle, (al was dit teendeel, dat die Jode geheers het oor die wat hulle haat;) Die Jode het in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasvéros vergader om die hand te slaan aan dié wat hulle kwaad gesoek het; en niemand kon hulle weerstaan nie; want die vrees vir hulle het op al die mense geval. En al die owerstes van die provinsies en die luitenante en die owerhede en die amptenare van die koning het die Jode gehelp; want die vrees van Mordegai het op hulle geval. Want Mórdegai was groot in die koning se huis, en sy roem het uitgegaan in al die provinsies, want hierdie man het Mórdegai al hoe groter geword. So het die Jode al hulle vyande verslaan met die slag van die swaard en slagting en vernietiging, en het gedoen wat hulle wou aan die wat hulle haat. En in die paleis Susan het die Jode vyf honderd man gedood en vernietig. En Parshandatha en Dalfon en Aspata, En Porata en Adalia en Aridata, en Parmashta en Arisai en Aridai en Vajezatha, Die tien seuns van Haman, die seun van Hammedatha, die vyand van die Jode, het hulle gedood; maar hulle het hul hand nie op die buit gelê nie. Op daardie dag is die getal van die wat in die paleis Susan gedood is, voor die koning gebring. Toe sê die koning vir koningin Ester: Die Jode het vyf honderd man in die paleis Susan gedood en vernietig, en die tien seuns van Haman; wat het hulle in die res van die koning se provinsies gedoen? nou wat is jou versoek? en dit sal aan jou toegestaan word; of wat is jou versoek verder? en dit sal gedoen word. Toe sê Ester: As die koning dit goedvind, laat dit aan die Jode wat in Susan is, gegun word om ook môre te doen volgens die voorskrif van vandag, en laat Haman se tien seuns aan die galg opgehang word. En die koning het bevel gegee dat dit so moes gebeur, en die bevel is in Susan gegee; en hulle het Haman se tien seuns opgehang. Want die Jode wat in Susan was, het ook op die veertiende dag van die maand Adar bymekaargekom en drie honderd man in Susan gedood; maar op die buit het hulle hul hand nie opgelê nie. Maar die ander Jode wat in die provinsies van die koning was, het bymekaargekom en vir hulle lewe gestaan en rus gehad van hulle vyande en van hulle vyande vyf en sewentig duisend gedood, maar hulle het nie die hande op die prooi gelê nie. Op die dertiende dag van die maand Adar; en op die veertiende dag daarvan het hulle gerus en dit 'n dag van maaltyd en blydskap gemaak. Maar die Jode wat in Susan was, het op die dertiende en op die veertiende daarvan vergader; en op die vyftiende dag daarvan het hulle gerus en dit 'n dag van maaltyd en blydskap gemaak. Daarom het die Jode van die dorpe wat in die ongemuurde dorpe gewoon het, die veertiende dag van die maand Adar 'n dag van blydskap en feesmaaltye en 'n goeie dag gemaak, en van die stuur van porsies vir mekaar.
ESTER 9:1-19 Die Boodskap (DB)
Toe het 7 Maart van die volgende jaar aangebreek, die dag waarop die koninklike proklamasie in werking moes tree en waarop die vyande van die Jode gehoop het om hulle in hulle mag te kry. Maar op dié dag het presies die teenoorgestelde gebeur. Dit was nou die Jode wat hulle vyande oorweldig het. Hulle het in al hulle stede in die provinsies van koning Ahasveros se ryk bymekaargekom om hulleself te verdedig teen enigiemand wat hulle kwaad probeer aandoen het. Maar niemand wou so ’n kans waag nie, want almal was te bang vir hulle. Om die waarheid te sê, al die bestuurders van die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander mense in die koning se diens het hulle eerder gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai. Want Mordegai het alreeds ’n hoë posisie in die paleis beklee en het by die dag magtiger geword. Maar die Jode het hulle teëstanders met die swaard uitgeroei. Hulle het hulle vyande doodgemaak en vermorsel. Met almal wat hulle gehaat het, het hulle gedoen net wat hulle wou. In Susan alleen het hulle 500 mense doodgemaak. Onder hulle was die tien seuns van Haman, die seun van Hammedata, die vyand van die Jode: Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata. Maar die Jode het nie hierdie mense se besittings gevat nie. Die koning is daardie selfde dag nog ingelig oor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode, buiten die tien seuns van Haman, nog 500 mense doodgemaak. As hulle dit hier gedoen het, dink net wat in die res van die provinsies gebeur het! Nou, is daar nog iets wat jy wou gehad het? Sê net en jy sal dit kry. Jy hoef net te vra.” Hierop was Ester se antwoord: “As dit die koning se goedkeuring wegdra, laat die Jode in Susan môre weer toe om te doen wat hulle vandag gedoen het. En wat die lyke van die tien seuns van Haman betref, laat hulle in die openbaar ten toon gestel word.” Die koning het ingestem en so ’n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is ook in die openbaar ten toon gestel. Op 8 Maart het die Jode van Susan weer bymekaargekom en nog 300 mense in die stad doodgemaak. Maar hulle het weereens nie hierdie mense se besittings gevat nie. Die Jode in die ander provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself teen hulle vyande te verdedig. Hulle het goed daarin geslaag, want hulle het 75 000 van hulle doodgemaak, maar nie hulle besittings gevat nie. Dit het op 7 Maart gebeur, maar die volgende dag het hulle opgehou om mense dood te maak. Hulle het vrolik feesgevier. Die Jode in die stad Susan het egter op 7 en 8 Maart nog teen hulle vyande geveg. Hulle het eers op die negende Maart opgehou en dit toe as ’n feesdag vol vreugde gevier. Daarom vier die Jode wat op die platteland bly, hierdie feesdag nog steeds op die agtste Maart. Dit is ’n vrolike fees waarop hulle vir mekaar lekkernye en kos stuur.
ESTER 9:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar, het die twee proklamasies van die koning van krag geword. Dit was die dag waarop die vyande van die Jode gereken het om hulle te oorweldig. Dit het egter net andersom gebeur, want die Jode het die mense wat hulle haat, oorweldig. Die Jode het oral in die stede waar hulle gewoon het en in al die provinsies van koning Ahasveros bymekaargekom om hulleself te verdedig teen almal wat hulle wou aanval. Niemand was teen hulle opgewasse nie, want al die volke was bang vir hulle. Al die leiers in die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander in diens van die koning, het die Jode gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai. Mordegai het opgang gemaak in die koning se hofhouding. Hy het in al die provinsies bekend geword. Hy het al hoe groter mag gekry. Die Jode het hulle vyande met die swaard oorweldig. Hulle het onder hulle vyande gemaai. In die hoofstad Susan het die Jode 500 mense doodgemaak. Hulle het ook die tien seuns van Haman die seun van Hammedata, Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata, die vyande van die Jode, doodgemaak. Hulle het nie oorlogsbuit van hulle gevat nie. Teen die aand van daardie dag het die koning gehoor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode 500 mense doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle in die ander provinsies van my ryk reggekry het! Is daar nog iets meer wat jy wil hê? Jy sal dit kry. Is daar iets waarna jy nog soek? Dit sal vir jou gedoen word.” Ester sê toe: “As dit vir die koning in orde is, laat dan die Jode in Susan toe om môre aan te gaan waarmee hulle vandag besig was. Laat ook die lyke van die tien seuns van Haman aan hulle pa se galg opgehang word.” Die koning het ingestem dat dit mag gebeur. Hy het so ’n proklamasie in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is aan sy galg opgehang. Die Jode wat in Susan bly, het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog ’n verdere 300 mense doodgemaak. Hulle het nog steeds nie hulle eiendom as buit gevat nie. Die ander Jode in die provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het die juk van hulle vyand afgeskud en van hulle haters 75 000 mense doodgemaak. Hulle het egter niks wat aan hulle vyand behoort het, vir hulleself as oorlogsbuit gevat nie. Dit was op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag van die maand het hulle gerus. Hulle het daarvan ’n dag gemaak waarop hulle feesmaaltye gemaak het en hulle oorwinning gevier het. Die Jode wat in Susan gebly het, het op sowel die dertiende as die veertiende dag bymekaargekom om te veg. Hulle het eers op die vyftiende van die maand tot rus gekom en daarvan ’n dag van feesviering en vreugde gemaak. Dit is hoekom die Jode wat op die platteland en in klein dorpies sonder veiligheidsmure woon, op die veertiende van die maand Adar ’n jaarlikse vakansiedag van vreugde en feesviering hou waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur.