Ester 7

7
Teregstelling van Haman
1 Die koning en Haman het by koningin Ester gaan eet. 2 Terwyl hulle op die tweede dag van die feesmaal wyn gedrink het, het die koning weer vir Ester gevra: “Wat is jou versoek, koningin Ester? Wat jou versoek ook al is, dit sal vir jou gegee word. En wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.” 3 Koningin Ester het geantwoord en gesê: “As ek guns vind in u oë, o koning, en as die koning dit goedvind, laat my lewe vir my gegee word, dit is my versoek; en die lewe van my volk, dit is my wens. 4 Want ons is verkoop, ek en my volk, om verdelg te word, om vermoor en uitgewis te word. Was ons net as slawe en slavinne verkoop, dan sou ek nog stilgebly het, want so 'n beproewing sou nie genoeg gewees het om die koning daarmee te belas nie. ” 5 Koning Ahasveros vra toe vir koningin Ester: “Wie is hy? En waar is hierdie man wat hom aanmatig om so iets te doen?” 6 En Ester antwoord: “'n Verdrukker en vyand is hierdie bose Haman.” Haman het ineengekrimp van vrees voor die koning en die koningin. 7 Die koning het woedend van die wynbanket af opgestaan en na die tuin van die paleis gegaan, maar Haman het agtergebly om by koningin Ester om sy lewe te smeek, want hy het gesien dat die koning reeds oor sy ondergang besluit het. 8 Toe die koning terugkeer van die paleistuin na die feesvertrek, val Haman juis neer op die bank waarop Ester geleun het. Die koning het uitgeroep: “Wil hy die koningin aanrand, selfs hier by my in die paleis?” Die koning se woorde was nog nie koud nie, toe bedek die dienaars al Haman se gesig. 9 Garbona, een van die koning se paleisamptenare het gesê: “Kyk, Haman het selfs 'n paal gereedgemaak vir Mordegai, wat in belang van die koning gepraat het. Daardie paal staan by Haman se huis, vyftig el hoog.” Die koning het gesê: “Hang hom daaraan op!” 10 Hulle het Haman toe gehang aan die paal wat hy vir Mordegai voorberei het. Daarna het die woede van die koning bedaar.

Tans Gekies:

Ester 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid