Ester 5

5
Ester se versoek aan die koning
1 Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die koninklike paleis voor die troonsaal gaan staan, terwyl hy op sy koninklike troon in die troonsaal regoor die ingang sit. 2 Die oomblik toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy guns gevind in sy oë. Hy het die goue septer in sy hand na haar uitgesteek. Sy het nader gegaan en die punt van die septer aangeraak. 3 Die koning sê toe vir haar: “Wat is dit, koningin Ester? Wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.” 4 Ester het geantwoord: “As die koning dit goedvind, laat u en Haman vandag na die feesmaal kom wat ek vir u voorberei het.” 5 Die koning het beveel: “Laat Haman dadelik kom sodat ons kan voldoen aan Ester se versoek.” Die koning en Haman het toe na die feesmaal gegaan wat Ester voorberei het. 6 Terwyl hulle wyn drink, sê die koning vir Ester: “Wat jou versoek ook al is, dit sal vir jou gegee word. En wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.” 7Ester het toe geantwoord en gesê: “My versoek en my wens is: 8 As die koning my goedgesind is, en as u dit goedvind om aan my versoek te voldoen en my wens toe te staan, laat die koning en Haman kom na die feesmaal wat ek vir hulle sal voorberei. Môre sal ek doen wat die koning vra.”
Beplanning van Mordegai se dood
9 Haman het op daardie dag bly en in 'n opgeruimde stemming weggegaan. Maar toe Haman vir Mordegai in die koningspoort gewaar en sien dat Mordegai nie uit respek vir hom opstaan en bewe van vrees vir hom nie, het Haman woedend geword vir Mordegai. 10 Maar Haman het homself bedwing en huis toe gegaan. Hy het sy vriende en sy vrou, Seres, laat kom 11 en by hulle gespog oor sy oorvloedige rykdom, sy baie seuns, en al die maniere waarop die koning hom vereer en bevorder het bo die ander •hoë amptenare en dienaars van die koning. 12“Maar dit is nog nie al nie,” het Haman gesê. “Ek is die enigste persoon vir wie koningin Ester genooi het om saam met die koning na die feesmaal te gaan wat sy voorberei het. En ek is ook môre saam met die koning na haar genooi. 13Maar dit alles baat my niks solank as wat ek vir Mordegai, die Jood, in die koningspoort sien sit nie.” 14 Seres, sy vrou, en al sy vriende het vir hom gesê: “Laat hulle 'n paal gereedmaak, vyftig el hoog. Praat môre met die koning hieroor, sodat hulle Mordegai daaraan hang. Daarna kan jy opgeruimd saam met die koning na die feesmaal gaan.” Haman het van hierdie voorstel gehou en die paal gereedgemaak.

Tans Gekies:

Ester 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid