Efesiërs 4:1-16

Efesiërs 4:1-16 AFR20

Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here 'n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra, en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede – een liggaam en een Gees, soos julle ook deur julle roeping tot een hoop geroep is: een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in almal is. Maar aan elkeen van ons is 'n genadegawe geskenk, soos •Christus dit uitgedeel het. Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer; Hy het gawes aan die mense gegee.” “Hy het opgevaar” – waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele, sodat Hy alle dinge kon vul. En Hy het sommige as •apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, om die •heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die •Seun van God, en tot 'n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid