EFESIËRS 4:1-16

EFESIËRS 4:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek druk julle dit op die hart, ek wat 'n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Aan elkeen van ons is 'n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. Daarom sê die Skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

EFESIËRS 4:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek doen dus ’n beroep op julle, ek wat ’n gevangene in diens van die Here is: Leef ’n lewe wat pas by die waardigheid van die roeping waarmee julle geroep is. Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra. Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle julle daarop toelê om die eenheidsband te bewaar wat die Gees bewerk het. Daar is net één liggaam en één Gees, net soos julle net één toekomsverwagting het op grond van julle roeping – één Here, één geloof, één doop, één God, ons almal se Vader; Hy heers oor almal, werk deur almal en woon in almal. Maar aan elkeen van ons afsonderlik is volgens Christus se vrygewigheid ’n genadegawe gegee. Daarom sê die Skrif: “Toe Hy in die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes meegevoer en geskenke aan die mense gegee.” Wat beteken “Hy het opgevaar” anders as dat Hy eers vooraf moes neergedaal het na dit wat laer is, naamlik na die aarde toe? Dieselfde Persoon wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het tot ver bo die wolke- en sterrehemel sodat Hy die heelal met sy teenwoordigheid kan vul. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen. Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie. Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op.

EFESIËRS 4:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Paulus, is in die tronk omdat ek die Here dien. Ek sê ernstig vir julle: God het julle gekies en julle behoort nou aan Hom. Daarom moet julle nou lewe soos mense wat aan Hom behoort. Julle moenie hoogmoedig wees en gou kwaad word nie. Julle moet geduldig wees, julle moet mekaar vergewe omdat julle lief is vir mekaar. Die Heilige Gees het julle saamgebind soos een liggaam. Julle moet baie hard probeer om te lewe soos mense wat een liggaam is, julle moet in vrede lewe. Julle is een, en soos 'n mens net een liggaam het, so het julle almal dieselfde Heilige Gees in julle harte. Want God het julle almal gekies, julle almal behoort aan Hom, en julle is nou almal seker dat God sal doen wat Hy belowe het. Julle het almal een Here, julle glo dieselfde dinge, julle is almal gedoop. Julle behoort almal aan dieselfde God. Hy is die Vader van almal. Hy regeer oor almal en oor alles, Hy laat almal en alles vir Hom werk, Hy is in almal. Christus het vir elkeen van ons die genadegawe gegee wat Hy vir ons wou gee. Die genadegawe wat Hy vir ons gegee het, is soos 'n present. Daarom lees ons in die Ou Testament: Hy het opgegaan na die hemel en Hy het gevangenes saamgeneem, Hy het vir die mense presente gegee. Ons lees: Hy het opgegaan. Dit beteken Christus het eers afgekom ondertoe, na die aarde. Ja, Christus het afgekom na die aarde en toe het Hy weer teruggegaan na die hoogste hemel. Hy het dit gedoen sodat Hy oral en altyd kan regeer. En Christus het vir ons presente, genadegawes, gegee. Die genadegawes is die apostels, die profete, en die leiers wat die goeie boodskap bring of vir die gelowiges sorg of vir hulle leer. Christus wil hê hierdie mense moet God se mense help sodat hulle beter en beter vir God kan werk, en sodat die kerk sterker en groter kan word, die kerk wat soos Christus se liggaam is. Christus wil hê ons moet almal dieselfde dinge glo en ons moet Hom, die Seun van God, baie goed ken. Ons moet soos kinders wees wat grootgeword het en wat nou grootmense is, soos Christus wat is soos God wil hê Hy moet wees. Daar is mense wat skelm is, hulle wil hê ons moet dinge glo wat nie waar is nie. Hulle kom vertel vir ons dinge wat verkeerd is en hulle wil hê ons moet dit glo. Maar ons moenie dit glo nie, ons moenie soos kinders wees nie, of soos iets wat op die see ronddryf of wat in die wind heen en weer waai nie. Ons moet altyd die waarheid praat en altyd lief wees vir mekaar. So word ons meer en meer soos Christus, Hy is ons Hoof. Die kerk is soos 'n liggaam wat baie dele het, die dele is almal vas aan mekaar. Elke deel van die liggaam werk saam en help die liggaam om te groei en sterker te word. So laat Christus die kerk groei en sterker word. Dit gebeur wanneer ons lief is vir mekaar en vir mekaar help.

EFESIËRS 4:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EK vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is. Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus. Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring. En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.

EFESIËRS 4:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here 'n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra, en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede – een liggaam en een Gees, soos julle ook deur julle roeping tot een hoop geroep is: een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in almal is. Maar aan elkeen van ons is 'n genadegawe geskenk, soos •Christus dit uitgedeel het. Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer; Hy het gawes aan die mense gegee.” “Hy het opgevaar” – waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele, sodat Hy alle dinge kon vul. En Hy het sommige as •apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, om die •heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die •Seun van God, en tot 'n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.

EFESIËRS 4:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek, die gevangene van die Here, smeek julle dan dat julle wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, Met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra; Probeer om die eenheid van die Gees in die band van vrede te bewaar. Daar is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; Een Here, een geloof, een doop, Een God en Vader van almal, wat bo almal en deur almal en in julle almal is. Maar aan elkeen van ons word genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus. Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het na die hoogte, het Hy gevangenes gevange geneem en geskenke aan die mense gegee. (Nou dat Hy opgevaar het, wat is dit anders as dat Hy ook eerste na die onderste dele van die aarde neergedaal het? Hy wat neergedaal het, is dieselfde wat opgevaar het ver bo al die hemele, om alles te vervul.) En Hy het sommige gegee, apostels; en sommige profete; en sommige, evangeliste; en sommige, pastore en leraars; tot volmaking van die heiliges, tot die werk van die bediening, tot opbouing van die liggaam van Christus. Totdat ons almal gekom het in die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volmaakte mens, tot die mate van die grootte van die volheid van Christus; Dat ons voortaan nie meer kinders sal wees nie, heen en weer geslinger en meegevoer deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van mense, en slinkse listigheid, waardeur hulle lê en loer om te mislei; Maar deur die waarheid in liefde te spreek, mag in alles opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus. Uit wie die hele liggaam behoorlik saamgevoeg en saamgepers word deur dit wat elke gewrig verskaf, volgens die kragtige werking in die mate van elke deel, vermeerder die liggaam tot sy opbouing in liefde.

EFESIËRS 4:1-16 Die Boodskap (DB)

Ek sit hier in die tronk omdat ek vir die Here werk. Dit wys hoe ernstig ek oor hierdie dinge is, en juis daarom vra ek julle mooi: leef so dat God trots kan wees dat Hy julle na Hom toe geroep het. Moenie voor op die wa wees nie en behandel ander mense so dat dit vir hulle lekker is om by julle te wees. As iemand jou kwaad maak of irriteer, beheer jouself deur steeds mooi teenoor hom op te tree. Laat liefde julle lojaal teenoor mekaar hou, ook wanneer julle voel julle het nou vir eers genoeg van mekaar gehad. Die Heilige Gees het van ons een hegte span vir God gemaak. Hierdie “een-wees” en “saam-wees” moet ons tot elke prys bewaar. Ons moet nie toelaat dat enigiets tussen ons kom wat die goeie verhouding tussen ons bederf nie. God is nie verdeel nie. Daar is net een liggaam van Christus, waarvan ons deel is, en net een Heilige Gees. Ons almal se hoop is ook een en dieselfde. Ons dien een Here, ons geloof is dieselfde en daar is net een doop. En dan is daar ook net een God en Hy is die Vader van ons almal. Niks en niemand is soos Hy nie, want Hy is belangriker as alles en almal. Hy werk deur ons en woon in ons almal. Christus het vir elkeen van ons iets besonders gegee om in die gemeente te doen. Hierdie spesiale geskenke het Hy vir ons gegee sonder dat een van ons dit verdien het. Daarom sê die Skrif van Jesus: “Toe Hy terug is hemel toe, het Hy teruggegaan soos ’n koning wat die oorlog gewen het. Almal kon aan sy vyande sien dat Hy gewen het en Hy het geskenke aan die mense uitgedeel.” (Wat presies beteken hierdie “teruggaan hemel toe”? Dit beteken mos dat Hy voorheen in die hemel was en toe na die aarde toe afgekom het. Juis Hy is terug hemel toe. Nou is daar nie ’n hoekie of kantjie van hierdie heelal waar Jesus nie teenwoordig is nie.) Hierdie Christus het vir ons spesiale dinge gegee om in die gemeente te doen. Nie elkeen van ons het dieselfde gekry om te doen nie. Party van ons het Hy gestuur om sy boodskap op ander plekke te gaan verkondig, terwyl ander weer die gawe gekry het om spesiale boodskappe aan die gemeente self oor te dra. Dan is daar ook party wat die boodskap oor Jesus mooi vir mense kan verduidelik, ander wat mense kan help en lei as hulle hulp nodig het en ander wat soos goeie onderwysers mense stap vir stap kan leer wat die boodskap van God alles behels. Hierdie mense, met die spesiale gawes wat hulle gekry het, werk saam om die gemeente te help en voor te berei om hulle werk as Christene in die wêreld goed te kan doen. Op dié manier sal die liggaam van Christus sterk word en kan wees wat dit behoort te wees. So sal ons al hoe nader aan mekaar beweeg en al hoe meer ’n eenheid vorm. Saam sal ons die Seun van God beter leer ken en meer op Hom vertrou. Dan sal ons soos geestelike grootmense word, so volwasse in ons geestelike lewe soos Christus self. Ons sal nie meer soos klein kindertjies onseker wees oor wat van ons verwag word nie. Ons sal nie soos ’n skip wees wat deur die golwe rondgeslinger word of deur die een wind hiernatoe en die ander wind daarnatoe gedryf word nie. Net so sal ons nie na elke nuwe godsdienstige praatjie op die mark luister nie. Mense probeer jou net met allerhande slimmighede om die bos lei om jou so op die verkeerde pad te laat beland. Maar hulle sal dit nie regkry nie. Ons sal in liefde lojaal teenoor mekaar en net op die pad van die waarheid bly. Ons verhouding met Jesus sal in alles net sterker word. Ons, as die liggaam, sal al hoe meer van Christus afhanklik wees, want Hy is mos die kop van die liggaam. Die liggaam is mooi aanmekaargesit, elke deel op sy plek, sodat elke liggaamsdeel sy eie werk doen en die ander liggaamsdele help. So groei die liggaam en word dit sterk omdat die verskillende liggaamsdele in liefde en lojaliteit mekaar help.

EFESIËRS 4:1-16

EFESIËRS 4:1-16 AFR83EFESIËRS 4:1-16 AFR83EFESIËRS 4:1-16 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid