Efesiërs 2:11-18

Efesiërs 2:11-18 AFR20

Daarom, onthou dat julle destyds volgens julle sondige aard heidene was. Julle word onbesnedenes genoem deur diegene wat besnedenes genoem word, al is dit bloot liggaamlik deur hande verrig. Onthou dat julle in daardie tyd sonder •Christus was, uitgesluit van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was, naby gekom deur die bloed van Christus. Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het. Hy het die wet met sy eise en reëls tot niet gemaak, sodat Hy, deur vrede te maak, in Homself die twee tot een nuwe mens kon skep, en sodat Hy albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, deurdat Hy daaraan die vyandskap vernietig het. En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was. Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid