EFESIËRS 2:11-18

EFESIËRS 2:11-18 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet onthou julle was heidene. Die Jode het gesê julle is nie besny nie. Dit is waar dat die Jode besny is, maar dit is net hulle liggame wat verander het. Julle moet onthou julle het voorheen nie aan Christus behoort nie. Israel was die volk van God, nie julle nie. God het verbonde gemaak met Israel, nie met julle nie. God het dinge belowe vir Israel, nie vir julle nie. Julle was mense wat nie seker was dat daar eendag goeie dinge met julle sal gebeur nie. Julle het nie aan God behoort nie. Maar nou het julle naby God gekom, julle wat voorheen ver van Hom was. Christus Jesus het vir julle gesterf en Hy het julle naby God gebring. Dit is Christus wat vrede gebring het tussen ons. Die Jode en die heidene was altyd apart en hulle was mekaar se vyande. Dit was soos 'n muur tussen die Jode en die heidene. Maar Christus het die muur afgebreek en Hy het die Jode en die heidene bymekaargebring. Hulle is nou nie meer vyande nie. Christus het gesê die Jode se wette en reëls beteken nou niks, dit is nie meer belangrik nie. Hy het die Jode en die heidene saam soos een nuwe mens gemaak. So het Hy vrede gemaak tussen hulle. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het Hy die sonde van die Jode en die heidene weggeneem, sodat alles nou reg is tussen God en hulle. Die Jode en die heidene is nou soos een liggaam, hulle is nie meer vyande van mekaar nie. Christus het kom sê daar is nou vrede vir julle wat ver van God was en daar is vrede vir die Jode wat naby God was. Ja, Christus het gesterf, en nou kan ons almal, Jode en heidene, kom by God die Vader, want ons almal het die Heilige Gees gekry, en daar is net een Heilige Gees.

EFESIËRS 2:11-18 Die Boodskap (DB)

Julle moet onthou waar julle vroeër vandaan gekom het. Julle was nie Jode nie. Die klomp Jode, wat vreeslik klem lê op die uiterlike seremonie van die besnydenis, het die neus vir julle opgetrek omdat julle nie ook daardie hele seremonie deurgemaak het nie. Hulle het julle toegesnou en gesê: “Julle klomp onbesnedenes!” Maar die besnydenis is vir God nie so belangrik nie, want dit is iets wat mense doen. Dink liewer terug aan die tyd toe julle niks van Jesus af geweet het nie. Toe was julle nie deel van die mense van God nie en julle het nie eens geweet watter ooreenkoms God met mense wil maak en wat Hy daarom alles vir hulle beloof het nie. Julle het geestelik in hierdie wêreld rondgedobber sonder enige vooruitsig of hoop, want julle het God nie geken nie. Maar nou is julle deel van die mense wat aan Christus Jesus behoort. Julle was eens so ver van God af. Maar Jesus het vir julle gesterf en sy bloed vir julle gegee sodat julle nou naby God kan wees. Jesus is die ware vredemaker. Hy is die Een wat vrede kom maak het tussen die Jode en dié wat nie Jode is nie. Die vyandige houding, wat soos ’n groot muur tussen ons gestaan het, het Jesus tot op die grond kom afbreek. Nou is daar niks meer wat ons in twee groepe verdeel (naamlik Jode en nie-Jode) nie, maar ons is een groep, Jesus s’n. Om dit vir ons reg te kry het Jesus sy lewe gekos. Al die Joodse wette en reëls, wat een mens ’n Jood maak en die ander een nie, het Jesus eenkant toe geskuif. Hy het een nuwe groep mense uit die twee groepe gemaak deur hulle almal soos een man in vrede agter Hom te laat aankom. Maar dit is nie al nie. Jesus het ook gesorg dat daar vrede kom tussen God en hierdie groep mense (wat eers self verdeel was). Daarvoor was Hy bereid om sy lewe aan die kruis te gee. Dit het die mense laat besef dat hulle met mekaar in vrede moet leef. Jesus het die goeie boodskap gebring dat daar vrede in die wêreld gekom het. Die vrede is nie net bedoel vir die klompie Jode wat naby aan God geleef het nie, maar ook vir almal in die wêreld wat vir baie jare so ver van God af was dat hulle niks van Hom geweet het nie. Vir almal (Jode of nie-Jode) het Jesus die pad na God toe oopgemaak, en deur die Gees ervaar ons nou ook hoe naby God regtig aan ons gekom het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid