Daniël 7:1-14

Daniël 7:1-14 AFR20

In die eerste regeringsjaar van Belsasar, die koning van Babilonië, het Daniël 'n droom gehad; dit was visioene in sy kop, terwyl hy in sy bed was. Hy het daarna die droom neergeskryf. Die hoofsom van die gebeure het hy saamgevat. Daniël het die volgende gesê: “In my visioen in die nag het ek gesien hoe die vier winde van die hemel die groot see in beroering bring. Vier groot diere het uit die see opgekom, elkeen anders as die ander. “ Die eerste was soos 'n leeu met die vlerke van 'n arend. Ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgepluk was, hy van die grond af opgelig is, op twee voete soos 'n mens neergesit is en die hart van 'n mens aan hom gegee is. “ En kyk, 'n ander, 'n tweede dier, het soos 'n beer gelyk, en is langs die eerste dier opgerig. Daar was drie ribbes in sy bek tussen sy tande, en daar is vir hom gesê, ‘Staan op, eet baie vleis!’ “ Daarna het ek gesien: Kyk, daar was 'n ander dier, soos 'n luiperd. Hy het vier vlerke van 'n voël op sy rug gehad. Die dier het vier koppe gehad, en heerskappy is aan hom gegee. “ Daarna het ek in my nagtelike visioene gesien: Kyk, daar was 'n vierde dier, vreesaanjaend, skrikwekkend en buitengewoon sterk, met groot tande van yster. Hy het verslind en vermorsel, en wat oorgebly het, met sy pote vertrap. Hy het verskil van al die diere voor hom, en het tien horings gehad. Terwyl my aandag nog by die horings was, kyk, toe kom daar 'n ander klein horinkie tussen hulle uit, en drie van die vorige horings voor hom is ontwortel. Kyk, in hierdie horing was daar oë soos mense-oë en 'n mond wat grootpraat. “ Ek het gekyk totdat trone opgestel is, en 'n Oue van Dae plaasgeneem het. Sy kleed was wit soos sneeu, die hare van sy hoof soos suiwer wol. Sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan vlammende vuur. 'n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die •boekrolle is oopgemaak. “Ek het daarna nog bly kyk, weens die geraas van die verwaande woorde wat die horing besig was om kwyt te raak; ja, ek het bly kyk totdat die dier gedood is, sy liggaam verwoes is, en hy oorgegee is aan verbranding deur die vuur. Die oorblywende diere se heerskappy is hulle ontneem, en 'n langer lewe is vir hulle gegee, tot 'n tyd en 'n tydsduur verloop het. “Ek het in die nagtelike visioene gesien: “Kyk, met die wolke van die hemel was iemand aan die kom wat soos 'n mensekind was; tot by die Oue van Dae het hy gekom, voor Hom is hy gebring. Aan hom is heerskappy, eer en koningskap gegee – alle volke, nasies en taalgroepe dien hom. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie verby sal gaan nie, en sy koningskap is so dat dit nie vernietig sal word nie.