DANIËL 7:1-14

DANIËL 7:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die eerste regeringsjaar van koning Belsasar van Babel het Daniël 'n droom gehad en visioene gesien in sy slaap. Hy het die droom opgeskryf en die inhoud daarvan soos volg weergegee. Hy het gesê: “In my nagtelike visioen het die wind uit al vier windstreke die groot see onstuimig laat word. Vier groot diere het uit die see uit opgekom, en elkeen was anders as die ander. Die eerste het soos 'n leeu gelyk en hy het arendsvlerke gehad. Terwyl ek kyk, is sy vlerke afgeruk en is hy opgelig, sodat hy op twee voete gestaan het soos 'n mens, en 'n mens se verstand is aan hom gegee. Die tweede dier het soos 'n beer gelyk. Hy het op sy agterpote gestaan en het drie ribbebene in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: ‘Vreet maar! Vreet soveel vleis as jy wil!’ En toe ek weer sien, was daar nog 'n dier, een soos 'n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos dié van 'n voël. Hy het vier koppe gehad en aan hom is heerskappy gegee. My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer sien, was daar 'n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk. Hy het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat oorgebly het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het tien horings gehad. Terwyl ek stip na die horings kyk, het daar 'n klein horinkie tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is uitgeruk om vir hom plek te maak. Hierdie horing het mensoë gehad en 'n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het. “Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit, en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol. Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur. Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Duisende der duisende het Hom gedien, miljoene het daar voor Hom kom staan. Die hofsitting het begin, en die boeke met die aanklagte is oopgemaak. “Terwyl ek kyk, is die een dier oor die verwaande gepraat van die horinkie doodgemaak en is sy liggaam vernietig deur dit in die vuur te gooi. Ook die ander diere se heerskappy is van hulle weggeneem, maar hulle lewens is nog 'n tyd lank gespaar. “My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos 'n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. “Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.

DANIËL 7:1-14 Die Boodskap (DB)

Vroeër, tydens die eerste jaar waarin Belsasar koning van Babel was, het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien terwyl hy gelê en slaap het. Hy het die droom soos volg beskryf: “Daar was in my visioen in die nag ’n geweldige storm op die see en die wind het uit alle rigtings die branders heen en weer gewaai. Skielik het daar vier massiewe diere uit die see uit opgekom. Nie een van die diere het dieselfde gelyk nie. Die eerste een het soos ’n leeu gelyk, maar dit het groot vlerke gehad soos dié van ’n arend. Terwyl ek nog so na die dier kyk, is sy vlerke afgeskeur. Hy het op sy agtervoete bly staan net soos ’n mens wat regop staan. Hy kon dink en reageer soos ’n mens. Die tweede dier het soos ’n beer gelyk. Hy het ook op sy agterpote gestaan en in sy bek was daar drie ribbebene, tussen sy tande. Ek het gehoor hoe ’n stem vir hom sê: ‘Eet! Eet net soveel vleis as wat jy wil!’ Toe ek weer kyk, was daar nog ’n dier. Hierdie een het soos ’n luiperd gelyk. Op sy rug het hy egter vier vlerke soos ’n voël s’n gehad. Hy het ook nie net een kop gehad nie, maar vier. Dit was duidelik dat hy baie mag gehad het. Ek het ook in my visioen ’n vierde dier gesien. Hierdie dier was vreesaanjaend. Dit het my met angs gevul en dit was sterk. Met sy ystertande het hy sy vyande vermorsel en opgevreet. Wat oorgebly het, het hy verder met sy pote vertrap. Hierdie dier met sy tien horings was anders as die ander drie. Terwyl ek nog besig was om my aan die horings te verstom het ek gesien hoe daar ’n ander, kleiner horing tussen die horings uitkom. Drie ander horings is wortel en al uitgeruk om plek te maak vir hierdie horinkie. Hierdie horing het oë soos dié van ’n mens gehad en ’n mond waarmee hy allerhande arrogante dinge gesê het. “Ek het ook gesien hoe daar trone reggesit word. Die Een wat vir ewig lewe, het op een van die trone gaan sit om as regter op te tree. Sy klere was so wit soos sneeu en sy hare so wit soos suiwer wol. Sy troon het vier vlammende wiele gehad en was omring deur vuur. Die vuur het soos ’n rivier uit die troon uit gestroom. Miljoene engele het Hom bedien en daar het miljoene der miljoene mense voor sy troon gestaan. Toe het die hofsitting begin en die boeke is oopgemaak waarin al die aanklagte opgeteken is. “Die klein horinkie was nog steeds besig om allerhande grootpraterige goed te sê. En toe ek weer kyk, sien ek hoe die vierde dier doodgemaak word en sy liggaam in die vuur verbrand word. Ook die ander drie diere se krag is van hulle af weggevat, maar hulle lewe is vir nog ’n klein rukkie gespaar. “My visioen het voortgegaan. Daar in die wolke het ek iemand sien aankom. Hy het soos ’n mens gelyk. Hy het na die Een toe gegaan wat vir altyd lewe. Hierdie mens is geroep om by sy troon te gaan staan. Aan hierdie mens is al die mag en die eer en die koningskap gegee, sodat al die volke, nasies en tale van die wêreld hom sou dien. Daar sal nooit ’n einde aan sy heerskappy wees nie. Sy koninkryk sal nooit vernietig word nie.”

DANIËL 7:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die eerste regeringsjaar van Belsasar as koning van Babel, het Daniël ’n droom gehad. Hy het in sy slaap gesigte gesien. Wat hy in die droom gesien het, het hy neergeskryf. Dit is wat hy gesien het: In my droom daardie nag het ek, Daniël, ’n sterk storm op die groot see gesien met winde wat uit al vier rigtings waai. Vier groot diere wat van mekaar verskil het, het uit die see gekom. Die eerste dier was soos ’n leeu met arendsvlerke. Terwyl ek besig was om daarna te kyk, is sy vlerke afgeskeur. Sy voorlyf is van die aarde af opgelig en hy het op sy agterpote gaan staan soos ’n mens, en ’n mens se verstand is aan hom gegee. Ek het ’n tweede dier gesien wat soos ’n beer lyk. Dit het regop gestaan en het drie ribbebene tussen sy tande in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: “Staan op en verslind baie vleis.” Daarna sien ek nog ’n ander dier wat lyk soos ’n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos ’n voël se vlerke. Hy het ook vier koppe gehad en het die mag ontvang om te regeer. In my visioen daardie nag het ek ook ’n vierde dier gesien. Hy was vreesaanjaend, geweldig groot en buitengewoon sterk. Hy het groot ystertande gehad waarmee hy alles verslind het. Wat daarna oor was, het hy onder sy pote vertrap. Hy was heeltemal anders as die ander diere voor hom en het tien horings gehad. Terwyl ek nog besig was om na die horings te kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom. Drie van die horings wat daar was, is uitgepluk om daarvoor plek te maak. Hierdie horinkie het oë soos dié van ’n mens gehad en ’n mond wat baie aanmatigende dinge gesê het. Terwyl ek staan en kyk, is daar trone neergesit. Hy wat ewig lewe, het daarop gaan sit. Sy klere was wit soos sneeu. Die hare op sy kop was soos suiwer wol. Sy troon het vuurvlamme gehad en wiele van brandende vuur. ’n Rivier van vuur het van Hom af weggevloei. Duisende der duisende het Hom gedien en tienduisende is tot sy diens. Die verhoor het toe begin en die boeke is oopgemaak. Ek het bly kyk, want ek het gehoor hoe die klein horinkie onophoudelik bly spog. Ek het bly kyk totdat die vierde dier doodgemaak is. Sy liggaam is vernietig en hy is oorgegee om met vuur verbrand te word. Die gesag van die ander drie diere is ook van hulle weggevat. Hulle kon nog langer lewe, maar net vir ’n bepaalde tyd. In my visioen daardie nag het ek iemand in die wolke in die lug gesien kom, iemand wat soos ’n mens lyk. Hy het na Hom wat ewig lewe gegaan en is voor Hom gebring. Om te heers, het hy ontvang: gesag, eer en mag. Al die volke, nasies en tale sou hom dien. Sy heerskappy is vir altyd. Dit sal nooit verdwyn nie. Sy koninkryk sal nie ophou nie.

DANIËL 7:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Een nag het Daniël gedroom. Dit was in die eerste jaar nadat Belsassar koning van Babel geword het. Daniël het gedroom hy sien iets en hy het alles geskryf wat hy gesien het. Daniël het geskryf: “Ek het gedroom en ek het iets gesien. Die wind het van al die kante gewaai. Dit het die branders van die groot see baie wild gemaak. Vier groot diere het uit die see gekom. Elke dier het anders gelyk as die ander diere. Die eerste dier het gelyk soos 'n leeu, maar hy het vlerke gehad soos 'n arend se vlerke. Ek het na hom gekyk en ek het gesien iemand trek sy vlerke uit en laat hom op twee bene staan soos 'n mens. Hy kon toe ook dink soos 'n mens. “Die tweede dier het gelyk soos 'n beer wat op sy agterpote staan. Daar was drie ribbe in sy bek. Iemand het vir die beer gesê: ‘Jy moet staan, jy moet baie vleis vreet.’ “Ek het weer gekyk en ek het nog 'n dier gesien. Hy het gelyk soos 'n luiperd, maar daar was vier vlerke op sy rug. Die dier het vier koppe gehad en hy was sterk. “Ek het gesien daar kom 'n vierde dier. Dit was 'n dier wat mense baie bang gemaak het. Die dier was baie sterk. Hy het lang tande van yster gehad en hy het alles gevreet en stukkend gebyt. Hy het met sy pote getrap op die stukke wat oorgebly het. Hy was nie soos die ander drie diere nie. Hy het tien horings gehad. Ek het gewonder wat die horings beteken, en toe kom daar nog 'n horing tussen die ander horings uit. Dit was 'n klein horinkie. Iemand het drie van die ander horings uitgetrek, toe was daar plek vir hierdie klein horinkie. Daar was oë aan hierdie klein horinkie. Dit was oë soos 'n mens se oë, en die horinkie het ook 'n mond gehad. Die mond het baie hoogmoedig gepraat. “Ek het gesien die engele het trone neergesit, en die God wat altyd lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu en sy hare was soos skoon wol. Hy het op vuurvlamme gesit, sy troon het wiele gehad wat brand. Uit die troon het 'n rivier van vuur gevloei. Daar het duisende engele gestaan, baie duisende, hulle moes doen wat God wil hê. God, die Regter, het begin om die mense te oordeel. Die engele het die boeke oopgemaak, die boeke waarin hulle geskryf het wat elke mens gedoen het. “Ek het gesien wat gebeur omdat die horing hoogmoedig gepraat het. Ek het gesien hulle maak die dier dood en hulle verbrand hom. Daar het niks van hom oorgebly nie. Die drie ander diere kon nie aanhou doen wat hulle wil nie, maar hulle kon nog 'n kort tydjie lewe. “Ek het in die nag gedroom en gesien daar kom iemand. Hy was soos 'n mens, en hy het op die wolke gekom. Hy het gekom tot by die God wat altyd lewe. Die engele het hom na God gebring. God het hom 'n koning gemaak wat sterk en belangrik is. Al die mense sal hom dien in al die lande en in al die tale. Hy sal sterk bly en hy sal altyd koning wees.

DANIËL 7:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN die eerste jaar van Bélsasar, die koning van Babel, het Daniël 'n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed. Toe het hy die droom opgeskrywe, die hoofsaak vertel. Daniël het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring; en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander. Die eerste was soos 'n leeu, en hy het vlerke van 'n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos 'n mens op twee voete neergesit is en daaraan 'n mensehart gegee is. En kyk, 'n ander dier, 'n tweede, het gelyk soos 'n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en só het hulle vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis. Daarna het ek gesien, en kyk, daar was 'n ander een soos 'n luiperd, en dit het vier vlerke van 'n voël op sy rug gehad; ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee. Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad. Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en 'n mond wat groot dinge spreek. Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en 'n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan 'n brandende vuur; 'n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen. Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is. Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur. Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van 'n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.

DANIËL 7:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die eerste regeringsjaar van Belsasar, die koning van Babilonië, het Daniël 'n droom gehad; dit was visioene in sy kop, terwyl hy in sy bed was. Hy het daarna die droom neergeskryf. Die hoofsom van die gebeure het hy saamgevat. Daniël het die volgende gesê: “In my visioen in die nag het ek gesien hoe die vier winde van die hemel die groot see in beroering bring. Vier groot diere het uit die see opgekom, elkeen anders as die ander. “ Die eerste was soos 'n leeu met die vlerke van 'n arend. Ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgepluk was, hy van die grond af opgelig is, op twee voete soos 'n mens neergesit is en die hart van 'n mens aan hom gegee is. “ En kyk, 'n ander, 'n tweede dier, het soos 'n beer gelyk, en is langs die eerste dier opgerig. Daar was drie ribbes in sy bek tussen sy tande, en daar is vir hom gesê, ‘Staan op, eet baie vleis!’ “ Daarna het ek gesien: Kyk, daar was 'n ander dier, soos 'n luiperd. Hy het vier vlerke van 'n voël op sy rug gehad. Die dier het vier koppe gehad, en heerskappy is aan hom gegee. “ Daarna het ek in my nagtelike visioene gesien: Kyk, daar was 'n vierde dier, vreesaanjaend, skrikwekkend en buitengewoon sterk, met groot tande van yster. Hy het verslind en vermorsel, en wat oorgebly het, met sy pote vertrap. Hy het verskil van al die diere voor hom, en het tien horings gehad. Terwyl my aandag nog by die horings was, kyk, toe kom daar 'n ander klein horinkie tussen hulle uit, en drie van die vorige horings voor hom is ontwortel. Kyk, in hierdie horing was daar oë soos mense-oë en 'n mond wat grootpraat. “ Ek het gekyk totdat trone opgestel is, en 'n Oue van Dae plaasgeneem het. Sy kleed was wit soos sneeu, die hare van sy hoof soos suiwer wol. Sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan vlammende vuur. 'n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die •boekrolle is oopgemaak. “Ek het daarna nog bly kyk, weens die geraas van die verwaande woorde wat die horing besig was om kwyt te raak; ja, ek het bly kyk totdat die dier gedood is, sy liggaam verwoes is, en hy oorgegee is aan verbranding deur die vuur. Die oorblywende diere se heerskappy is hulle ontneem, en 'n langer lewe is vir hulle gegee, tot 'n tyd en 'n tydsduur verloop het. “Ek het in die nagtelike visioene gesien: “Kyk, met die wolke van die hemel was iemand aan die kom wat soos 'n mensekind was; tot by die Oue van Dae het hy gekom, voor Hom is hy gebring. Aan hom is heerskappy, eer en koningskap gegee – alle volke, nasies en taalgroepe dien hom. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie verby sal gaan nie, en sy koningskap is so dat dit nie vernietig sal word nie.

DANIËL 7:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In die eerste jaar van Bélsasar, die koning van Babel, het Daniël 'n droom gehad en gesigte van sy hoof op sy bed; toe het hy die droom opgeskryf en die som van die sake vertel. Daniël het gespreek en gesê: Ek het snags in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het oor die groot see gestry. En vier groot diere het uit die see opgekom, die een van mekaar verskil. Die eerste was soos 'n leeu en het arendsvlerke gehad: ek het gekyk totdat sy vlerke gepluk is, en dit van die aarde af opgelig en op die voete gestaan het soos 'n mens, en 'n mens se hart is daaraan gegee. En kyk, daar was 'n ander dier, 'n tweede, soos 'n beer, en dit het aan die een kant opgestaan, en dit het drie ribbes in sy bek tussen sy tande gehad; en hulle het so vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis. Hierna het ek gesien, en kyk, nog een, soos 'n luiperd, wat op die rug vier vlerke van 'n voël gehad het; die dier het ook vier koppe gehad; en heerskappy is daaraan gegee. Hierna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en verskriklik en uitermate sterk; en dit het groot ystertande gehad; dit het verteer en verbreek en die oorblyfsel met sy pote gestamp; en dit het tien horings gehad. Ek het die horings in ag geneem, en kyk, daar het 'n ander horinkie tussen hulle opgekom, voor wie daar drie van die eerste horings was wat wortels uitgeruk was; en kyk, in hierdie horing was oë soos die oë van die mens, en 'n mond wat groot dinge praat. Ek het gekyk totdat die trone neergewerp is, en die Oue van dae het gesit, wie se kleed wit was soos sneeu en die hare van sy hoof soos die suiwer wol; sy troon was soos die vurige vlam en sy wiele soos brandende vuur. 'n Vuurstroom het uitgekom en voor hom uit uitgegaan: duisend duisende het hom gedien, en tien duisend maal tien duisend het voor hom gestaan; die oordeel is vasgestel, en die boeke is oopgemaak. Ek het toe gesien vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het: Ek het gesien totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die brandende vlam gegee is. Wat die res van die diere betref, hulle heerskappy is weggeneem, maar hulle lewe is verleng vir 'n tyd en tyd. Ek het in die naggesigte gesien, en kyk, een soos die Seun van die mens het gekom met die wolke van die hemel en na die Oue van dae gekom, en hulle het Hom voor Hom nader gebring. En daar is aan hom heerskappy en heerlikheid en 'n koninkryk gegee, sodat alle volke, nasies en tale Hom sou dien; sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal verbygaan nie, en sy koninkryk wat nie vernietig sal word nie.