Daniël 5:17-30

Daniël 5:17-30 AFR20

Daniël antwoord toe en sê vir die koning: “U geskenke mag u vir uself hou, en u beloning – gee dit aan iemand anders! Ek sal in elk geval die skrif vir die koning lees, en die uitleg aan hom bekend maak. Wat u betref, o koning: Die Allerhoogste God het die koningskap, die grootheid, eer en majesteit gegee aan Nebukadnesar, u vader. Vanweë die grootheid wat God aan hom gegee het, was al die volke, nasies en taalgroepe in vrees en bewing voor hom: Hy het doodgemaak wie hy wou, en laat leef wie hy wou. Hy het verhef wie hy wou, en verneder wie hy wou. Maar toe hy hooghartig geraak het, en sy gees so verhard het dat hy oormoedig geraak het, is hy van sy koninklike troon gestoot en van sy eer gestroop. Hy is verdryf, weg van mense af, en sy hart het soos dié van 'n dier geword. By die wilde donkies was sy woonplek. Hy is gras gevoer, soos vir beeste, en van die dou van die hemel het sy liggaam nat geword – totdat hy erken het dat die Allerhoogste God mag het oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy daaroor aanstel wie Hy wil. “Maar u, sy seun Belsasar, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles geweet het. Teen die Heer van die hemel het u uself verhef. Die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring en u, u maghebbers, u haremvroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink. Die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip, wat nie sien, nie hoor of enigiets weet nie – u het hulle lof besing; maar die God in wie se hand u asem is, en by wie al u paaie is, Hom het u nie geëer nie. Vanuit sy teenwoordigheid is die handpalm toe gestuur en is hierdie skrif geskryf. Dit is dan die skrif wat geskryf is: Mene, mene, tekel ufarsin . Dít is die uitleg van die woorde: Mene – God het die jare van u koningskap getel en dit beëindig. Tekel – u is op die skaal geweeg en te lig bevind. Peres – u koninkryk is verdeel en is aan die Mede en Perse gegee.” Belsasar het toe opdrag gegee, en hulle het Daniël in purperrooi geklee, en 'n goue ketting om sy nek gehang. Hulle het 'n proklamasie uitgevaardig, dat hy die derde magtigste in die koninkryk is. Daardie selfde nag is Belsasar, die koning van die Galdeërs, gedood.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Daniël 5:17-30