DANIËL 5:17-30
DANIËL 5:17-30 Bybel vir almal (ABA)
Toe het Daniël vir die koning gesê: “Koning, jy kan die presente hou of jy kan dit vir iemand anders gee. Maar ek sal lees wat daar geskryf is en ek sal vir jou sê wat dit beteken. “Nebukadnesar was koning voor jou. Jy weet dat die Hoogste God hom 'n groot en belangrike koning gemaak het. Daarom was die mense van al die volke bang vir Nebukadnesar, want hy kon almal doodmaak wat hy wou doodmaak. Hy kon ook almal laat lewe wat hy wou laat lewe. Hy kon mense belangrik maak of hy kon hulle verneder. Maar Nebukadnesar het hoogmoedig geword, en God het besluit hy sal nie meer koning wees en op 'n koning se troon sit nie. Die mense het hom nie meer gerespekteer nie. Hulle het vir Nebukadnesar weggejaag. Hy het soos 'n dier geword en hy het tussen die wildedonkies gaan woon. Hy moes gras eet soos 'n bees en die dou uit die lug het hom natgemaak. Nebukadnesar het daar gebly totdat hy geweet het dat dit God is wat besluit wie koning sal wees. “Maar, Belsassar, jy het koning geword ná Nebukadnesar. Jy het dit alles geweet, maar jy was hoogmoedig. Jy het gedink jy is belangriker as die Here van die hemel. Jy het saam met jou amptenare, jou vroue en jou byvroue wyn gedrink uit die bekers wat Nebukadnesar weggevat het uit die Here se tempel. En toe het julle die gode van silwer, goud, brons, hout en klip geprys. Dit is gode wat nie kan sien en hoor nie, hulle weet niks. Maar jy wou nie vir God eer nie, die God wat vir jou asem gee en wat besluit wat met jou moet gebeur. Dit is hierdie God wat die hand gestuur het om te skryf. “Dit is die woorde wat op die muur geskryf is: ‘Mene, mene, tekel ufarsin.’ Mene beteken: God het gekyk of jy 'n goeie koning is, en Hy het besluit jy sal nie meer koning wees nie. Tekel beteken: God het jou getoets en gesien jy is nie goed om 'n koning te wees nie. Ufarsin beteken: God sal jou land vir ander volke gee, vir die mense van Medië en Persië.” Belsassar het toe gesê hulle moet vir Daniël klere aantrek wat lyk soos 'n koning se klere: pers klere en 'n goue ketting om sy nek. Hulle moet vir almal sê Daniël is nou die derde belangrikste man in die land. Dieselfde nag het mense vir Belsassar, die koning van Babel, vermoor.
DANIËL 5:17-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het Daniël geantwoord en voor die koning gesê: U kan u gawes maar vir uself hou en u geskenke aan 'n ander gee; nogtans sal ek die skrif vir die koning lees en die uitlegging aan hom bekend maak. Wat u betref, o koning, die allerhoogste God het aan u vader Nebukadnésar die koningskap en grootheid en heerlikheid en majesteit gegee. En vanweë die grootheid wat Hy hom gegee het, het al die volke, nasies en tale gebewe en vir hom gesidder; wie hy wou, het hy gedood, en wie hy wou, het hy laat lewe, en wie hy wou, het hy verhoog, en wie hy wou, het hy verneder. Maar net toe sy hart hom verhef het en sy gees verhard is om oormoedig te wees, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, en die heerlikheid is hom ontneem. En hy is uit die mense verstoot, en sy hart het soos dié van die diere geword, en hy het saam met die wilde-esels gewoon; hulle het hom plante laat eet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak totdat hy erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil. Maar u, Bélsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles weet; maar u het u verhef teen die Here van die hemel, en die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring; en u en u maghebbers, u vroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink; en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in wie se hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie. Toe is deur Hom die deel van die hand gestuur en hierdie skrif geskrywe. En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín. Dit is die uitleg van die woord: Mené — God het u koningskap getel en daar 'n einde aan gemaak; tekél — u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; perés — u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee. Toe het Bélsasar bevel gegee, en hulle het Daniël met purper beklee, met 'n goue ketting om sy hals, en aangaande hom openlik uitgeroep dat hy as derde in rang in die koninkryk sou heers. In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood.
DANIËL 5:17-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het Daniël die koning geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke en gee u beloning maar aan iemand anders. Ek sal in elk geval vir u lees wat geskryf is en dit vir u uitlê. “Die allerhoogste God het aan u voorganger Nebukadnesar koningskap en mag, roem en eer gegee. Vanweë hierdie mag wat God hom gegee het, het al die volke, nasies en taalgroepe vir hom gesidder en gebeef. Hy het doodgemaak wie hy wou en hy het laat lewe wie hy wou; hy het verhoog wie hy wou en hy het verneder wie hy wou. Maar toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy uit die koningskap afgesit en het hy sy roem verloor. Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en het soos die wilde diere geword; hy het saam met die wildedonkies gebly en moes gras eet soos beeste; hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak. Hy moes erken dat die allerhoogste God mag het oor die koninkryke op aarde en daaroor aanstel wie Hy wil. Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe. “Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’ En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en 'n einde daaraan gemaak. ‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. ‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.” Daniël is toe op bevel van Belsasar 'n koninklike kleed aangetrek en 'n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk. Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor.
DANIËL 5:17-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daniël antwoord toe en sê vir die koning: “U geskenke mag u vir uself hou, en u beloning – gee dit aan iemand anders! Ek sal in elk geval die skrif vir die koning lees, en die uitleg aan hom bekend maak. Wat u betref, o koning: Die Allerhoogste God het die koningskap, die grootheid, eer en majesteit gegee aan Nebukadnesar, u vader. Vanweë die grootheid wat God aan hom gegee het, was al die volke, nasies en taalgroepe in vrees en bewing voor hom: Hy het doodgemaak wie hy wou, en laat leef wie hy wou. Hy het verhef wie hy wou, en verneder wie hy wou. Maar toe hy hooghartig geraak het, en sy gees so verhard het dat hy oormoedig geraak het, is hy van sy koninklike troon gestoot en van sy eer gestroop. Hy is verdryf, weg van mense af, en sy hart het soos dié van 'n dier geword. By die wilde donkies was sy woonplek. Hy is gras gevoer, soos vir beeste, en van die dou van die hemel het sy liggaam nat geword – totdat hy erken het dat die Allerhoogste God mag het oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy daaroor aanstel wie Hy wil. “Maar u, sy seun Belsasar, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles geweet het. Teen die Heer van die hemel het u uself verhef. Die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring en u, u maghebbers, u haremvroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink. Die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip, wat nie sien, nie hoor of enigiets weet nie – u het hulle lof besing; maar die God in wie se hand u asem is, en by wie al u paaie is, Hom het u nie geëer nie. Vanuit sy teenwoordigheid is die handpalm toe gestuur en is hierdie skrif geskryf. Dit is dan die skrif wat geskryf is: Mene, mene, tekel ufarsin . Dít is die uitleg van die woorde: Mene – God het die jare van u koningskap getel en dit beëindig. Tekel – u is op die skaal geweeg en te lig bevind. Peres – u koninkryk is verdeel en is aan die Mede en Perse gegee.” Belsasar het toe opdrag gegee, en hulle het Daniël in purperrooi geklee, en 'n goue ketting om sy nek gehang. Hulle het 'n proklamasie uitgevaardig, dat hy die derde magtigste in die koninkryk is. Daardie selfde nag is Belsasar, die koning van die Galdeërs, gedood.
DANIËL 5:17-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe antwoord Daniël en sê voor die koning: Laat jou geskenke vir jouself wees, en gee jou belonings aan 'n ander; maar ek sal die geskrif aan die koning voorlees en die uitlegging aan hom bekend maak. O koning, die Allerhoogste God het aan U vader Nebukadnésar 'n koninkryk en majesteit en heerlikheid en eer gegee. En oor die majesteit wat Hy aan hom gegee het, het alle volke, nasies en tale voor Hom gebewe en gevrees; en wie hy wou, het hy in die lewe gehou; en wie hy wou oprig; en wie hy wou neerlê. Maar toe sy hart verhef en sy verstand verhard was in trots, is hy van sy koninklike troon afgesit, en hulle het sy eer van hom weggeneem. En hy is uit die mensekinders verdryf; en sy hart het geword soos die diere, en sy woning was by die wilde-esels; totdat hy geweet het dat die Allerhoogste God in die koninkryk van die mense heers, en dat Hy daaroor aanstel wie Hy wil. En jy, sy seun, o Bélsasar, het jou hart nie verneder nie, al het jy dit alles geweet; Maar jy het jou verhef teen die HERE van die hemel; en hulle het die voorwerpe van sy huis voor jou gebring, en jy en jou vorste, jou vroue en jou byvroue het wyn daarin gedrink; en jy het die gode van silwer en goud, van koper, yster, hout en klip geprys wat nie sien, nie hoor of weet nie; en die God in wie se hand jou asem is en wie s'n al jou weë is, het U nie verheerlik nie: Toe is die deel van die hand van hom gestuur; en hierdie skrif is geskryf. En dit is die skrif wat geskrywe is: MENE, MENE, TEKEL, UPHARSIN. Dit is die uitlegging van die saak: MENE; God het u koninkryk getel en dit voltooi. TEKEL; U is op die weegskaal geweeg, en te min bevind. PERES; U koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee. Toe het Bélsasar bevel gegee, en hulle het Daniël met skarlaken beklee en 'n goue ketting om sy nek gesit en aangaande hom uitgeroep dat hy die derde owerste in die koninkryk sou wees. In daardie nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, dood gemaak.
DANIËL 5:17-30 Die Boodskap (DB)
Daniël het geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke vir uself of gee dit vir iemand anders. Ek sal in elk geval vir U Majesteit lees wat daar geskryf staan en wat dit beteken. Die allerhoogste God het u vader, Nebukadnesar, ’n magtige en beroemde koning gemaak en aan hom groot eer gegee. Hy was so magtig dat mense van alle volke, nasies en taalgroepe met vrees en bewing van hom gepraat het. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat leef wie hy wou. Net so het hy ook besluit wie hy wou eer en wie hy wou verneder. Ongelukkig het hy toe te vol van homself geword. Daarom is hy van sy troon afgesit en het hy al sy eer verloor. Die menslike samelewing het hom verwerp en hy het soos ’n dier geword. Hy het saam met die wildedonkies gebly en gras geëet soos ’n bees. Hy het in die oop veld geslaap sonder enige beskerming teen die dou, totdat hy besef het dat die allerhoogste God in beheer is van al die koninkryke van die wêreld en dat Hy besluit wie regeer. “Ten spyte daarvan dat u al hierdie dinge geweet het, Belsasar, het u ook te veel van uself gedink. Trouens, u het die Here van die hemel uitgedaag deur u sondes. U het die goue en silwerbekers uit sy tempel as wynbekers gebruik vir u en u hooggeplaastes en u vroue en byvroue. Verder het u nog heildronke daaruit gedrink op al u afgode van silwer, goud, brons, yster, hout en klip, gode wat nie kan sien, hoor of selfs vir hulleself kan dink nie. Maar aan die God wat u laat lewe en wat oor u lewe en u toekoms beskik, het u geen eer gegee nie! Daarom het Hy die hand gestuur om hierdie woorde te kom skryf. Daar staan geskryf: Getel, getel, geweeg, verdeel. Dit is wat dit beteken: Getel beteken dat God u regeringstyd se dae getel het en nou ’n einde daaraan gaan maak. Geweeg sê dat u op God se skaal geweeg is en te lig bevind is omdat u nie doen wat Hy sê nie. Verdeel beteken dat u koninkryk tussen die Mediërs en die Perse verdeel gaan word.” Op Belsasar se bevel het hulle vir Daniël ’n koninklike kleed omgehang en ook ’n goue ketting om sy nek gesit. Hy het ook laat aankondig dat Daniël nou derde in bevel in die koninkryk was. Daardie selfde nag nog is Belsasar, die koning van die Babiloniërs, vermoor.
DANIËL 5:17-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daniël antwoord die koning: “U kan maar die geskenke vir uself hou of die beloning maar vir iemand anders gee. Ek sal nogtans vir die koning lees wat daar geskryf staan en vir u sê wat dit beteken. U Majesteit, God die Allerhoogste het die koninkryk met sy grootsheid, eer en aansien vir u voorganger Nebukadnesar gegee. Hy het hom so groot gemaak dat volke, nasies en tale vir hom bang was. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat lewe wie hy wou. Hy het aangestel wie hy wou en verneder soos hy lus gekry het. Toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy van sy troon afgesit en sy eer is van hom weggeneem. Hy is van die mense af weggejaag en het soos ’n dier geword. Hy het tussen die wilde donkies gebly en gras geëet soos ’n bees. Die dou van die lug het op hom geval, totdat hy erken het dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die wêreld en daaroor aanstel wie Hy wil. “Belsasar, u is sy opvolger. Alhoewel u dit alles geweet het, was u nogtans nie nederig nie. U het u teenoor die HEER van die hemele aangestel. U het die bekers uit sy huis laat kom en saam met u amptenare, vroue en byvroue daaruit wyn gedrink. U het heildronke ingestel op afgode wat van silwer, goud, brons, yster, hout en klip gemaak is, wat nie eers kan sien of hoor of enigiets weet nie. U het hulle aanbid en nie die God wat u lewe in sy hand hou en die rigting van u lewe bepaal, vereer nie. Daarom het Hy hierdie hand gestuur om dié boodskap te skryf. “Daar staan geskryf: ‘Mene, mene, tekel, ufarsin.’ Dit beteken: “‘Mene’ – God het die aantal dae van u koninkryk afgetel en bring dit nou tot ’n einde. “‘Tekel’ – u is op die skaal geweeg en te lig gevind. “‘Peres’ – u koninkryk word verdeel en vir die Mede en Perse gegee.” Belsasar het toe opdrag gegee en daar is vir Daniël die pers klere van ’n koning aangetrek, ’n goue ketting is om sy nek gehang en ’n dekreet is uitgevaardig dat hy derde in rang in die koninkryk sal wees. Daardie selfde nag nog is Belsasar, die koning van die Babiloniërs, doodgemaak.