Daniël 2:36-49

Daniël 2:36-49 AFR20

Dit was die droom, en oor die uitleg daarvan sal ons nou voor die koning praat. U, o koning, is die koning van die konings aan wie die God van die hemel die koningskap, die mag, die krag en eer gegee het. Ja, waar ook al mense, die diere van die veld en die voëls van die hemel woon, het Hy hulle in u hand gegee. Hy het u as heerser oor hulle almal aangestel. U is die kop van goud. Ná u sal 'n ander koninkryk tot stand kom, geringer as u s'n, dan 'n ander, derde koninkryk van koper, wat oor die hele aarde sal heers. Die vierde koninkryk sal so sterk soos yster wees. Omdat yster alles verpletter en vermorsel, sal hierdie koninkryk, soos yster wat vergruis, al daardie ander verpletter en vergruis. Dat u gesien het dat die voete en tone deels van pottebakkersklei en deels van yster is, dui op 'n verdeelde koninkryk. Van die bestendigheid van die yster sal daarin wees, want u het die yster gemeng met die klam klei gesien. En die tone van die voete wat deels van yster en deels van klei is – 'n deel van die koninkryk sal sterk wees, en 'n deel daarvan sal breekbaar wees. Dat u die yster gemeng met die klam klei gesien het, dui daarop dat die mense deur ondertrouery vermeng sal raak. Hulle sal egter nie vanself aan mekaar vaskleef nie, net soos yster nie met klei meng nie. In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan 'n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot 'n einde bring, en dit sal standhou vir ewig. U het daarom gesien dat 'n klip uit die berg vanself losbreek, nie deur die toedoen van mensehande nie, en dat dit die yster, koper, klei, silwer en goud verpletter. 'n Groot God het aan die koning bekend gemaak wat hierna gaan gebeur. Die droom is waar en die uitleg daarvan is betroubaar.” Daarop het koning Nebukadnesar neergeval met sy gesig teen die grond en aan Daniël eer betoon. Hy het opdrag gegee dat 'n •graanoffer en offers met 'n aangename geur aan hom gebring moet word. Die koning het in sy reaksie vir Daniël gesê: “Sowaar, julle God, Hy is die God van die gode en die Heer van die konings en die een wat geheime openbaar, want jy kon hierdie geheim openbaar.” Die koning het Daniël toe in 'n hoë pos aangestel en aan hom baie groot geskenke gegee. Hy het hom as heerser aangestel oor die hele provinsie Babel, en as landvoog bo al die wyses van Babilonië. Daniël het 'n versoek tot die koning gerig, en dié het toe vir Sadrag, Mesag en Abednego aangestel oor die administrasie van die provinsie Babel. Daniël het egter in die koninklike hof aangebly.