DANIËL 2:36-49
DANIËL 2:36-49 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit is die droom, en nou sal ek dit vir u uitlê. “U is die groot koning; die God van die hemel het aan u die heerskappy, die krag en die mag en die eer gegee. Hy het die hele bewoonde wêreld, die mense, die wilde diere en die voëls in u mag gegee en u die heerser oor hulle almal gemaak. U is die kop van goud. Ná u sal 'n ander koninkryk na vore kom wat nie so belangrik as dié van u sal wees nie, en daarna 'n derde, die een van brons wat oor die hele wêreld heerskappy sal voer. Die vierde koninkryk sal so sterk wees soos yster. Yster vergruis alles en stamp dit fyn. Soos yster wat alles vergruis, so sal dié koninkryk die ander fyn stamp en vergruis. Die voete en tone, deels klei en deels yster, wat u gesien het, wys op 'n koninkryk wat verdeeld sal wees. Dit sal iets van die sterkte van yster hê, want soos u gesien het, is daar yster tussen die klei. Die tone en voete, deels van yster en deels van klei, wys dat die koninkryk deels sterk, deels swak sal wees. Dat u gesien het dat die yster met klei gemeng is: daar sal ondertrouery tussen die mense wees, maar hulle sal nie 'n eenheid word nie, net soos yster nie met klei meng nie. In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur 'n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan. En dat u 'n klip uit 'n rots sien losbreek het sonder dat 'n hand daaraan geraak het en dit die yster, die brons, die klei, die silwer en die goud verpletter het: God wat magtig is, het aan u bekend gemaak wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en oor die uitleg is daar geen twyfel nie.” Toe het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig, aan hom eer betoon en opdrag gegee dat daar 'n graanoffer en 'n wierookoffer aan hom geoffer moet word. Die koning het vir Daniël gesê: “Werklik, julle God is die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie geheim bekend maak.” Die koning het hoë eer aan Daniël betoon, vir hom baie en groot geskenke gegee en hom aangestel as goewerneur van die hele provinsie Babel en as hoof van al die koninklike raadgewers. Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Maar Daniël self het in die paleis gebly.
DANIËL 2:36-49 Die Boodskap (DB)
“Dit was u droom. Nou sal ek vir u verduidelik wat dit beteken. U Majesteit, u is die grootste van al die konings. Die God van die hemel het u die sterkste op aarde gemaak. Hy het vir u mag, gesag en eer gegee. Hy het u die heerser oor die hele aarde gemaak. U beheer selfs die diere en die voëls. U is die kop van goud. Ná u koninkryk sal daar ’n ander koninkryk kom wat u plek sal inneem. Maar dit sal nie so sterk soos u s’n wees nie. Na die val van hierdie koninkryk sal daar ’n derde koninkryk kom. Dit is die bronsgedeelte van die beeld in u droom. Hierdie koninkryk sal groot en sterk word en oor die hele wêreld regeer. Dan sal daar ’n vierde koninkryk ontstaan wat so sterk soos yster sal wees, wat alles breek en vernietig. So sal hierdie koninkryk al die vorige koninkryke breek en vernietig. Maar u het gesien dat die voete en tone van die beeld in u droom gedeeltelik van klei en gedeeltelik van yster was. Dit beteken dat hierdie koninkryk ook in homself verdeeld sal wees. Sommige dele sal so sterk soos yster wees en ander weer so swak soos klei, soos dit maar in so ’n mengsel gebeur. U het ook gesien dat die yster en die klei gemeng was. Dit beteken dat die regeerders van hierdie koninkryk hulle koninkryk sal probeer verenig deur met mekaar te ondertrou. Dit sal nie werk nie, net so min as wat yster en klei kan meng. Tydens hierdie konings se regering sal die God van die hemel ’n koninkryk laat ontstaan wat nooit vernietig sal word nie. Niemand sal hierdie koninkryk kan oorwin nie, maar dit sal al die ander koninkryke vernietig totdat dit alleen oorbly vir altyd. Dit is die betekenis van die rots wat op ’n bonatuurlike wyse van die berg losgekom en die beeld van yster, brons, klei, silwer en goud totaal verwoes het. Die magtige God het vir u kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en my verduideliking hiervan is ook die waarheid.” Hierna het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig en hom met groot respek behandel. Die koning het ook beveel dat daar ’n graan- en ’n wierookoffer vir hom gebring moes word. Toe sê die koning vir Daniël: “Jou God is die grootste van al die gode, Hy regeer oor al die konings en Hy maak geheime bekend. Ek sê dit omdat Hy hierdie geheim aan jou bekendgemaak het.” Die koning het Daniël vereer en hom met duur en mooi geskenke oorlaai. Hy het hom aangestel as regeerder oor die hele provinsie Babel en hom ook hoof gemaak van al die koning se raadgewers. Op Daniël se versoek is Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Daniël self het in die paleis gebly.
DANIËL 2:36-49 Bybel vir almal (ABA)
Koning, dit is wat jy gedroom het, en ons sal nou vir jou sê wat die droom beteken. “Koning, jy is die kop van goud. Jy is 'n koning van ander konings. Die God van die hemel het vir jou koning gemaak en jy het baie sterk en belangrik geword. Hy het gesê jy kan regeer oor die mense, die diere en die voëls op die hele aarde. Ná jou sal daar ander konings kom wat nie so belangrik soos jy sal wees nie. Hulle is soos die silwer. Dan sal daar nog ander konings kom wat oor die hele aarde sal regeer. Hulle is soos die brons. Die konings wat daarna sal kom, sal so hard soos yster wees, want yster maak alles stukkend en fyn. Jy het voete en tone gesien van klei en yster. Dit beteken daardie konings sal regeer oor mense wat nie met mekaar saamwerk nie, hulle sal partymaal sterk wees en partymaal swak. Jy het gesien die yster en klei is bymekaar. Dit beteken die mense van een volk sal met mense van 'n ander volk trou, maar hulle sal nie een volk word nie, want 'n mens kan nie yster en klei meng nie. “In die tyd wanneer daardie konings sal regeer, sal die God van die hemel self kom en Hy sal koning wees. Hy sal altyd regeer, en niemand sal ná Hom regeer nie. Hy sal al die konings oorwin, en hulle sal nie meer regeer nie. Hy self sal altyd regeer. Jy het ook gesien daar breek 'n stuk klip af van 'n groot klip en dit breek die yster en maak dit fyn. Jy het gesien die klip breek ook die brons, die klei, die silwer en die goud, en dit was nie 'n mens wat die klip afgebreek het nie. Koning, die Groot God wys nou vir jou wat later sal gebeur. Dit is wat jy gedroom het, en dit is wat die droom beteken, en dit is waar.” Toe het koning Nebukadnesar voor Daniël gebuig soos 'n mens voor 'n god buig. Die koning het gesê hulle moet vir Daniël 'n koring-offer en wierook-offers bring. Die koning het vir Daniël gesê: “Regtig, jou God is sterker as al die gode en al die konings. Hy het vir jou dinge gesê wat niemand anders weet nie, en daarom kon jy vir my sê wat ek gedroom het.” Die koning het toe vir Daniël 'n baie belangrike man gemaak en hy het vir Daniël baie presente gegee. Hy het gesê Daniël moet oor die hele land Babel regeer en hy moet die hoof wees van al die wyse mense in Babel. Daniël het gevra die koning moet vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego kies om te help regeer oor Babel. Die koning het dit gedoen. Daniël het by die koning gebly.
DANIËL 2:36-49 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê: U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het — ú is die hoof van goud. En ná u sal daar 'n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna 'n ander, 'n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis. En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was — dit sal 'n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is — 'n gedeelte van die koninkryk sal hard en 'n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het — hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie. Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan — net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande 'n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar. Toe het koning Nebukadnésar op sy aangesig geval en Daniël aanbid en bevel gegee om aan hom 'n spysoffer en reukoffers te bring. Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar. Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel. En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.
DANIËL 2:36-49 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit was die droom, en oor die uitleg daarvan sal ons nou voor die koning praat. U, o koning, is die koning van die konings aan wie die God van die hemel die koningskap, die mag, die krag en eer gegee het. Ja, waar ook al mense, die diere van die veld en die voëls van die hemel woon, het Hy hulle in u hand gegee. Hy het u as heerser oor hulle almal aangestel. U is die kop van goud. Ná u sal 'n ander koninkryk tot stand kom, geringer as u s'n, dan 'n ander, derde koninkryk van koper, wat oor die hele aarde sal heers. Die vierde koninkryk sal so sterk soos yster wees. Omdat yster alles verpletter en vermorsel, sal hierdie koninkryk, soos yster wat vergruis, al daardie ander verpletter en vergruis. Dat u gesien het dat die voete en tone deels van pottebakkersklei en deels van yster is, dui op 'n verdeelde koninkryk. Van die bestendigheid van die yster sal daarin wees, want u het die yster gemeng met die klam klei gesien. En die tone van die voete wat deels van yster en deels van klei is – 'n deel van die koninkryk sal sterk wees, en 'n deel daarvan sal breekbaar wees. Dat u die yster gemeng met die klam klei gesien het, dui daarop dat die mense deur ondertrouery vermeng sal raak. Hulle sal egter nie vanself aan mekaar vaskleef nie, net soos yster nie met klei meng nie. In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan 'n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot 'n einde bring, en dit sal standhou vir ewig. U het daarom gesien dat 'n klip uit die berg vanself losbreek, nie deur die toedoen van mensehande nie, en dat dit die yster, koper, klei, silwer en goud verpletter. 'n Groot God het aan die koning bekend gemaak wat hierna gaan gebeur. Die droom is waar en die uitleg daarvan is betroubaar.” Daarop het koning Nebukadnesar neergeval met sy gesig teen die grond en aan Daniël eer betoon. Hy het opdrag gegee dat 'n •graanoffer en offers met 'n aangename geur aan hom gebring moet word. Die koning het in sy reaksie vir Daniël gesê: “Sowaar, julle God, Hy is die God van die gode en die Heer van die konings en die een wat geheime openbaar, want jy kon hierdie geheim openbaar.” Die koning het Daniël toe in 'n hoë pos aangestel en aan hom baie groot geskenke gegee. Hy het hom as heerser aangestel oor die hele provinsie Babel, en as landvoog bo al die wyses van Babilonië. Daniël het 'n versoek tot die koning gerig, en dié het toe vir Sadrag, Mesag en Abednego aangestel oor die administrasie van die provinsie Babel. Daniël het egter in die koninklike hof aangebly.
DANIËL 2:36-49 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dit is die droom; en ons sal die uitlegging daarvan voor die koning vertel. U, o koning, is 'n koning van die konings, want die God van die hemel het aan u 'n koninkryk gegee, krag en sterkte en heerlikheid. En oral waar die mensekinders woon, die diere van die veld en die voëls van die hemel het Hy in jou hand gegee en jou as heerser oor almal aangestel. Jy is hierdie kop van goud. En ná jou sal 'n ander koninkryk opstaan, minderwaardig aan jou, en 'n ander derde koninkryk van koper, wat oor die hele aarde sal heers. En die vierde koninkryk sal sterk wees soos yster, omdat yster stukkend breek en alles bedwing; en soos yster wat dit alles breek, sal dit stukkend breek en vermorsel. En terwyl jy die voete en die tone gesien het, 'n gedeelte van pottebakkersklei en 'n gedeelte van yster, sal die koninkryk verdeel word; maar daar sal daarin wees van die sterkte van die yster, omdat jy die yster gemeng met modderige klei gesien het. En soos die tone van die voete deels van yster en deels van klei was, so sal die koninkryk deels sterk en deels gebreek wees. En terwyl jy yster gemeng met klei klei gesien het, sal hulle hulleself vermeng met die saad van mense; maar hulle sal nie aan mekaar kleef nie, net soos yster nie met klei gemeng is nie. En in die dae van hierdie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie; en die koninkryk sal nie aan ander mense oorgelaat word nie, maar dit sal stukkend breek en al hierdie koninkryke verteer, en dit sal bestaan vir ewig. Omdat jy gesien het dat die klip sonder hande uit die berg uitgekap is en die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud stukkend gebreek het; die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur, en die droom is gewis en die uitlegging daarvan seker. Toe het koning Nebukadnésar op sy aangesig geval en Daniël aanbid en bevel gegee dat hulle 'n spysoffer en lieflike geure aan hom moes bring. Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Dit is waar dat jou God 'n God van gode is en 'n HERE van konings en 'n openbaarder van geheime, aangesien jy hierdie geheim kon openbaar. Toe het die koning Daniël 'n groot man gemaak en hom baie groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en owerste van die goewerneurs oor al die wyse manne van Babel. Toe het Daniël die koning versoek, en hy het Sadrag, Mesag en Abednego aangestel oor die sake van die provinsie Babel; maar Daniël het in die poort van die koning gesit.
DANIËL 2:36-49 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Dit is wat u gedroom het. Ek sal nou vir die koning sê wat dit alles beteken. U Majesteit, u is die koning van die konings. Die God van die hemel het vir u ’n koninkryk van mag en sterkte en aansien gegee. Hy laat u regeer oor die hele mensdom, die diere in die veld en die voëls in die lug. Hy laat u oor dit alles regeer. U is daardie kop van goud. “Ná u kom daar ’n koninkryk op aarde wat nie so groot soos u koninkryk is nie. Daarna kom ’n derde koninkryk van brons om oor die wêreld te regeer. Daarna sal daar ’n vierde koninkryk kom wat so sterk is soos yster. Soos yster alles verpletter, so sal dit al die ander koninkryke vernietig. Die voete wat van yster en klei gemaak is, wys op ’n koninkryk wat verdeeld is. Soos u yster daarin gesien het, sal dit iets van die sterkte van yster hê. Soos die tone en voete deels van yster en deels van klei is, sal hierdie koninkryk deels sterk en deels swak wees. Soos dit ’n mengsel is van yster en klei, sal dit deur ondertrouery alliansies met ander sluit. Maar dit sal nie hou nie, soos yster en klei nie kan meng nie. “In die tyd van daardie koninkryke sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit tot niet sal gaan nie. Dit sal nooit in die hande van ander mense kom nie. Dit sal ’n einde bring aan al die ander koninkryke en self vir altyd bly bestaan. Dit is wat die rots beteken wat u gesien het wat, sonder dat ’n mens dit doen, uit die berg losgebreek het en die koninkryke van yster, brons, klei, silwer en goud vernietig het. Die groot God het vir die koning gewys wat hierna sal gebeur. Die droom staan vas en sy uitleg gaan net so gebeur.” Koning Nebukadnesar het toe diep voor Daniël gebuig en aan hom eer bewys. Hy het opdrag gegee om offers vir Daniël te bring en wierook vir hom te brand. Die koning het vir Daniël gesê: “Sowaar, jou God is die God van alle gode en die Heer van alle konings. Hy openbaar geheime, want jy kon die geheim vir my verklaar.” Die koning het toe vir Daniël bevorder en vir hom baie geskenke gegee. Hy het Daniël as regeerder oor die provinsie van Babel aangestel en as leier van al sy raadgewers in Babel. Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie van Babel. Daniël self het in die poorte van die paleis aangebly.