“ ‘ Wat my betref, in die eerste regeringsjaar van Darius, die Meder, het ek vasgestaan as 'n ondersteuner, as 'n vesting vir hom. En nou deel ek jou die waarheid mee: Kyk, nog drie konings gaan opstaan vir Persië. Die vierde sal groter rykdom byeenbring as al die ander. En wanneer hy deur sy rykdom sterk word, sal hy almal aanhits teen die koninkryk van Jawan. Dan sal 'n heldhaftige koning opstaan. Hy sal met baie mag heers en doen wat hy wil. Maar hy sal pas 'n staanplek hê, dan sal sy koninkryk opgebreek en verdeel word in die vier windstreke van die hemel. Dit sal nie aan sy nakomelinge behoort nie, en dit sal nie wees soos die magsgebied waaroor hy geheers het nie, want sy koninkryk sal opgebreek word en, met uitsluiting van sy nageslag, aan ander behoort.
“ ‘Die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy •aanvoerders sal die oorhand oor hom kry en dan heers. Sy heerskappy sal 'n heerskappy met baie mag wees. Ná verloop van jare sal hulle 'n bondgenootskap sluit, en die koning van die Suide se dogter sal na die koning van die Noorde kom om die ooreenkoms te bekragtig. Maar sy sal nie die militêre mag behou nie. Die koning van die Suide se mag sal ook nie standhou nie. Sy sal in dié tyd oorgelewer word – sy en haar gevolg, sowel as hy wat haar verwek het, en hy wat haar ondersteun het. Dan sal een van die spruite uit haar wortels in sy plek opstaan. Hy sal teen die leër optrek en die vesting van die koning van die Noorde binnedring; hy sal teen hulle optree en hulle oorweldig. Ook hulle gode met hulle gegote beelde en hulle kosbare voorwerpe – silwer en goud – sal hy wegvoer na Egipte; en jare lank sal hy die koning van die Noorde met rus laat. Dié sal dan die koninkryk van die koning van die Suide binneval, maar hy sal na sy land terugkeer.
“ ‘Sy seuns sal vir oorlog gereedmaak en 'n menigte groot leërs byeenbring. Dié menigte sal die land binneval; hulle sal binneval, instroom en oorstroom, dan terugval, en daarna deurdring tot by sy vesting. Die koning van die Suide sal briesend kwaad wees. Hy sal uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg. Dié sal weer 'n groot menigte op die been bring, maar die menigte sal in sy teenstander se hand oorgegee word. Wanneer die menigte uit die weg geruim is, sal die koning van die Suide verwaand raak en tienduisende neerwerp, maar nie sterk bly nie.
“ ‘Dan sal die koning van die Noorde terugkeer en 'n menigte op die been bring, meer as die eerste keer. Ná verloop van tyd, ná jare, sal hy beslis kom met 'n groot leër en met baie toerusting. In daardie tydperke sal baie in opstand kom teen die koning van die Suide. Die gewelddadiges van jou volk sal hulle laat geld om 'n visioen te verwerklik, maar hulle sal tot 'n val kom. Die koning van die Noorde sal kom, 'n beleëringswal ophoop en 'n versterkte stad inneem. Die magte van die Suide sal nie standhou nie, ook nie die keurtroepe nie, en daar sal geen krag meer wees om weerstand te bied nie. Hy wat teen die Suide optrek, sal doen net wat hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie. Hy sal hom vestig in die land van die Sieraad en volslae vernietiging sal in sy hand wees. Hy sal hom voorberei om met die volle mag van sy koninkryk te kom, maar sal tog 'n ooreenkoms aangaan en 'n dogter van een van sy vroue aan die koning van die Suide gee om die koninkryk te vernietig. Maar dit sal nie slaag nie, en dit sal nie tot sy voordeel strek nie. Dan sal hy sy aandag vestig op die eilande en baie daarvan inneem, maar 'n •aanvoerder sal sy onbeskaamdheid vir hom tot 'n einde bring; sy onbeskaamdheid sal hy hom vergeld. Daarna sal die koning van die Noorde draai teen die vestings in sy eie land, maar hy sal tot 'n val kom. Hy sal val en nie meer gevind word nie.
“ ‘ In sy plek sal iemand opstaan wat 'n belastinggaarder rondstuur om die koninklike weelde in stand te hou; maar binne enkele dae sal hy verpletter word, egter nie deur toorn of deur oorlog nie.
“ ‘ Dan sal 'n veragtelike persoon in sy plek opstaan aan wie die mense geen koninklike waardigheid toegeken het nie. Hy sal onverhoeds kom en op 'n slinkse wyse die koningskap oorneem. Die instromende magte sal voor hom weggespoel en verpletter word, selfs die leier van die verbond. Nadat 'n bondgenootskap met hom aangegaan is, sal hy bedrog pleeg; so sal hy met min mense opgang maak en sterk word. Hy sal onverwags in die ryk dele van 'n provinsie ingaan en doen wat sy vaders en grootvaders nie gedoen het nie: Buit, geroofde goed en besittings sal hy vir hulle uitdeel. Teen versterkte stede sal hy sy planne beraam, maar net vir 'n tyd lank.
“ ‘Hy sal krag en moed bymekaarskraap om met 'n groot leër teen die koning van die Suide op te trek. Die koning van die Suide sal gereedmaak vir die geveg met 'n groot en besonder sterk leër; maar hy sal nie staande bly nie, want hulle sal planne teen hom beraam. Hulle wat van sy kos eet, sal hom breek; sy leër sal oorweldig word, en baie gewondes sal val. En die twee konings, hulle albei, sal kwaad beplan in hulle harte, en terwyl hulle aan dieselfde tafel is, mekaar belieg. Maar dit sal nie slaag nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees. Die koning van die Noorde sal terugkeer na sy land met baie besittings, maar sy hart sal teen die heilige verbond gerig wees. So sal hy optree en terugkeer na sy land.
“ ‘ Op die vasgestelde tyd sal hy weer na die Suide gaan, maar dit sal die tweede keer nie wees soos die eerste keer nie. Skepe van die Kittiërs sal teen hom opruk, en hy sal bang word. Hy sal omdraai en 'n vervloeking uitspreek teen die heilige verbond, en dienooreenkomstig optree. Hy sal terugkeer en aandag gee aan hulle wat die heilige verbond versaak het.