DANIËL 11:1-30

DANIËL 11:1-30 Bybel vir almal (ABA)

“In die eerste jaar nadat die Mediër Darius koning geword het, was dit my werk om hom te help en te beskerm. Wat ek nou vir jou sal sê, sal gebeur. Nog drie konings sal oor Persië regeer. Die laaste koning sal ryker wees as al die ander konings. En omdat hy ryk is, sal hy sterk wees en hy sal almal gebruik om oorlog te maak teen die koning van die Grieke. Maar daar sal 'n koning kom wat 'n goeie soldaat is. Hy sal regeer oor baie mense en hy sal doen wat hy wil. Hy sal nie lank regeer nie, dan sal daar vier konings kom, een koning in die ooste, een in die suide, een in die weste en een in die noorde. Hierdie konings sal nie sy seuns wees nie en hulle sal nie so sterk wees soos hy nie.” “Die koning van die suide sal sterk word, maar een van sy amptenare sal nóg sterker word en hy sal oor baie mense regeer. Hy sal die koning van die noorde word. Later sal hierdie twee konings 'n ooreenkoms maak. 'n Dogter van die koning van die suide sal trou met die koning van die noorde om te wys dat die twee konings 'n ooreenkoms gemaak het. Maar dit sal niks help vir die koning van die suide nie. Die dogter en die mense wat met haar saamgaan, sal sterf, en ook haar pa en haar man met wie sy daardie tyd getrou het. Een van die seuns van die koning van die suide sal koning word ná sy pa. Hy sal oorlog maak teen die nuwe koning van die noorde en hy sal kom in die stad wat sterk mure het. Hy sal met die mense doen wat hy wil. Hy sal die beelde van hulle afgode wegvat na Egipte en ook al hulle mooi goed van silwer en goud. Hy sal 'n lang tyd nie weer oorlog maak teen die koning van die noorde nie. Die koning van die noorde sal kom tot in die koning van die suide se land, maar hy sal weer teruggaan na sy eie land. “Dan sal die seuns van die koning van die noorde baie soldate bymekaarmaak. Die koning van die noorde en sy soldate sal kom soos 'n watervloed wat oor alles vloei. Hy sal gereedmaak en hy sal die koning van die suide aanval in die stad wat sterk mure het. Die koning van die suide sal baie kwaad word. Hy sal oorlog maak teen die koning van die noorde en hy sal die baie soldate oorwin. En wanneer hy gewen het, sal hy hoogmoedig word. Hy sal tienduisende mense doodmaak. Maar hy sal nie sterk bly nie. Die koning van die noorde sal teruggaan en hy sal nog meer soldate bymekaarmaak. Ná 'n lang tyd sal hy kom en hy sal baie soldate en baie wapens saambring. “In daardie tyd sal baie mense nie meer die koning van die suide wil dien nie. Daniël, party mense van jou volk sal hom ook nie meer wil dien nie. Hulle sal dink hulle moet oorlog maak om vry te word. Maar die koning sal hulle laat doodmaak. “Die koning van die noorde sal kom en hy sal 'n hoop grond gooi teen die sterk mure om die stad van die koning van die suide. Dan sal sy soldate oor die mure klim en hulle sal in die stad kom. Die koning van die suide en al sy sterk soldate sal nie die koning van die noorde kan keer nie. Die koning van die noorde sal doen wat hy wil. Niemand sal hom keer nie. Hy sal ook die pragtige land vir homself vat en hy sal dit verwoes. Dan sal hy probeer om 'n ooreenkoms te maak met die koning van die suide sodat hy daardie koning se land vir hom kan vat. Die koning van die noorde sal vir die koning van die suide 'n vrou gee sodat sy plan kan slaag. Maar die plan sal nie slaag nie. “Daarna sal die hoogmoedige koning van die noorde oorlog maak teen die mense wat naby die see woon, en hy sal baie mense oorwin. Maar 'n ander leier sal oorlog maak teen die hoogmoedige koning en hy sal die hoogmoedige koning wen en hom verneder. Dan sal die leier teruggaan na sy eie land, na die stede wat sterk mure het. Maar iemand anders sal hom in 'n oorlog wen, en hy sal verdwyn. Ná hom sal 'n ander koning kom. Daardie koning sal iemand stuur om belasting by die ryk mense te vat. Iemand sal die koning doodmaak, maar nie in 'n oorlog nie.” “Daarna sal 'n slegte man koning van die noorde word. Hy sal nie 'n seun van 'n koning wees nie, maar hy sal koning word omdat hy skelm is. Hy sal die leiers doodmaak wat teen hom wil oorlog maak, ook die leier van God se volk. Hierdie slegte man is die leier van min mense, maar hy sal ooreenkomste maak met baie mense en hy sal baie ooreenkomste breek. Daarom sal hy 'n sterk leier word. “Hy sal kom in 'n land waar daar baie ryk mense is, niemand sal hom kan keer nie. Hy sal doen wat die konings voor hom nie gedoen het nie. Hy sal al die goed wat hy daar vat, vir sy mense gee. Hy sal slim planne maak om oorlog te maak teen die stede wat sterk mure het. Maar hy sal dit nie lank doen nie. “Dan sal hy baie soldate bring om oorlog te maak teen die koning van die suide, en die koning van die suide sal gereedmaak om oorlog te maak. Die koning van die suide sal baie en sterk soldate bymekaarmaak, maar hy sal die oorlog verloor, want sy eie mense sal planne maak teen hom. Mense in sy eie huis sal hom laat verloor. Sy soldate sal vlug, en baie soldate sal sterf. Die twee konings sal saam eet, maar hulle sal vir mekaar lieg en hulle sal slegte planne maak teen mekaar. Hulle sal nie kan doen wat hulle wil doen nie, want God het besluit hulle sal nie meer konings wees nie. “Die koning van die noorde sal teruggaan na sy land en hy sal baie goed saamvat. Hy sal slegte dinge doen aan die gewyde mense. Dan sal hy teruggaan na sy land. God het 'n verbond gemaak met die gewyde mense. “Wanneer God besluit het dit is die regte tyd, dan sal die koning van die noorde weer na die suide kom, maar dit sal nie wees soos voorheen nie. Die Romeine sal met skepe kom om oorlog te maak teen die koning van die noorde, en hy sal skrik en teruggaan na sy land. Maar eers sal hy weer slegte dinge doen aan die gewyde mense, God het 'n verbond gemaak met die gewyde mense. Hy sal vriendelik wees met die mense wat ontrou is aan God se verbond.

DANIËL 11:1-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN ek, in die eerste jaar van Daríus, die Meder, het ek opgetree as 'n versterking en beskutting vir hóm. EN nou sal ek jou die waarheid te kenne gee. Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland. Dan sal 'n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos hy wil. En as hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie — want sy koninkryk sal verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander. En die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy owerstes sal sterker word as hy en heers; sy heerskappy sal 'n groot heerskappy wees. En ná verloop van jare sal hulle 'n bondgenootskap met mekaar aangaan, en die dogter van die koning van die Suide sal na die koning van die Noorde kom om vrede te sluit; maar sy sal die krag van die arm nie behou nie — hy en sy mag sal nie standhou nie, en sy self sal prysgegee word saam met die wat haar gebring het, sowel as hy wat haar verwek het en haar in dié tyd verwerf het. Dan sal een uit die spruite van haar wortels in sy plek oprys en teen die leër optrek, en hy sal in die vesting van die koning van die Noorde indring en teen hulle optree en magtig wees; ja, ook hulle gode en hulle gegote beelde saam met hulle kosbare voorwerpe, silwer en goud, in gevangenskap na Egipte bring, en hy sal jare lank die koning van die Noorde met rus laat. Dan sal dié in die koninkryk van die koning van die Suide intrek, maar hy sal na sy land terugtrek. En sy seuns sal hulle in die oorlog begewe en 'n menigte groot leërs versamel; en hy sal sekerlik aankom en instroom en oorloop, en weer terugkom, en hulle sal oorlog voer tot by sy vesting. Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg, wat ook 'n groot menigte op die been sal bring, maar hierdie menigte sal in sy hand oorgegee word. As die menigte vernietig is, sal sy hart hom verhef; en hy sal tienduisende neerslaan, maar nie sterk bly nie. Dan sal die koning van die Noorde weer 'n groter menigte op die been bring as die eerste, en ná verloop van tyd, van jare, sal hy sekerlik kom met 'n groot leër en 'n groot gevolg. En in dié tye sal baie teen die koning van die Suide opstaan, en die gewelddadige mense van jou volk sal hulle verhef om 'n gesig in vervulling te laat gaan, maar hulle sal omkom. So sal dan die koning van die Noorde kom en 'n wal opwerp en 'n versterkte stad inneem; en die leërs van die Suide sal nie standhou nie, selfs sy uitgesoekte manskappe nie, sodat daar geen krag sal wees om stand te hou nie. En hy wat uit die Noorde teen hom kom, sal maak net soos hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie; hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land, terwyl daar verdelging in sy hand is. En hy sal sy aangesig daarop rig om met die sterkte van sy hele koninkryk te kom, maar hy sal met hom vrede sluit; en hy sal vir hom 'n jongedogter gee om die land te gronde te rig. Maar dit sal nie tot stand kom nie, en daar sal niks vir hom wees nie. Daarna sal hy sy aangesig wend na die kuslande en baie daarvan verower; maar 'n aanvoerder sal aan sy gesmaad 'n einde maak, ja, hy sal sy gesmaad op homself laat terugval. Dan sal hy sy aangesig wend na die vestings van sy land, maar hy sal struikel en val en nie meer gevind word nie. En in sy plek sal iemand optree wat 'n geldinsamelaar deur die pragtigste deel van die koninkryk sal laat deurtrek, maar binne enkele dae sal hy verbreek word, maar nie deur toorn of deur oorlog nie. Daarna sal 'n veragtelike in sy plek optree op wie geen koninklike waardigheid gelê was nie, maar hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk bemagtig. En die leërs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek word, en ook die vors van die verbond. Want sodra 'n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog; en hy sal omhoog kom en met min manskappe sterk word. Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir 'n tyd. En hy sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met 'n groot leër; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met 'n groot en baie sterk leër, maar hy sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom beraam. En die wat sy spys eet, sal hom te gronde rig; en sy leër sal wegvloei, en daar sal baie gesneuweldes lê. En wat die twee konings betref, hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees. En hy sal na sy land teruggaan met baie goed, en sy hart sal teen die heilige verbond wees, en hy sal optree en na sy land teruggaan. Op die vasgestelde tyd sal hy terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie. Want skepe van die Kittiërs sal teen hom kom, en hy sal moedeloos word; dan sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree; en hy sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het.

DANIËL 11:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

“In die eerste regeringsjaar van Darius die Mediër het ek opgetree om hom te bemoedig en te beskerm. Wat ek jou nou gaan vertel, staan vas. Daar sal nog drie konings oor Persië regeer, en dan 'n vierde, wat ryker as al die voriges sal wees. As hy deur sy rykdom magtig geword het, sal hy die hele wêreld teen die Griekse ryk opsweep. Dan sal 'n dapper koning op die toneel verskyn wat oor 'n groot ryk sal regeer en sal maak wat hy wil. Maar sy mag sal skaars gevestig wees of sy koninkryk sal opgebreek en volgens die vier windstreke verdeel word. Dit sal nie na sy nakomelinge oorgaan nie. Sy koninkryk sal omgekeer word en na heeltemal ander persone toe oorgaan, en hulle sal nie die mag hê waaroor hy beskik het nie. “Die koning van die suide sal sterk word, maar een van sy generaals sal nog sterker word as hy en sal oor 'n baie groot ryk heers. Na verloop van tyd sal hulle met mekaar 'n bondgenootskap aangaan, en die dogter van die koning van die suide sal aan die koning van die noorde as vrou gegee word om die bondgenootskap te bekragtig. Sy sal egter nie haar invloed daar behou nie, en haar pa sal geen gesag daar hê nie. Sy en dié wat haar gebring het, en ook haar pa en haar man, sal in dié tyd ondergaan. In haar pa se plek sal een van haar familielede koning word, teen die leër van die koning van die noorde optrek, sy vesting binnedring en as oorwinnaar met die inwoners doen wat hy wil. Hy sal ook hulle gode en hulle beelde met hulle skatte van silwer en goud na Egipte toe wegvoer. Dan sal hy die koning van die noorde 'n aantal jare met rus laat. Dié sal sy gebied binneval, maar sal die aftog moet blaas terug na sy land toe. “Sy seuns sal hulle vir oorlog klaarmaak en groot leërs bymekaarmaak. Een van hulle sal al verder en verder opruk soos 'n vloedgolf wat alles oorspoel, en hy sal uiteindelik die vesting van die koning van die suide aanval. Dié sal woedend teen hom, die koning van die noorde, optrek en die groot leër wat hy byeengebring het, verslaan. Wanneer die leër gevange geneem is, sal die koning van die suide selfvoldaan raak. Hy sal tienduisende verslaan, maar tog nie die oorwinnaar bly nie. Die koning van die noorde sal terugkom nadat hy 'n groter leër op die been gebring het as die vorige, en na verloop van 'n aantal jare sal hy sy verskyning maak met 'n groot en goed toegeruste leër. In daardie tyd sal baie teen die koning van die suide in opstand kom, en ook uit jou volk sal mense wat geweld voorstaan, in opstand kom met die gedagte dat 'n visioen so in vervulling gaan, maar hulle sal verslaan word. “Dan sal die koning van die noorde 'n vestingstad beleër en dit inneem, en die magte van die suide sal nie kan standhou nie. Selfs die keurtroepe sal nie sterk genoeg wees om hom teë te hou nie. Hierdie invaller sal maak soos hy wil, niemand sal hom in die weg staan nie. Hy sal ook die beloofde land in besit neem en dit ten volle in sy mag kry. Hy sal besluit om die volle krag van sy koninkryk teen die koning van die suide in die stryd te werp en sal, om dié se koninkryk te vernietig, met hom 'n bondgenootskap sluit en dit bekragtig deur aan hom 'n besonderse meisie as vrou te gee. Die plan sal egter nie geluk nie, daar sal niks van kom nie. Dan sal die koning van die noorde hom toelê op die kusgebiede en baie verower, maar daar sal aan sy vermetele optrede 'n einde gemaak word deur 'n ander leier vir wie hy nie in gelyke munt sal kan terugbetaal nie. Hy sal koers kies na die vestings toe in sy eie land, maar hy sal verslaan word en tot 'n val kom, en dan is dit klaar met hom. Hy sal opgevolg word deur iemand wat 'n belastinggaarder sal aanstel om die rykdom van die koninkryk te vergroot. Dié koning sal binne enkele jare om die lewe gebring word, maar nie in die openbaar of in 'n geveg nie. “Hy sal opgevolg word deur 'n veragtelike persoon wat geen koninklike status besit nie, maar wat sy weg sal baan terwyl die mense niks vermoed nie en wat die mag sal kry deur slinksheid. Hy sal die leërs van die instromende mag voor hom wegvee en uitwis, ook die leier van die verbondsvolk. Die veragtelike persoon sal troubreuk pleeg teen die bondgenootskappe wat met hom aangegaan word en hy sal groot en sterk word, al is sy nasie klein. Hy sal ryk gebiede van 'n provinsie onverwags binnegaan en doen wat sy voorgangers nie kon regkry nie: hy sal wat hy buit en roof en in besit kry, uitdeel. Hy sal vestingstede met slim planne in die hande kry, maar dit sal van korte duur wees. “Hy sal al sy krag inspan teen die koning van die suide en hom aandurf met 'n groot leër. Die koning van die suide sal hom met 'n groot en sterk leër gereed maak vir die geveg, maar hy sal nie standhou nie omdat daar sameswerings teen hom sal wees. Mense aan sy eie hof sal hom breek. Sy leër sal oorweldig word, en baie van sy soldate sal sneuwel. Die twee konings sal bose planne in die mou voer en sal mekaar aan dieselfde tafel sit en belieg, maar dit sal hulle nie baat nie, want hulle einde is klaar bepaal. “Dan sal die koning van die noorde met baie besittings na sy land toe terugkeer, maar hy sal eers optree teen die gewyde verbondsvolk. Nadat hy dit gedoen het, sal hy teruggaan na sy eie land toe. “Op die bestemde tyd sal hy die suide weer binneval, maar hierdie keer sal dit nie weer gaan soos die vorige keer nie. Skepe van die westelike kuslande sal teen hom optrek en hy sal skrik en omspring. Dan sal hy sy woede kom koel op die gewyde verbondsvolk deur die raad te volg van dié wat afvallig geword het van die gewyde verbondsvolk.

DANIËL 11:1-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ ‘ Wat my betref, in die eerste regeringsjaar van Darius, die Meder, het ek vasgestaan as 'n ondersteuner, as 'n vesting vir hom. En nou deel ek jou die waarheid mee: Kyk, nog drie konings gaan opstaan vir Persië. Die vierde sal groter rykdom byeenbring as al die ander. En wanneer hy deur sy rykdom sterk word, sal hy almal aanhits teen die koninkryk van Jawan. Dan sal 'n heldhaftige koning opstaan. Hy sal met baie mag heers en doen wat hy wil. Maar hy sal pas 'n staanplek hê, dan sal sy koninkryk opgebreek en verdeel word in die vier windstreke van die hemel. Dit sal nie aan sy nakomelinge behoort nie, en dit sal nie wees soos die magsgebied waaroor hy geheers het nie, want sy koninkryk sal opgebreek word en, met uitsluiting van sy nageslag, aan ander behoort. “ ‘Die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy •aanvoerders sal die oorhand oor hom kry en dan heers. Sy heerskappy sal 'n heerskappy met baie mag wees. Ná verloop van jare sal hulle 'n bondgenootskap sluit, en die koning van die Suide se dogter sal na die koning van die Noorde kom om die ooreenkoms te bekragtig. Maar sy sal nie die militêre mag behou nie. Die koning van die Suide se mag sal ook nie standhou nie. Sy sal in dié tyd oorgelewer word – sy en haar gevolg, sowel as hy wat haar verwek het, en hy wat haar ondersteun het. Dan sal een van die spruite uit haar wortels in sy plek opstaan. Hy sal teen die leër optrek en die vesting van die koning van die Noorde binnedring; hy sal teen hulle optree en hulle oorweldig. Ook hulle gode met hulle gegote beelde en hulle kosbare voorwerpe – silwer en goud – sal hy wegvoer na Egipte; en jare lank sal hy die koning van die Noorde met rus laat. Dié sal dan die koninkryk van die koning van die Suide binneval, maar hy sal na sy land terugkeer. “ ‘Sy seuns sal vir oorlog gereedmaak en 'n menigte groot leërs byeenbring. Dié menigte sal die land binneval; hulle sal binneval, instroom en oorstroom, dan terugval, en daarna deurdring tot by sy vesting. Die koning van die Suide sal briesend kwaad wees. Hy sal uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg. Dié sal weer 'n groot menigte op die been bring, maar die menigte sal in sy teenstander se hand oorgegee word. Wanneer die menigte uit die weg geruim is, sal die koning van die Suide verwaand raak en tienduisende neerwerp, maar nie sterk bly nie. “ ‘Dan sal die koning van die Noorde terugkeer en 'n menigte op die been bring, meer as die eerste keer. Ná verloop van tyd, ná jare, sal hy beslis kom met 'n groot leër en met baie toerusting. In daardie tydperke sal baie in opstand kom teen die koning van die Suide. Die gewelddadiges van jou volk sal hulle laat geld om 'n visioen te verwerklik, maar hulle sal tot 'n val kom. Die koning van die Noorde sal kom, 'n beleëringswal ophoop en 'n versterkte stad inneem. Die magte van die Suide sal nie standhou nie, ook nie die keurtroepe nie, en daar sal geen krag meer wees om weerstand te bied nie. Hy wat teen die Suide optrek, sal doen net wat hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie. Hy sal hom vestig in die land van die Sieraad en volslae vernietiging sal in sy hand wees. Hy sal hom voorberei om met die volle mag van sy koninkryk te kom, maar sal tog 'n ooreenkoms aangaan en 'n dogter van een van sy vroue aan die koning van die Suide gee om die koninkryk te vernietig. Maar dit sal nie slaag nie, en dit sal nie tot sy voordeel strek nie. Dan sal hy sy aandag vestig op die eilande en baie daarvan inneem, maar 'n •aanvoerder sal sy onbeskaamdheid vir hom tot 'n einde bring; sy onbeskaamdheid sal hy hom vergeld. Daarna sal die koning van die Noorde draai teen die vestings in sy eie land, maar hy sal tot 'n val kom. Hy sal val en nie meer gevind word nie. “ ‘ In sy plek sal iemand opstaan wat 'n belastinggaarder rondstuur om die koninklike weelde in stand te hou; maar binne enkele dae sal hy verpletter word, egter nie deur toorn of deur oorlog nie. “ ‘ Dan sal 'n veragtelike persoon in sy plek opstaan aan wie die mense geen koninklike waardigheid toegeken het nie. Hy sal onverhoeds kom en op 'n slinkse wyse die koningskap oorneem. Die instromende magte sal voor hom weggespoel en verpletter word, selfs die leier van die verbond. Nadat 'n bondgenootskap met hom aangegaan is, sal hy bedrog pleeg; so sal hy met min mense opgang maak en sterk word. Hy sal onverwags in die ryk dele van 'n provinsie ingaan en doen wat sy vaders en grootvaders nie gedoen het nie: Buit, geroofde goed en besittings sal hy vir hulle uitdeel. Teen versterkte stede sal hy sy planne beraam, maar net vir 'n tyd lank. “ ‘Hy sal krag en moed bymekaarskraap om met 'n groot leër teen die koning van die Suide op te trek. Die koning van die Suide sal gereedmaak vir die geveg met 'n groot en besonder sterk leër; maar hy sal nie staande bly nie, want hulle sal planne teen hom beraam. Hulle wat van sy kos eet, sal hom breek; sy leër sal oorweldig word, en baie gewondes sal val. En die twee konings, hulle albei, sal kwaad beplan in hulle harte, en terwyl hulle aan dieselfde tafel is, mekaar belieg. Maar dit sal nie slaag nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees. Die koning van die Noorde sal terugkeer na sy land met baie besittings, maar sy hart sal teen die heilige verbond gerig wees. So sal hy optree en terugkeer na sy land. “ ‘ Op die vasgestelde tyd sal hy weer na die Suide gaan, maar dit sal die tweede keer nie wees soos die eerste keer nie. Skepe van die Kittiërs sal teen hom opruk, en hy sal bang word. Hy sal omdraai en 'n vervloeking uitspreek teen die heilige verbond, en dienooreenkomstig optree. Hy sal terugkeer en aandag gee aan hulle wat die heilige verbond versaak het.

DANIËL 11:1-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek het ook in die eerste jaar van Daríus, die Meder, gestaan om hom te bevestig en te versterk. En nou sal ek jou die waarheid te kenne gee. Kyk, daar sal nog drie konings in Persië opstaan; en die vierde sal baie ryker wees as hulle almal, en deur sy krag deur sy rykdom sal hy almal opwek teen die ryk van Griekeland. En 'n magtige koning sal opstaan, wat met groot heerskappy sal heers en handel volgens sy wil. En as hy opstaan, sal sy koninkryk verbreek word en verdeel word na die vier windstreke van die hemel; en nie vir sy nageslag of volgens sy heerskappy waaroor hy geheers het nie; want sy koninkryk sal uitgeruk word, ook vir ander buiten hulle. En die koning van die Suide sal sterk wees, en een van sy vorste; en hy sal sterk wees bo hom en heers; sy heerskappy sal 'n groot heerskappy wees. En aan die einde van die jare sal hulle bymekaarkom; want die koning se dogter van die Suide sal na die koning van die Noorde kom om 'n ooreenkoms te sluit; maar sy sal die mag van die arm nie behou nie; en hy sal nie staan nie, ook nie sy arm nie, maar sy sal oorgegee word, en die wat haar gebring het en die wat haar verwek het, en hy wat haar versterk het in hierdie tye. Maar uit 'n tak van haar wortels sal een in sy land opstaan, wat met 'n leër sal kom en in die vesting van die koning van die Noorde sal ingaan en teen hulle sal handel en oorwin. En hulle sal ook hulle gode, met hulle vorste en met hulle kosbare voorwerpe van silwer en goud, in ballingskap na Egipte bring; en hy sal langer bly as die koning van die Noorde. Daarom sal die koning van die Suide in sy koninkryk kom en na sy land terugkeer. Maar sy seuns sal opgewek word en 'n menigte groot leërs bymekaarmaak; en een sal beslis kom en oorstroom en deurtrek; dan sal hy terugkeer en in beroering kom tot by sy vesting. En die koning van die Suide sal onrustig wees en uittrek en teen hom veg, teen die koning van die Noorde; en hy sal 'n groot menigte op die been bring; maar die skare sal in sy hand oorgegee word. En as Hy die skare wegneem, sal sy hart verhewe wees; en hy sal baie tienduisende neerwerp, maar daardeur sal hy hom nie versterk nie. Want die koning van die Noorde sal terugkom en 'n menigte groter as die voriges oprig, en sal beslis na verloop van sekere jare kom met 'n groot leër en met baie rykdom. En in dié tye sal daar baie opstaan teen die koning van die Suide; ook sal die rowers van jou volk hulle verhef om die gesig te bevestig; maar hulle sal val. Daarom sal die koning van die Noorde kom en 'n berg oprig en die mees versterkte stede inneem; Maar hy wat teen hom kom, sal handel volgens sy wil, en niemand sal voor hom standhou nie; en hy sal staan in die heerlike land wat deur sy hand verteer sal word. Hy sal ook sy aangesig rig om in te gaan met die sterkte van sy hele koninkryk, en die opregtes saam met hom; so moet hy doen: en hy sal hom 'n dogter van die vroue gee, haar verderf; maar sy sal nie aan sy sy staan en nie vir hom wees nie. Daarna sal hy sy aangesig na die eilande wend en baie inneem; sonder sy eie smaad sal hy dit op hom laat draai. Dan sal hy sy aangesig wend na die vesting van sy land, maar hy sal struikel en val en nie gevind word nie. Dan sal in sy eiendom 'n verhoging van belasting opstaan in die heerlikheid van die koninkryk; maar binne enkele dae sal hy vernietig word, nie in toorn of in oorlog nie. En in sy eiendom sal 'n gemene persoon opstaan, aan wie hulle die eer van die koninkryk nie sal gee nie; maar hy sal in vrede inkom en die koningskap verkry deur vleiery. En met die arms van 'n vloed sal hulle voor sy aangesig oorstroom en verbreek word; ja, ook die owerste van die verbond. En nadat die verbond met hom gesluit is, sal hy bedrieglik werk, want hy sal optrek en sterk word saam met 'n klein volk. Hy sal vreedsaam ingaan tot in die vetste plekke van die provinsie; en hy moet doen wat sy vaders en sy vaders nie gedoen het nie; prooi en buit en rykdom sal hy onder hulle verstrooi; ja, en hy sal sy planne teen die vestings uitreik, ja, vir 'n tyd. En hy sal sy krag en sy moed verwek teen die koning van die Suide met 'n groot leër; en die koning van die Suide sal aangehits word om te veg teen 'n baie groot en magtige leër; maar hy sal nie bestaan nie, want hulle sal planne teen hom voorspel. Ja, die wat die deel van sy spys voed, sal hom vernietig, en sy leër sal oorstroom, en baie sal gesneuweldes omval. En albei hierdie konings se harte sal wees om kwaad te doen, en hulle sal leuens aan een tafel spreek; maar dit sal nie voorspoedig wees nie, want nogtans sal die einde wees op die vasgestelde tyd. Dan sal hy na sy land terugkeer met groot rykdom; en sy hart sal wees teen die heilige verbond; en hy sal dade doen en na sy land terugkeer. Op die vasgestelde tyd moet hy teruggaan en na die suide kom; maar dit sal nie wees soos die eerste of soos die laaste nie. Want die skepe van Kittim sal teen hom aankom; daarom sal hy bedroef wees en terugkom en verontwaardig wees teen die heilige verbond; so sal hy doen; hy sal ook terugkom en verstand hê met die wat die heilige verbond verlaat.

DANIËL 11:1-30 Die Boodskap (DB)

“Ek en Migael staan reeds sedert die eerste jaar van koning Darius die Mediër se regering sy aan sy om mekaar te help en te versterk.” “Wat ek jou nou gaan vertel, is die waarheid. Daar gaan nog drie konings oor Persië regeer. Na hulle kom daar ’n vierde koning, wat baie ryker as die ander gaan wees. Sy rykdom sal hom baie invloedryk maak en hy sal dit gebruik om al die ander wêreldmagte op te sweep om teen Griekeland in opstand te kom. Dan sal ’n dapper koning op die toneel verskyn. Hy sal oor ’n groot en magtige ryk regeer en doen net wat hy wil. Maar net sodra hy dink dat hy in beheer is, sal sy koninkryk uitmekaarskeur en in vier dele verdeel word. Dit sal nie sy kinders wees wat oor hierdie koninkryke regeer nie. Sy magtige ryk sal soos ’n boom ontwortel word en vir ander gegee word om op ’n ander plek te plant. Daarom sal dit nooit weer so magtig wees soos sy ryk nie. “Die koning van die suide sal ’n magtige koning wees, maar een van sy generaals sal nog magtiger as hy word en selfs oor ’n nog groter koninkryk as hy regeer. Later sal die koning van die noorde ’n ooreenkoms aangaan met die koning van die suide. Dan sal die koning van die noorde met die koning van die suide se dogter trou. Ongelukkig sal sy en haar pa hulle invloed oor hom verloor. Uiteindelik sal sy, haar pa, haar man en al haar volgelinge doodgemaak word. Nie lank daarna nie sal een van haar familielede koning word. Hy sal hom gereedmaak vir oorlog teen die koning van die noorde en hom verslaan. Hy sal hulle afgodsbeelde en hulle kosbare skatte van silwer en goud saam met hom terugvat Egipte toe. Vir ’n paar jaar sal daar weer vrede wees, totdat die koning van Sirië besluit om Egipte aan te val, maar hy sal nie wen nie. “Sy seuns sal hulle later vir oorlog klaarmaak en ’n groot leër bymekaarmaak. Hulle sal soos ’n vloedgolf water aangerol kom tot by een van die hoofstede van die koning van die suide. Dit sal die koning van die suide so kwaad maak dat hy die koning van die noorde sal aanval en verslaan. Hy sal baie trots en vol van homself wees oor sy oorwinning en oor al die vyande wat hy doodgemaak het. Maar sy oorwinning sal van korte duur wees. “Die koning van die noorde sal teruggaan na sy land toe en vir hom nog ’n groter leër as die vorige keer bymekaarmaak. Later sal hy terugkom, maar hierdie keer met ’n baie sterker leër as voorheen. Baie mense sal dan in opstand kom teen die koning van die suide. Selfs van jou eie volk se rebelle sal daaraan deelneem. Maar hulle gaan in die moeilikheid beland. Dan sal die koning van die noorde een van die hoofstede omsingel, die mense uithonger en dit later inneem. Alhoewel die troepe van die suide baie dapper sal veg, sal hulle nie kan uithou nie. Selfs nie eers hulle beste soldate sal sterk genoeg wees nie. Die koning van die noorde sal doen net wat hy wil en niemand sal in sy pad staan nie. Hy sal ook in die Beloofde Land intrek en dit oorneem. Hy sal planne maak om sy volle weermag teen die koning van die suide te gebruik om hom te verslaan. As deel van die plan sal hy met die koning van die suide ’n ooreenkoms sluit en selfs sy dogter met hom laat trou. Maar hierdie plan sal nie slaag nie. Dan sal die koning van die noorde die kusgebiede inneem. Maar ’n sterk leier van ’n ander gebied sal ’n einde maak aan sy arrogante optrede. Hy sal hom in eie munt terugbetaal. Hierna sal die koning van die noorde na sy eie land toe teruggaan as ’n verslane man. Dit sal sy einde wees. Sy opvolger sal ’n belastingbeampte aanstel wat die koning sal verryk. Hy sal nie baie lank regeer voordat hy doodgemaak word nie. Dit sal nie as gevolg van oorlog of ’n openbare verhoor wees nie. “Hy sal opgevolg word deur ’n slegte man wat nie die reg het om koning te wees nie. Maar hy sal niksvermoedende mense om die bos lei met sy skelm planne en die koningskap oorneem voordat hulle hulle oë kan uitvee. Hy sal enige mag wat hom probeer teëstaan, uit die pad vee, selfs ook die hoëpriester van God se eie volk. Hy sal deur leuens en skelmstreke met baie ander lande ooreenkomste sluit om homself te bevoordeel. Al regeer hy oor ’n klein volkie, sal hy al hoe magtiger word. Hy sal sonder waarskuwing een van die rykste provinsies binneval en vieslike dinge doen waarvan sy voorgangers nie eens gedroom het nie: hy sal die buit wat hy van die rykes gevat het vir sy volgelinge gee om dit onder hulle te verdeel. Hy sal ook planne maak om van die versterkte stede van die ander volke aan te val, maar dit sal nie lank wees voor die uurglas vir hom leegloop nie. “Dan sal hy ’n groot leër bymekaarmaak om die koning van die suide aan te val. Die koning van die suide sal hom inwag met sy eie sterk en groot leër, maar dit sal hom niks baat nie, omdat daar stilletjies ’n komplot teen hom gesmee is. Sy vertrouelinge sal hom in die rug steek. Baie van sy soldate sal in die geveg doodgaan en sy leër sal verslaan word. Die twee konings sal om die tafel vir mekaar sit en lieg. Dit sal in elk geval nie help nie, want nie een van hulle sal kry wat hulle wil hê nie, omdat God anders besluit het. “Hierna sal die koning van die noorde met al sy oorlogsbuit omdraai huis toe. Op pad terug sal hy eers probeer om God se verbondsvolk en hulle godsdiens uit te roei. Nadat hy met hulle gedoen het wat hy wou, sal hy uiteindelik koers kies terug huis toe. “Later sal hy weer die suide binneval, maar hierdie keer sonder sukses. Die Romeine sal met hulle vloot teen hom optrek en dit sal hom vinnig van besluit laat verander. Om sy vernedering te wreek sal hy sy woede op God se verbondsvolk kom uithaal. Daar sal hy luister na die mense wat nie meer in God glo nie.

DANIËL 11:1-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Sedert die eerste regeringsjaar van Darius die Mediër het ek Migael bygestaan en hom ondersteun. Ek gaan nou die waarheid aan jou bekendmaak. Kyk, daar sal nog drie konings oor die Perse regeer. Dan sal daar ’n vierde koning kom wat baie ryker is as hulle almal. Hy sal sy rykdom gebruik om al sterker te word. Hy sal dan almal opsweep teen die koninkryk van die Grieke. “Daarna sal ’n baie sterk koning aan bewind kom wat oor ’n uitgestrekte koninkryk sal heers. Hy sal maak nes hy wil. Op die kruin van sy mag sal sy koninkryk uitmekaarbreek en in die vier windrigtings spat. Dit sal nie na sy nageslag oorgaan nie. Dit sal ook nie langer die mag hê soos voorheen nie. Sy koninkryk sal opgebreek word en in die hande van vreemde mense beland. “’n Koning uit die suide sal sterk word. Een van sy aanvoerders wat sterker as hy sal wees, sal as ’n magtige koning oor sy koninkryk heers. “’n Paar jaar later sal ’n ooreenkoms gesluit word. Die dogter van die koning van die suide sal met die koning van die noorde trou om die ooreenkoms te bevestig. Sy sal egter haar invloed verloor. Die koning self sal ook nie bly regeer nie. Die vrou en dié wat haar na hom gebring het, haar pa en haar ondersteuners, sal in daardie tyd in die steek gelaat word. Een van haar familielede sal met ’n leërmag opruk en die vesting van die koning van die noorde binneval en dit oorrompel. Wanneer hy teruggaan Egipte toe, sal hy gode wat gegiet is en kosbare voorwerpe van silwer en goud as buit saam met hom neem. Hy sal die koning van die noorde vir ’n geruime tyd met rus laat. “Die koning van die noorde sal dan die magsgebied van die koning van die suide inval en daarna weer na sy eie grondgebied teruggaan. Sy seuns sal egter ’n groot leër bymekaarmaak en die suide soos ’n vloedgolf binneval. Hulle sal opruk tot by die suidelike koning se vesting en dit inval. Daarna sal hulle weer na hulle eie grondgebied terugkeer. Die koning van die suide sal dan met ’n groot leër wat hy op die been gebring het, woedend opruk teen die koning van die noorde. Hy sal teen hom oorlog maak en hom en sy leërmag oorwin. Wanneer hierdie groot leër op die vlug slaan, sal die koning van die suide trots raak en tienduisende van hulle doodmaak. Sy oorwinning sal egter nie lank hou nie. “Die koning van die noorde sal ’n leër op die been bring wat nog groter is as die vorige. Na ’n paar jaar sal hy terugkom en met ’n geoefende en goed toegeruste weermag opruk. In daardie tyd sal baie teen die koning van die suide in opstand kom. Gewelddadige mense uit jou volk sal gewerf word om die visioen te verwesenlik. Hulle sal egter misluk. Die koning van die noorde sal dan kom en een van die versterkte vestings beleër. Hy sal dit inneem. Die mag van die koning van die suide sal hom nie kan teenstaan nie. Selfs sy beste manskappe sal hom nie kan keer nie. “Die koning van die noorde sal oorwinnend opmarsjeer en niemand sal hom kan stuit nie. Hy sal opruk na die mooi land van Israel om dit te vernietig. Hy sal dan besluit om op die sterkte van die mag van sy koninkryk met die koning van die suide ’n ooreenkoms te sluit. Hy sal hom met een van sy vroue se dogters laat trou om hom onderdanig te hou. Die plan sal egter nie vir hom uitwerk nie. “Hy sal ook besluit om groot kusgebiede te verower. ’n Ander leier sal egter ’n stokkie voor sy planne steek en hy sal onverrigter sake moet teruggaan. Hy sal terugkeer na die vesting in sy land. Hy sal egter daar van sy troon gestoot word en tot ’n val kom. Hy sal van die toneel verdwyn. “Sy opvolger sal ’n afgevaardigde stuur om belasting te hef vir die onderhoud van die koninkryk. Hy sal egter na ’n kort tydjie sterf, maar nie deur geweld of deur oorlog nie. “In sy plek sal ’n aanstootlike persoon koning word wat nie uit die koningsgeslag is nie. Hy sal ongemerk insluip en met omkopery die mag oorneem. Sterk leërmagte sal voor hom weggevee en vernietig word, selfs ’n leier met wie hy ’n ooreenkoms het. Hy sal deur bedrog ooreenkomste sluit. Met slegs ’n handjievol ondersteuners sal hy sterk word. Hy sal stil-stil in die ryk gebiede van die land kom en iets doen wat sy voorouers en hulle voorouers nooit gedoen het nie: hy sal hierdie gebiede roof en plunder. Hy sal planne beraam teen vestings, maar dit sal net vir ’n tydjie aanhou. “Dan sal hy gereedmaak en met ’n sterk leër teen die koning van die suide optrek. Die koning van die suide sal ook ’n baie groot en sterk weermag teen hom op die been bring. Hy sal egter nie teen hom opgewasse wees nie, want daar is ’n slim plan teen hom beraam. Sy eie mense sal hom doodmaak. Sy manskappe sal oorweldig word en baie van hulle sal omkom. Die twee konings sal vol listige planne om een tafel sit en mekaar bedrieg. Hulle planne sal egter nie slaag nie, want hulle einde is klaar bepaal. “Die koning van die noorde sal met groot rykdom terugkeer na sy land toe. Op pad terug sal hy egter optree teen die mense van God se verbond. “Op die bepaalde tyd sal hy weer terugkom en teen die suide opruk. Dit sal hierdie keer egter nie soos die eerste keer wees nie. Oorlogskepe uit die westelike seegebiede sal teen hom uitvaar en hy sal bang word en omdraai huis toe. Hy sal sy woede uithaal op die mense van God se verbond. Hy sal hulle beloon wat hulle rug op God se verbond gedraai het.