Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigiemand 'n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.
Vroue, julle moet onderdanig wees aan julle mans, soos dit gepas is vir mense in die Here. Mans, julle moet julle vroue liefhê, en nie verbitterd teenoor hulle raak nie. Kinders, julle moet julle ouers in alle opsigte gehoorsaam, omdat dit vir die Here aanneemlik is. Vaders, julle moenie julle kinders treiter, sodat hulle moedeloos word nie. Slawe, julle moet julle aardse eienaars in alle opsigte gehoorsaam – nie met oëdiens asof julle mense wil behaag nie, maar met 'n opregte hart, uit ontsag vir die Here. Wat julle ook al doen, werk met geesdrif, soos vir die Here, en nie soos vir mense nie, in die wete dat julle 'n erfdeel as beloning van die Here sal ontvang; want julle staan in diens van die Here •Christus.