want God het dit goedgevind
om die hele volheid
in Hom te laat woon,
en om deur Hom alles,
ja, alles op aarde en in die hemel,
met Homself te versoen,
deurdat Hy vrede gebring het
deur sy bloed aan die kruis.
Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het.
Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja, met my liggaam vul ek die oorblywende deel van die verdrukkinge van •Christus aan, tot voordeel van sy liggaam, die •kerk, waarvan ek 'n dienaar geword het, ooreenkomstig die bedieningstaak wat God aan my toevertrou het, om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak. Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy •heiliges bekend gemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus. Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer, in ooreenstemming met sy krag, wat met mag in my werk.